Oor diu00e9 wedstryd moes ek na my vrou geluister het
Oor diu00e9 wedstryd moes ek na my vrou geluister het

Oor dié wedstryd moes ek na my vrou geluister het

Andrew Poolman
Sondagoggend kwart voor sewe, 6 Oktober 2019.

My selfoon se wekker was vir sesuur gestel, met my aanvanklike plan om Namibië se Wêreldbeker-rugbywedstryd teen Nieu-Seeland elders te gaan kyk.

Ons huishouding maak meestal nie van DStv se premium boeket gebruik nie, maar ek het wel toegang tot die genoemde diensverskaffer se videostroompakket genaamd DStvNow.

Die ander handige inligting was natuurlik dat ons nasionale uitsaaier ook die regte verkry het om Namibië se wedstryde by die toernooi in Japan regstreeks te beeldsend.

Met dit in gedagte is die skootrekenaar opgewarm met DstvNow, terwyl die televisie na kanaal 282 oorgeskakel is. Die NBC se outydse deurnag-skerm is toe nog vertoon om te wys hulle winkel is nog nie oop nie.

Die ander belangrike oorweging in hierdie geval was dat die tweejarige Mitchell Elnatan Poolman nog soet aan die slaap was, want sodra hy uit die bed klim, kan jy gewis nie daarop reken dat jy vrede gaan hê om 80 minute met die aandag te kyk wat van ’n patriotiese rugbyliefhebber verwag word nie.

As kleinman eers opstaan en besluit hy wil nou buite gaan speel, het hy reeds ’n sterk genoeg greep in sy babahandjie en ’n nog sterker wil om nie jou vinger te laat los voordat jy los waarmee jy besig is en saamkom nie.

Vroeër, toe my selfoon se wekker afgaan (ek was reeds wakker – dis mos maar hoe dit werk as jou span teen die All Blacks speel) het vroulief aangedring ek moet tuis bly en die wedstryd hier kyk. Sy sal langs Mitchell bly voortslaap, want dan bly hy gewoonlik langer in droomland.

My hoopvolle verwagting vooraf was dat Namibië teen die All Blacks met ’n beter eindresultaat as Kanada se 63-0 vorendag kon kom – selfs al was dit op papier ook nie ons volle A-span nie. Met die Nieu-Seelanders se beproefde vermoë om met ’n berekende stukkie towerkuns vorendag te kom en die uitslag buite bereik van selfs die beste opposisie te plaas, is hulle ten volle kapabel om groot tellings teen enigiemand op te stapel.

Johan Deysel se manne het selfversekerd begin. Skielik was hulle nie daar om deel te neem nie; hulle was daar om oor te neem. Met ’n bietjie geluk kon die kat in die duiwehok selfs nog ’n bietjie wilder gefladder veroorsaak het as daardie vroeë breekslag deur PJ van Lill en Deysel deur die middelveld met ’n drie afgerond kon gewees het.

Met Damian Stevens se drie treffer-strafdoele en die telling op 9-10 kon ek nie anders as om opgewonde vir vroulief te gaan wakker skud en te sê sy moet kom kyk nie.

Sy dring altyd daarop aan om nie sulke angstige wedstryde te kyk nie, omdat sy kamma ’n ongeluksvoël is – ongeag of dit rugby of sokker is, die span wat sy ondersteun, wen glo selde wanneer sy hul wedstryd met aandag kyk.

Hoewel ons ouens steeds voluit die pap dik aangemaak het (dis veral jammer dat daai Kiwi-drie net voor rustyd deurgeglip het) en waarlik die respek van die opponente en die rugbywêreld verdien het, het die momentum hulle juis in daardie stadium begin ontglip.

Ek kan dus nie anders as om te wonder wat sou gebeur het as ek vroulief in vrede gelos het nie. Volgens haar is sy as ongeluksvoël in dieselfde klas as die sanger Drake, wie se geposeerde foto saam met die spiertier-bokser Anthony Joshua mos glo tot sy ondergang teen die oorgewig Andy Ruiz gelei het. Maar, voeg sy by, die werklike fout lê daarin dat ek haar as toeskouer betrek het. Noem my dus maar Costas . . . soos in Costas The Match.

Komende Sondag is natuurlik die belangrike WB-botsing teen Kanada – die een wat beide spanne desperaat is om te wen. Die afskoptyd is nog ’n skoot vroeër (05:15, of vieruur as jy die eksperts se hele opbou uit die ateljee wil volg). Beskou dit as afgespreek dat ons huishouding hierdie keer geen slapende honde sal wakker maak nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!