Oorlog in Midde-Ooste kan nou handuit ruk

Met die einde van die Islamitiese Staat se “kalifaat” in Sirië en Irak in sig, groei die moontlikheid dat die groot godsdiensoorlog tussen die Islam se twee hoofstrome handuit kan ruk, skryf Leopold Scholtz.
Dr. Leopold Scholtz - Daar is geen wêrelddeel wat op die oomblik meer verward voorkom as die Midde-Ooste nie. Talle strominge, onderafdelings van dié strominge en onderafdelings van dié onderafdelings ding mee om mag te verwerf.

Dis soos 'n bord spaghetti met honderd slierte wat deurmekaar lê. Om elke sliert te identifiseer en hulle almal uitmekaar te hou is geen maklike taak nie.

Maar kom ons probeer.

Die eerste element is dat die einde van die terreurbeweging Islamitiese Staat (IS) se “kalifaat” op die gesigseinder opdoem.

In Mosoel, die grootste stad in sy besit, ruk die Irakese leër ál dieper in die ou middestad in. 'n Reeks desperate selfmoord-teenaanvalle is afgeweer. Die feit dat IS 'n 800 jaar oue moskee, 'n gebou van onskatbare kultuurhistoriese waarde, in die lug laat vlieg het, wys dat die beweging meen hy het niks meer om te verloor nie.

Rondom die Siriese stad Rakka, IS se “hoofstad”, span die net al hoe nouer. Koerdiese magte wat deur Amerika bewapen word, kan die stad binnekort inneem.

Dit kan twee gevaarlike gevolge hê.

Die een sien jy reeds – 'n toename in terreuraanslae in Europa. As IS dan sy eie gebied nie kan behou nie, moet die oorlog maar na die vyand geneem word, is die redenasie.

Die ander is potensieel selfs gevaarliker. Die verdwyning van die “kalifaat” beteken naamlik 'n magsvakuum, en – so verseker die wetenskaplikes jou – die natuur hou net mooi niks van 'n vakuum nie.

Dit geld ook vir die politiek. Dus sien jy nou al hoe die spanning toeneem tussen verskillende strominge om die vakuum te vul en meer mag te verwerf.



Godsdiensoorlog

Die grootste sleutel om die geweld in die Midde-Ooste te verstaan is die oplaaiende godsdiensoorlog tussen die Islam se twee hoofstrome, die Soenniete en die Sjiïete.

Dit verklaar die burgeroorlog in Sirië tussen die diktatuur van pres. Basjar al-Assad (hy is 'n Alawiet, verwant aan die Sjiïete) en die uiteenlopende rebellebewegings (almal Soenniete). Die sterkste Sjiïtiese moondheid, Iran, bied aktiewe militêre steun aan die Assad-regime.

Dis ook 'n bydraende element tot die Irakese burgeroorlog, waar die Soennitiese minderheid en Sjiïtiese meerderheid dit buitengewoon moeilik vind om saam te leef. Dit is ook die verklaring vir die burgeroorlog in Jemen, waar Sjiïtiese Hoeti-rebelle teen die Soennitiese regering (gesteun deur die Soennitiese Saoedi-Arabië) baklei.

Verder word Libanon verskeur tussen die Soenniete, Sjiïete en Christene. 'n Hervatting van die burgeroorlog van die jare 80 word slegs met die grootste moeite gekeer.



Vyandskap

Ten slotte is daar ook nog twee etniese elemente. Die een is die eeue-oue vyandskap tussen die Iraniërs (hul taal, Farsi, is verwant aan die Europese tale) en die Arabiere; die ander die strewe van die Koerde om 'n eie staat in die grensstreke van Turkye, Sirië, Irak en Iran uit te kerf.

Laasgenoemde het Turkye in die groot oorlog ingesuig. In beginsel staan die Soennitiese Turke aan hul geloofsgenote se kant, maar hul nasionale belang weeg vir hulle swaarder. Soos hulle dit sien, is daardie nasionale belang die voorkoming van 'n Koerdiese staat, want dit kan die nasionale samehang van die land in die gedrang bring.

Maar die verwarring is nog nie op 'n einde nie, want stadigaan word Rusland en Amerika ook ingesuig.

