Oorgrense stropers slaan in hartland toe
Oorgrense stropers slaan in hartland toe

Oorgrense stropers slaan in hartland toe

Sewe verdagtes in twee voorvalle vasgetrek
Anneli Erasmus
Des Erasmus - Renosterstropers van buite die landsgrense het in die hartland van Namibië toegeslaan.
Vier Zambiërs wat saam met 'n Namibiër in 'n omvattende operasie deur wetstoepassers vasgetrek is, dien as bewys van sindikate wat nou Namibië se ryk wildlewe en spesiaal beskermde wild teiken. Namibiërs is blykbaar ook lede van die georganiseerde bendes.
Die wilddiewe gebruik outomatiese vuurwapens en wapens van 'n swaar kaliber wat spesiaal vir die jagtogte aangepas is. In die betrokke deurbraak is beslag op 'n AK-47-aanvalsgeweer en 'n 375 H&H Magnum vuurwapen gelê. Aanduidinge is dat die oorgrense stropers ook goed met medepligtiges binne die landsgrense skakel. Jagkampe word selfs net buite natuurreservate ingerig waarvandaan op onder meer renosters jag gemaak word.
Die vyf mans in aanhouding is Vrydagnag op hul uitwykroete deur 'n voorstaanmag op die Okahandja-Otjiwarongo-pad gevang waar die pad na Okakarara van die hoofweg afdraai. Die gesamentlike operasie is deur twee spesiale eenhede van die polisie, natuurbewaarders, lede van die distrikswagte van Omaruru en Otjiwarongo en boere uitgevoer. Die indringers beweeg op die oog af te voet en kom blykbaar met saamrygeleenthede oor die weg.
Ná die eerste vyf inhegtenisnemings duur die polisieondersoek voort met nog inhegtenisnemings wat kan volg. Die roetes wat deur die onwettige jagters gevolg word, word ook nagespeur asook die wyse waarop die horings uit Namibië na die Oosterse markte gesmokkel word.
Volgens die eerste inligting wat oor die voorval op grond in private besit beskikbaar geword het, was die vonds van 'n swartrenosterkarkas in 'n beskutte kloof Vrydagoggend deur toeriste aangemeld. Albei die neushorings was verwyder. Puik samewerking tussen die polisie, bewaringsinstansies en boere het Vrydag gesorg vir 'n wye net van wetstoepassing wat rondom die gebied gespan is.
By die slagplek is onder meer op die AK-47 afgekom wat in 'n doek toegedraai was. Inligting is opgevolg wat daarop gedui het dat die voortvlugtige stropers eers in die rigting van Okahandja beweeg het en daavandaan terug in die rigting van Otjiwarongo gegaan het. By die voorstaandiens waar die vier Zambiërs en een Namibiër aangekeer is, het inligting gedui op die betrokkenheid van 'n medepligtige by Okahandja. Van die neushorings van 'n renoster was daar geen teken nie. Dit het die ondersoek na Okahandja en die sogenaamde Vyfrandkamp net suid van die dorp gebring.
Die Zambiërs in aanhouding het blykbgaar aangevoer dat hulle nie die land ken nie en gevolglik nie 'n sekere huis in die oorwegende plakkersbuurt kan uitwys nie. Ná 'n nag van aanhouding het die polisie Saterdagoggend met van die verdagtes na dié buurt teruggekeer waar 'n sekere huis wel aan hulle uitgewys is. Toe die plek deursoek is, is op die twee neushorings van die swartrenoster afgekom.
Die 375 H&H Magnum waarop beslag gelê is, is 'n kragtige vuurwapen wat ook deur olifantjagters gebruik word. Volgens een bron kan 'n enkele koeël tot N$120 in die handel kos.
Intussen berig Nampa 'n voormalige polisiebeampte en 'n werknemers van Namibia Wildlife Resorts (NWR) is Donderdag in 'n sjebeen op Rundu met twee renosterhorings in hul besit betrap. Hulle sal vandeesweek in die landdroshof op die dorp verskyn.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!