Oorle Piet sou alleen oor die Drakensberge moes trek
Oorle Piet sou alleen oor die Drakensberge moes trek

Oorle Piet sou alleen oor die Drakensberge moes trek

Des Erasmus
Des Erasmus – Vir ’n Voortrekker sou ek nooit deug nie. Oorle Piet en sy manne sou al met hul ysterwielwaens oor die kruin van die Drakensberge gebeur het, dan sou ek steeds met ‘n eenderse verset in my gemoed besig wees met die oppak van my goedjies.

Sou ek ‘n Angola-boertjie wees, sou ek ook nie langer met die Portugese koloniste se verbod op grondbesit kon leef nie. Die Potgieters en die snare sou lankal op die destydse Suidwes-Afrikaanse bodem in hul stryd op oorlewing gestaan het, dan sou ek steeds hoop op ‘n wonderwerk en ‘n skikking in my geleende land. Tulbach en sy manne kon maar die noordweste en selfs die Transgarieb gaan verken, ek sou voorlopig verkies om in die Kaapse wynlande by die kan te bly.

Op moedersknie was ek in ‘n kroos by wie haar segswyse in ‘n geweste van die eertydse Britse setlaars ingeprent was: “Rush me slowly."

Maar pas op nou vir wanneer sy uiteindelik ge-“rush” was. Dan was daar weer nie keer aan die boervrou nie. Selfs in jongmansjare het dit dae gekos om net ‘n kamperasie vir ‘n week of twee opgepak te kry.

Wanneer die blaaskansie verby en die geld op was, was dit weer ‘n moeisame proses om alles op die ou bakkie te kry. Van die kampbure het selfs ongeduldig geraak en hand kom bysit, sou die ou Mazda-bakkie die oggend vat. Soort soek soort. So is die werderhelf ook nie ‘n geesdriftige op- en afpakker nie. Ook maar beter so, anders het ‘n ontbrekende huismoles dalk lankal soos ‘n koors uitgeslaan.

Haar mooi storie handel juis oor so ‘n pakkery wat in paaiemente gekom het totdat alles ‘n lêplekkie in die vrag gekry het. In die bondel was ook een van haar ooms wat aan dieselfde afwyking gely het. Wanneer alles gereed was, het hy dan al wat leef en beef bymekaar geroep.

“Kom, laat ons eers al die mense snêp," het haar oom Pieter gesê terwyl hy langsaam met sy Baby Brownie nader gestaan het.

Die Walvisbaaise hawemanne praat van "los vrag".

Hierdie jongste trek was ook met los vrag, want die aflaaiplek was net ‘n paar kilometer verder by ‘n eie huis. Die los vrag is gelaai en as los vrag tuis op ‘n groot ronde tafel opgestapel. Dan kan al die los goed behoorlik deursoek word en net die goeie goed uit die verlede behou word om daarop ‘n nuwe toekoms te bou. Dit was dan juis die raad van die een of ander politikus wat lankal onder die kluite lê.

Een van die eerste goedjies wat uit die pakkerasie val, word toe juis die bron van ‘n gesellige twis. Vee die gevreetjie met ‘n sneesdoekie af en daar sit die foto'tjie van die nooienskind in ‘n kunsryke ovaalraampie. Ek wys en vra die huismaat of dit sy is.

Sy sê dis haar dogter - toe nog as ‘n langbeenmeisiekind. Ek weier om te aanvaar en roep Maria as die huishulp van baie jare. Sy sê ook dis die “madam”.

Die verskil rol aan. Daarom word die tuinman nader gewink. Simon is sy naam, maar weens sy trou vereenselwig ek hom met Simon, die Man van Sirene, spesifiek hier in die Pase. Hy is ‘n man van vrede en wil versigtig eers weet wat sê “Meneer” en wat sê “Mevrou”. Ek skik met ‘n opmerking van “lookalike” tussen ma en dogter.

Vertroostend kom my byvoegsel.

“Iemand wat haar baie liefgehad het, het dié prentjie gemaak.”

Vorige trekervaring het sy lesse geleer. Aan ‘n vergeelde dokument word nie gelees nie. Dit raak ‘n storie sonder ‘n einde. Daarom vat ek maar die dosyne pette wat uit byeenkomste vergaar was. Elkeen met sy storietjie oor die plek van herkoms, en daar gaat ek weer.

Maar op my drukker staan weer die beeldjies van ‘n olifantjie en ’n streepmuis wat in vrede wei. Amper soos die leeu en die lam van Die Boek.

Die trek was nie lekker nie, ek bedoel nie te sleg nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!