Oop kaarte bou vertroue
Oop kaarte bou vertroue

Oop kaarte bou vertroue

Dani Booysen
Een van die hoofredes hoekom mense stelselmatig vertroue in regerings begin verloor – tot gevaarlike punte waarby daar soms geen omkeer is nie – is wantroue.

Wantroue is dikwels die gevolg van ‘n gebrek aan inligting, deursigtigheid en verantwoording.

Ondanks beloftes tot die teendeel deur ons nuwe regering, nou byna vyf jaar aan bewind, is openheid nie tot op die verwagte vlakke gevoer nie. Dit het die vertroue in ses opeenvolgende Swapo-regerings tot nuwe laagtepunte help uitkalwer.

Gister het Republikein benadruk Namibië se reaksie op Covid-19 sal vlakke van deursigtigheid verg waarin ons ongewoond geraak het. Ondanks alle goeie geloof in ons regering en owerhede se gereedheid was daar reeds op die derde dag sedert die bevestiging van twee gevalle van coronavirus in die land tekens dat ons reaksie mank wegspring.

Informele en formele aanduidings kan nie wees dat geen nuwe inligting beskikbaar is nie, en dan word die staatshoof self met drie nuwe vermoedelike gevalle by ‘n nuuskonferensie gekonfronteer. Let wel: onbevestigde gevalle. En geen terugvoering is gegee oor hoe naspeuringswerk volg nie. Daar is tientalle bykomende vrae.

Dit is geen goeie geloofsbrief nie. Ook nie dat mense wat voel hul is moontlik blootgestel sukkel om getoets te word nie.

Ons boodskap bly een van kalmte en ingeligtheid. ‘n Regering wat nie bereid is om oop kaarte te speel nie, vererger egter bloot wantroue en die vrees en paniek wat daaruit kan spruit.

Daaglikse meedeling van feite is gerade.

Ons móét eenvoudig beter doen.

So sê ander

16 Maart 2020

Geskiedenis wys kalmte is beste resep vir markte

Dit is menslik om paniekbevange te raak, veral as die aandelebeurs soos verlede week sowat R3 000 miljard se waarde verloor bloot weens reaksie op die nuwe koronavirus.

Sommige kommentators meen die ergste is nog op pad.

Toe die JSE tydens die geldkrisis van 2009 tot onder 20 000 punte geval het, het een markkommentator gemeen dit sal nooit in sy leeftyd weer by 2007 se hoogtepunte van 30 000 kom nie. Dit het sedertdien meer as verdubbel tot 60 000 in 2018.

Dit bly elkeen se eie besluit, maar die meeste ontleders maan tot kalmte. Die voordeel vir iemand wat maandeliks bydra tot ’n effektetrust of indeksfonds is dat jy nou veel meer beleggingseenhede kry vir elke R1.

Die algemene fout wat baie beleggers maak, is om nou skielik hul aandele te verkoop en hul bates in kontant te hou.

Die impak van so ’n markinsinking kan egter nie afgemaak word nie. Vra enige van die mense wat nou vrywillige uittreepakkette by Telkom moes aanvaar.

Helaas is 2020 ook veel anders as 2008. As die regering ’n beter ekonomiese beleid gevolg het, was die ekonomie vandag sterker en veerkragtiger om ’n krisis soos Covid-19 en ’n markineenstorting met meer beweegruimte te kon hanteer. • NETWERK24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!