Oom Daantjie se stem is stil
Legende in rugby- en sakewêreld sterf
Andrew Poolman
Die alombekende mnr. Daantjie Louw (82) se afsterwe gister laat 'n onvervangbare leemte wat oral in Namibië gevoel sal word.
As eienaar van Danlou Motors en jare lange president van die Wanderers-rugbyklub het Oom Daantjie geen bekendstelling nodig gehad nie. Die jaarlikse Wanderers Miljoendollartrekking is maar net een aspek van sy nalatenskap.
In onlangse jare het Oom Daantjie vanweë hartversaking met gesondheid begin swaarkry en het gevolglik sy betrokkenheid by beide sy motorhandelaarskap én Wanderers-rugby beduidend afgeskaal.
Nogtans het hy nog gereeld Wanderers se rugbywedstryde bygewoon.
Sy enigste seun, Flip, wat deesdae voorsitter van Wanderers-rugby is en ook 'n prominente rol in Danlou Motors het, sê Oom Daantjie het gisteroggend nog ontbyt by van sy vriende gehad.
“Hulle sê hy was nog vol grappies soos gewoonlik. Ek het later met hom gepraat en hy het gesê hy wil bietjie in die tuin gaan werk. Dit is waar hy ineengesak en gesterf het.”
Oom Daantjie is op 29 Augustus 1935 op Loeriesfontein gebore en het in die 1950's saam met sy ouers na Namibië verhuis, waar hulle later op die plaas Louwsville geboer het. Die familie het in 1965 permanent Windhoek toe getrek, waar Oom Daantjie in 1971 sy handelaarsbesigheid, Danlou Motors, begin het.
As jong rugbyspeler (flank of voorryman) het Oom Daantjie in 1958 by Wanderers aangesluit. Hy is in 2010 saam met 'n handjie vol tydgenote vereer wat vir minstens 50 jaar lede van die sportklub was. Verlede jaar is hy met die onthulling van 'n bronsbeeld van hom by die klubhuis vereer.
Tussendeur het hy hom as sportadministrateur begin bekwaam en het in 1992 vir die eerste keer die jaarlikse Miljoendollartrekking van stapel gestuur. In 1998 het hy die president van die rugbyklub geword.
Republikein se veteraanjoernalis Des Erasmus onthou: “As jy Danlou Motors besoek het, sou jy soveel sportmanne aantref wat heeldag rugby gepraat het, dat jy gou vergeet het dat jy eintlik soontoe is om 'n kar te koop. Hy het sy aansien in die tweedehandse motorbedryf behou dat jy met 'n goeie produk daar sou wegry. “In rugbykringe het hy Meneer Wanderers geword.”
Oom Daantjie laat sy vrou, Dorie, seun en twee kleinkinders agter.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie