Oorde kry nie eens oulap se rooi
Geen opknappingswerk is by NWR se Jakkalsputz-, Myl 72- en Myl 108-oorde gedoen nie.
Des Erasmus
Honderde Namibiërs en selfs Suid-Afrikaners se vakansieplanne is in die gedrang toe vasgestel is dat, ondanks vroeëre aankondigings deur Namibia Wildlife Resorts (NWR), daar feitlik niks van beloofde opknappingswerk by die seeoorde Jakkalsputz, Myl 72 en Myl 108 gekom het nie.
Met net enkele werksdae oor voor Desember lyk dit na 'n haas onbegonne taak om alles betyds vir die Desember-stroom gereed te kry.
Maandag was daar 'n gefladder in die duiwehok met selfs sprake van noodvlugte wat onderneem word om vas te stel wat van die beloofde opknappingswerk geword het.
Mnr. Francois Snijders van NWR, met sy standplaas in die Skedelkuspark waar hy in die besonder beheer uitoefen oor Torrabaai, was Maandag nie beskikbaar vir kommentaar nie.
Snijders het oproepe dat daar basies niks aan Jakkalsputz, Myl 72 en Myl 108 gedoen is nie, glo met ongeloof begroet.
Een bewering was dat 'n kontrakteur selfs reeds betaal is vir al die werk wat by die drie oorde gedoen is.
“Watse werk?” het mnr. Johan van der Berg, 'n sakeman van Hentiesbaai, gevra nadat hy Sondag persoonlik by Myl 72 ondersoek gaan instel het na die beweerde verbeteringe. Nog 'n bewering was dat kansellasies vir die drie oorde in Desember reeds ontvang is.
Jakkalsputz is Hentiesbaai se onmiddellike buurman net suid van die dorp. Myl 72 lê noord en Myl 108 is die laaste NWR-kamp voor die Ugab-hek as grens na die Skedelkuspark.
Al drie kampe is 'n belangrike voedingsbron van Hentiesbaai se ekonomie in die spitsseisoen.
Me. Daleen Agenbag, voorsitter van Hentiesbaai se toeristevereniging, het aan Republikein bevestig die beweerde chaotiese toestande in die kampe is onder haar aandag gebring. Sy is ook bewus van die aksie wat deur sakelui van die dorp geneem is.
NWR het reeds in Oktober aangekondig die drie genoemde kampe is weer terug in hul sorg.
Oor Jakkalsputz is ook beweer dat die gewilde oord van 1 Desember af weer deurlopend oop gaan bly. Dit is selfs opgevolg met foto's op sosiale media oor hoe opknappingswerk by Myl 72 vorder.
Van der Berg het Maandag aan Republikein gesê een van die reaksies op sy besware was dat daar nog nege dae oor is voor die oorde oopgestel gaan word.
“Nege dae?” het hy gevra.
“In ons kustoestande kos dit drie weke vir die sement om droog te word.
“As jy voor drie weke in so 'n nuwe braaiplek vuurmaak, gaan alles uitmekaar bars. Vir my is gesê die kontrakteurs is klaar vir hul werk betaal.
“As dit waar is, is dit nog duisende dollars wat in die water gegooi is. Die plekke is nie net morsig nie, dit is ook lewensgevaarlik. Op plekke het houtwerk geval met verroeste spykers wat uitsteek. Geen instandhoudingswerk is daar gedoen nie.
“Selfs as hulle Superman laat kom, sal hy nie die toestand kan omkeer nie. Die kampe is 'n gesondheidsgevaar.”
Van der Berg het ook gesê hy doen sy absolute bes om na die betrokke minister, mnr. Leon Jooste, minister van staatsondernemings, deur te kom en het selfs al boodskappe na hom deurgestuur. Hy wag nog op 'n antwoord.
“In die moeilike ekonomiese toestande het mense duisende dollars betaal om Desember in die oorde deur te bring. En nou dit,” het Van der Berg gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie