Oorlewing van die beskaafdes
Pedro Vorster
Besoek jy eerste Dubrovnik, loop jy die gevaar om al Kroasië se ander antieke stede as minderwaardig af te maak, want hier is al die Kroatiese kultuurelemente nie net aanwesig nie, maar teenwoordig in die oortreffende trap.
Geen wonder nie dat George Bernard Shaw van Dubrovnik sê: “Dié wat die paradys op aarde soek, sal dit hier vind.”
Die weelderige Stan Grad Dubrovnik is in 1667 deur ’n aardbewing uit sy rykdom geskud.
Toe die stof gaan lê het, moes die verarmde inwoners later grond aan die Ottomaanse Ryk verkoop, wat sodoende toegang tot die Adriatiese See verkry het.
Behalwe dat die Kroatiese Republiek se leë koffers voller geword het, het die inwoners gereken dit was beter om lappies grond te verkoop as om ‘n inval te trotseer. Dié ooreenkoms word steeds eerbiedig en vandag bied die nou strook land seetoegang aan Bosnië.
‘n Merkwaardig hoë beskawingspeil heers hier sedert die 14de eeu. In 1317 is ‘n aptekery begin, wat nou nog bestaan, weeshuise het in 1432 die lig gesien, sopkombuise het die armes in 1347 begin voed, en ‘n kwarantyn-hospitaal het die bevolking gesond gehou.
Afgesien van die 3 000 kanonkoeëls wat die stad in 1806 getref het, is dit in 1991 weer onder 650 bomme gesteek – al het die stad in 1979 reeds die status van ‘n Unesco-wêreldbewaringsgebied beklee.
Ontevrede Serwiese en Montenegrin-troepe het die stad beset en die ou dorpie agter die fabelagtige mure is binne sewe weke amper totaal vernietig.
Vandag is die omvang van die skade aan die dakke sigbaar. Die ouer dakteëls is sonverbleik en steek teen die gerestoureerde geboue se helder terracottateëls af.
“Is enigeen van julle Collin?” vra die joviale bistro-bestuurder van die Taverna Pupo.
Niemand in ons groep is nie. Hy het ‘n reëling dat as iemand in ‘n toeristegroep sy naam of dié van enigeen van sy drie vennote dra, die persoon verniet kan eet.
Sy tafels staan die Dubrovnik-stegie vol. Die vrouens is gaande oor die gehalte van die produkte in sy waskamer. Die hoofdisse op sy spyskaart is duur seekos, maar die Taverna se ontbyt is verteerbaar billik.
Die ou dorpsgedeelte is soos ‘n driedimensionele slangetjies-en-leertjies speletjie. Dit is op in torings, af in stegies, ingesluk deur fortgange, uitgegooi op borswerings. Die wandeling op die mure is naastenby 5,5 km lank as al die torings, bastions en forte wat die mure anker bygereken word. Op die roete is derduisende trappe.
Elke nou en dan moet jy stilstaan en kyk, want iets het jou oog gevang. Buite die mure. Die hawe, dit is tog net nog ‘n hawe, hoekom is dit dan so mooi? Die skoonheid is moeilik peilbaar. Die ou stad se dakke lê in magiese kubistiese kombinasies. Jy verwonder jou aan die uitkyktorings en dik, versterkte mure. Alles is gekapte kalkklipwerk en op ‘n reuseskaal – ideale dekor vir Game of Thrones, wat ook hier geskiet is.
Teen die einde van die muurwandelroete is daar onverwags puinhope. Die romantiek rafel uit en trek bloot skouers op. Werklikheid tree in. In een oop ruimte staan ‘n guillotine. Dit lyk ongemaklik eg, maar is miskien net ‘n bloedlose replika. Een van die gewildste eetplekke is Madame Pi-Pi met ‘n beeld wat dit doodluiters uitbeeld.
Lokrum-eiland lê slegs 600 m verder oos en het benewens ‘n paar kaalbasstrande ‘n klein soutmeer, ‘n fort en botaniese tuin. Koning Leeuhart het in 1192 hier op pad huis toe van ‘n kruistog skipbreuk gely.
Die ou, geheimsinnige stad is egter so gewild, daar word oorweeg om besoekersgetalle streng te reguleer. In die top- toeristeseisoen sal groot passasierskepe geskeduleer word om met tussenposes te anker en hul passasiers in golwe los te laat.
Buite die ou stad op ‘n rotsagtige heuwel broei die Middeleeuse fort Lovrijenace.
So romanties as wat dit nou voorkom, was sy oorspronklike doel om kruisvuur aan die ou stad se hoofhek te bied.
Neem die kabelkar oor die stad na die kruin van die heuwel Srd (Sird) of stap die kronkelende voetpad boontoe. Selfs uit dié gesigshoeke bly Dubrovnik getrou aan Dubrovnik – betowerend uniek.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie