Oom Vim Botha word 100!
Oom Vim Botha word 100!

Oom Vim Botha word 100!

Francoise Steynberg
'n Inwoner van die Altersheim op Otjiwarongo, mnr. Vim Botha, het op 9 Mei 100 jaar oud geword.

Daniël Johannes Botha, alombekend as Vim, is op 9 Mei 1917 in Viljoenskroon in die destydse Vrystaat in Suid-Afrika gebore. Hy was sy ouers se vierde kind en tweede seun. Sy ma is vroeg oorlede en die gesin het, onder leiding van sy pa, mnr. Dawid Hercules Botha, in 1927 na die destydse Suidwes-Afrika verhuis.

Oom Vim was in die staatskool op Swakopmund, maar moes die skool vroeg verlaat om sy pa met boerdery op 'n plaas in die Kalkfeld-omgewing te help. In die veertigerjare het Vim en sy broer Pagel in die Ugabvallei op die plaas Geduld begin boer. Vir die twee jong boere was dit 'n moeilike tyd. Die plaas was nie omhein nie en die leeus en ander wilde diere was 'n voortdurende probleem.

Om 'n bykomende inkomste te verdien, het Vim 'n kalkoond gebou wat steeds op die plaas gesien kan word.

In 1942 is Vim met me. Sanetta Smith getroud en uit dié huwelik is vier seuns gebore: Danie, Johan, Christo en Gerhard. Nadat hulle 'n aantal jare op Geduld deurgebring het, het hulle na die plaas Tzaron verhuis. Vim het later ook die plaas Cunningham (ook bekend as Hererowater) gekoop. Dit het die familieplaas geword en die seuns het die grootste deel van hul jeug daar deurgebring.

Soos met alle boere destyds en vandag nog die geval is, was droogte 'n gereelde verskynsel. Van 1959 tot 1962 het die droogte met bek-en-klouseer saamgeval. Vim het met sy beeste na die plaas Maroelaboom in die Grootfontein-distrik getrek waar noodweiding beskikbaar was. Om die negatiewe effek van die droogte te oorkom, het hy, sy broer Marius en buurman, Steve Vermaak, 'n kontrak met die destydse Suidwes-Afrika Administrasie gesluit ingevolge waarvan hulle die pad tussen Okaukuejo en Halali (destyds bekend as Tweekoppies) sou gruis. Vir dié doel moes hulle masjinerie en gruislorries aankoop.

Oom Vim het op 24 September 2010 na die Altersheim op Otjiwarongo getrek waar hy steeds in die sorgeenheid is.

"Hy is bedlêend, maar sy brein is nog helder. Baie geluk met die mylpaal, Oom Wim, en beste wense vir die jare wat u nog saam met ons sal wees," lui 'n boodskap van die personeel en inwoners van die ouetehuis.

Oom Vim het sy 100ste verjaardag in die Altersheim met koek en tee saam met die personeel, inwoners en drie van sy vier seuns gevier.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!