Die verstommende wreedheid van die Assad-regime maak vir pres. Wladimir Poetin geen snars saak nie. Assad is sy laaste oorblywende bondgenoot in die Midde-Ooste en die Siriese hawestad Tartoes die laaste oorblywende steunpunt vir die Russiese vloot in die Middellandse See.

Dus veg Russiese bomwerpers en spesmagte aktief aan Assad se kant – ofskoon minder teen die IS-rebelle; eerder teen ander rebellebewegings wat deur Amerika gesteun word.

Amerika se rol was 'n tyd lank ná pres. Donald Trump se bewindoorname in Januarie onduidelik. Sy verkiesingsbelofte was dat Amerika hom aan buitelandse konflikte soos dié in Sirië sou onttrek, met die uitsondering van die stryd teen IS.

Maar onder Trump het die Amerikaanse rol juis groter geword. En onlangs was daar 'n onheilspellende ontwikkeling: 'n Amerikaanse straalvegter het 'n Siriese bomwerper wat Amerikaans-gesteunde rebelle aangeval het, uit die lug geskiet.

Kort daarna het Amerikaanse vliegtuie ook 'n Iranse verkenningshommeltuig neergeskiet en dreigende kanonvuur gerig op 'n Siriese leërkonvooi wat onderweg was om Amerikaans-gesteunde rebelle vas te vat.

Rusland en Iran was siedend hieroor. Die Russe het openlik gesê hulle sal alle Westerse militêre vliegtuie in die omgewing as potensiële teikens beskou, iets wat Australië laat besluit het om sy bomwerpers tydelik op die grond te hou.

Die Russe het ook gedreig om hul permanente kommunikasiekanaal met die Amerikaanse militêre te verbreek. Dié kanaal word gebruik om mekaar op die hoogte van lugoperasies bo Sirië te hou sodat misverstande voorkom word en hul vliegtuie mekaar nie dalk beskiet nie.

Sedertdien het dit egter bekend geword dat die Russe (nog?) nie hul dreigement uitgevoer het nie.

Al dié slierte spaghetti wat so verwarrend op 'n knoop lê, het egter te make met die naderende einde van die IS-“kalifaat”. Hier is 'n aantal sake relevant.

Die eerste is dat die Koerde, wat die hoofaandeel in die aanslag op Rakka het, dié operasie wil gebruik om die grondgebied onder hul beheer uit te brei. Só kan hulle die wêreld voor 'n voldonge feit stel en moontlik 'n eie staat uitroep.

Dis iets wat Turkye byna teen elke prys – met inbegrip van 'n groot offensief in Sirië – sal wil voorkom. Dit sal keer kos om dit te verhinder.

Ten tweede wil Assad sy heerskappy oor sy hele land hervestig. Rusland se Poetin sal dit graag wil sien gebeur, en die kans is dat hy sy eie magte in Sirië selfs kan versterk.

Amerika (ook die Trump-administrasie) wil Assad egter keer. Dit kan Amerika dieper in die moeras insuig.

Nou kom die eintlike ding: Wat hierbo geskets is, is basies 'n onbeskermde kruitvat in 'n omgewing waar die vonke woes heen en weer spat. Dit kos één vonk om Amerika en Rusland aanmekaar te laat spring.

Normaalweg sou 'n mens kon sê die leiers is darem te verstandig; hulle sal dreig en raas, maar terugdeins as dit puntjie by paaltjie kom. Dis 'n oordeel wat sekerlik vir Poetin – 'n briljante taktikus – geld, maar Trump is só emosioneel en onvoorspelbaar dat 'n mens eintlik enigiets van hom kan verwag.

Positief is wel dat die span wat sy buitelandse beleid hanteer – Rex Tillerson (minister van buitelandse sake), genl. James Mattis (minister van verdediging), en genl. H.R. McMaster (nasionale veiligheidsraadgewer) – stabiele en verstandige mense is. Hulle sal Trump minstens van onverstandige reaksies probéér weerhou.

Desondanks: Nog selde was die situasie in die Midde-Ooste só gevaarlik en só onvoorspelbaar soos nou.

– Netwerk24



• Dr. Leopold Scholtz is 'n joernalis en politieke ontleder wat in Den Haag woon.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!