Oomblik van waarheid het aangebreek, CR
Dit was ’n strategies goeie skuif van die ANC om, soos met die vorige verkiesings, net die beeld van sy president op sy verkiesingsplakkate te hê.
Philda Essop
Dit is voor die hand liggend dat pres. Cyril Ramaphosa uiteindelik die deurslag gegee het vir die ANC in die pas afgelope algemene verkiesing.

Ramaphosa is ook ingespan om in die party se verkiesingsveldtog elke uithoek van die land te besoek om die steun vir die ANC van wydlopende kiesafdelings te probeer verseker.
Kortom, Ramaphosa boesem vertroue in en die meer as 10 miljoen stemme wat die ANC uiteindelik in die verkiesing ontvang het, getuig van sy gewildheid.
Fikile Mbalula, die ANC se verkiesingshoof, het dié feit by die Verkiesingskommissie se nasionale uitslagsentrum in Pretoria beklemtoon toe hy opgemerk het dat die ANC se steun waarskynlik tot onder 40% sou geval het as Ramaphosa nie in 2017 by Nasrec (waar die party se 54ste nasionale konferensie plaasgevind het) tot president verkies is nie.
STEUN ONDER 60%-MERK
Nie almal stem egter hiermee saam nie. Dít was duidelik toe Ace Magashule, die ANC se omstrede sekretaris-generaal, ook by die uitslagsentrum gesê het Mbalula praat “onsin” en dat die kiesers vir die ANC en nie individue gestem het nie. Mbalula het egter volgehou dat Ramaphosa en sy verkiesing by Nasrec ’n “game changer” vir die ANC was. Ja, dit is só dat die party se steun die eerste keer onder die 60%-merk geval het (tot 57,51%), maar ’n oorwinning is ’n oorwinning, ongeag of daar ’n afname in steun was of nie.
Met die verkiesing agter die rug, begin die werklike harde werk vir Ramaphosa.
’n Volstrekte meerderheid vir enige regerende party – in dié geval die ANC – is belangrik vir die land. ’n Koalisie of samewerkingsooreenkoms op nasionale vlak sou rampspoedig gewees het, want dit sou besluitneming bemoeilik en vooruitgang in die land teruggehou het – iets was die land kwalik kan bekostig.
AANWYS VAN KABINET
Met Ramaphosa stewig aan die stuur van sake (LP’s sal hom volgende Woensdag amptelik tot staatshoof verkies), wag sy volgende groot besluit – die aanwys van sy kabinet. Sy keuse van die span ministers is van kritieke belang oor die volgende vyf jaar.
Hy móét eenvoudig die regte mense in die regte portefeuljes aanstel. Hy het nou die geleentheid om ontslae te raak van ou hout in die kabinet wat nie doeltreffend funksioneer en geen waarde toevoeg nie.
Die uitdagings is groot: Die land se ekonomie en werkskepping lê soos ’n berg voor Ramaphosa en sy nuwe kabinet; beleggersvertroue het dringend ’n hupstoot nodig; die onderwysstelsel en staatsinstellings moet reggeruk word; en moenie vergeet van die emosionele twispunte soos grondhervorming nie.
Jonger ministers met vars idees om die land vorentoe te neem is wat Suid-Afrika nou nodig het. Die ANC se mantra was nog altyd dat kabinetaanstellings die prerogatief van die president is.
Wel, die oomblik van waarheid het aangebreek, Meneer die President: Kies ’n kabinet waarin Suid-Afrikaners vertroue sal hê en wat die probleme van die land daadwerklik sal kan takel. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie