Oorleef die resessie met dié vyf wenke
Om jou leefstyl af te skaal is nie maklik nie, maar dis juis waar jy eerste moet besnoei.
Hanlie Stadler – Almal moet byna oral besnoei om steeds basiese dinge soos kos en petrol te kan bekostig, maar kenners waarsku dat hulle mooi moet dink voordat hulle besnoei aan iets wat hul langtermyn- finansiële posisie gaan raak.
Die aankondiging dat Suid-Afrika in ’n resessie is, was seker nie juis vir vuisvoos verbruikers ’n verrassing nie.
Die styging in belasting op toegevoegde waarde het reeds almal se sak geknou, tesame met ’n gesamentlike styging van altesame R1,32 in die petrolprys vanjaar – en ’n styging van R1,12 of meer lê nog in Oktober voor.
1. Besnoei eerste aan luukses
Om jou leefstyl af te skaal is glad nie maklik nie, maar dis juis waar jy eerste moet besnoei. Jy moet alle nie-noodsaaklike rekeninge en uitgawes heroorweeg.
“Stel ’n begroting op en weet wat die minimum is wat jy elke maand nodig het om te oorleef. Enige bykomende uitgawes en luukses moet dadelik uitgesny word,” sê Barrie van Zyl, senior bestuurder van Alexander Forbes.
Dit sluit in dat jy dalk:
· Jou satelliettelevisie moet laat afskakel of na ’n goedkoper pakket moet oorskakel;
· Minder nuwe klere moet koop of na goedkoper winkels afskaal; en
· Minder gereeld uiteet (ook minder kitskos koop) en eerder weer getrou jou toebroodjies werk toe neem.
Dis nou ook die tyd om ’n saamryklub of openbare vervoer te oorweeg, jou eie groente te kweek en water en krag spaarsaam te gebruik.
Peter Castleden van Indie, die digitale lewensversekeraar van Sanlam, sê: “As dinge moeilik raak, is die moeilikste dinge om te besnoei ook die beste dinge om te besnoei.”
Moenie uitstel nie – Van Zyl sê jy moet spaar “waar jy ook al kan, en so gou as moontlik”.
Mpho Ramapala, bestuurder vir opvoeding en kommunikasie van die Nasionale Kredietreguleerder, beaam dat verbruikers moet afskaal aan “onnodige en luukse uitgawes en binne hul vermoëns moet lewe”. Dis ook nou ’n goeie tyd om jou finansiële posisie in oënskou te neem “om seker te maak jy neem realistiese finansiële besluite”.
2. Spaar selfs harder hieraan
Castleden waarsku dat dit dalk maklik is om te besnoei aan die “ontasbare dinge” soos spaar vir aftrede of vir jou kinders se opvoeding of lewensversekering. Op kort termyn sal so ’n besnoeiing beteken jy kan jou leefstyl handhaaf, maar dit kan later finansieel vernietigend wees.
Dinge wat Castleden sê mense nie summier moet kanselleer nie, sluit in:
· Aftreespaargeld
· Spaargeld vir langtermyndoelwitte soos jou kinders se opvoeding
· Mediese fonds
· Lewensversekering
· Motor- en huishoudelike versekering
Baie van dié produkte het beloningsprogramme wat jou in werklikheid kan help spaar sonder dat dit jou ’n fortuin kos. Dit sluit in mediese fondse se belonings en afslag op dinge soos vliegkaartjies, sporttoerusting en gimnasium-lidmaatskap, asook beleggings wat sekere lewenspolisse (Indie onder hulle) namens jou doen.
Jy sal later dankbaar wees as jy die moeilike werk nou doen en dié dinge aanhou betaal, want daarsonder maak jy die uitdagings later baie groter.
Peter Castleden
“Jy sal later dankbaar wees as jy die moeilike werk nou doen en dié dinge aanhou betaal, want daarsonder maak jy die uitdagings later baie groter.”
Schalk Malan, uitvoerende hoof van BrightRock, ook ’n Sanlam-filiaal, sê mense moet wel hul versekeringspremies bekyk. “Maak seker onnodige items word nie gedek nie, maar ook dat enige nuwe aankope wel gedek word. Dis altyd ’n goeie plan om twee of drie versekeraars te skakel om te kyk of jy jou premies kan verlaag – maak tyd hiervoor.”
Maak wel seker jy vergelyk appels met appels – kyk na dinge soos jou bybetaling, of jy ’n huurmotor kry en so meer sodat jy nie ’n onaangename verrassing kry wanneer jy eis nie.
Malan sê dis ’n goeie plan om ’n finansiële beplanner te raadpleeg oor jou langtermynversekering om seker te maak jou polisse voldoen wel aan jou behoeftes en jou premies is billik.
Van Zyl sê resessies bied dalk juis beleggingsgeleenthede. Aftrede is ook ’n gegewe. “As jy dit deur die resessie gemaak het en markte weer optel, sal jy baie bly wees dat jy aangehou het om te spaar en belê.”
3. Bêre jou krediet- en winkelkaarte
Castleden waarsku dat mense nie hul krediet- of winkelkaart moet gebruik om gate toe te stop nie.
“Om binne jou vermoë te leef in die huidige ekonomie is baie makliker as om in die toekoms jou pad uit diep skuld te navigeer.”
Van Zyl sê as jy reeds baie skuld het en sukkel om dit af te betaal, moet jy professionele raad kry sodat jy jou maandelikse betalings kan behartig.
Malan se raad is dat jy jou bes probeer om skuld af te betaal – begin by skuld met die hoogste rentekoers, soos winkel- en kredietkaarte – en dan die rekeninge óf toe te maak óf ’n streng perk daarop te plaas.
“Kyk na jou langtermynskuld, soos jou huis- en motorlenings, en vra jouself af of jy bo jou vermoë leef. As jy dié bates afgradeer, het dit die potensiaal om enorme verligting vir jou begroting en langtermyn- finansiële vooruitsigte te bring.
“As jou kinders byvoorbeeld al uit die huis uit is, is ’n kleiner huis dalk meer bekostigbaar en meer prakties, en ’n goedkoper motor sal dalk ook beter by jou behoeftes pas en jou begroting help.”
Oppas vir dié uitgawes
Daar is baie onverwagte uitgawes wat jy eintlik kan voorkom. Dit sluit in:
· Verkeersboetes – hou binne die spoedgrens en moenie onwettig parkeer nie!
· Rybewys en motorlisensies – hernu betyds sodat jy nie bykomende koste soos ’n tydelike rybewys of ’n boete vir die laat hernuwing van jou lisensie moet betaal nie.
· Paspoorte en onverkorte geboortesertifikate – hernu of vra dit aan indien jy ’n oorsese reis beplan sodat jy nie die hele reis moet kanselleer omdat jou paspoort verval het of jy nie ’n onverkorte geboortesertifikaat vir jou kind aangevra het nie.
Terwyl jy skuld takel, gaan sommer jou kredietstatus na – jy kan dit een keer per jaar gratis doen. Compuscan, TransUnion en ander kredietburo’s het ’n aanlyn funksie hiervoor.
Ramapala waarsku dat mense net geregistreerde skuldbemiddelaars moet nader as hulle nie meer self met hul krediteure kan onderhandel nie. Kontak die NKR by www.ncr.org.za, 0860 627 627 of [email protected] vir meer advies.
4. Probeer jou inkomste beskerm
Van Zyl sê solank jy jou inkomste kan behou, behoort jy die resessie te kan oorleef. Afleggings is egter ’n werklikheid in ’n stram ekonomie.
Hy beveel aan dat mense seker maak dat hulle ’n Plan B het indien hulle bekommerd is oor die finansiële welstand van hul maatskappy of die bedryf waarin hulle werk.
Moontlike oplossings kan insluit dat hulle betyds moet begin om ander werk te soek of dat hulle inkomstebeskermingspolisse uitneem.
Dis ook nou die tyd om jou vaardighede te slyp – dalk moet jy ’n kort kursus of verdere kwalifikasie oorweeg.
Van Zyl beveel ook aan dat mense maniere ondersoek om ekstra geld te verdien of langer ure werk indien hulle die kans het om só meer geld te verdien.
5. Bou aan jou noodfonds
Van Zyl sê hoe groter die risiko in die ekonomie, hoe groter moet jou noodfonds wees waardeur jy jouself kan onderhou indien jy afgelê word of as jou salaris verminder word.
“Tipies het ’n mens sowat drie keer jou maandelikse salaris nodig, maar nou sal dit raadsaam wees om minstens ses keer in ’n korttermyn-spaarproduk te hê.
“As jy nie ’n noodfonds het nie, begin so gou as moontlik daarvoor spaar.”
Ten slotte
“’n Resessie is nie die einde van die wêreld nie, maar vrees kan jou rasionele gedagtes verlam en jy kan emosionele en negatiewe besluite neem. Om in ’n resessie te verval is niks nuuts nie – Suid-Afrika was al agt keer sedert 1961 in ’n resessie; die langste tydperk in 1991-’92.” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie