'Oorlog teen China' is Shonena se kans

'n Wêreldklas botsing is later vanjaar na die noorde van die land op pad.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Vir die eerste keer in vier jaar maak die MTC Sunshine Boks­akademie sy terugkeer om 'n wêreldklas boksgeleentheid in die noorde van die land aan te bied en bemark dit as “The Battle: Namibia vs China” wat op 24 Augustus deel van die Ongwediva handelskou sal uitmaak.

Namibië se onoorwonne weltergewig Mike Shonena (Silent Assassin) is die houer van die Wêreldboksorganisasie (WBO) se Afrika-titel vir die laaste 19 maande.

Hy word tans as die WBO se vyfde aanspraakmaker op die wêreldtitel gereken en het sover elkeen van sy 14 gevegte gewen, hoewel net drie met uitklophoue.

Shonena het nog nie buite sy landsgrense geveg nie en dieselfde geld vir sy opponent, Youli Dong van China. Vir beide is hul ontmoeting dus die grootste geleentheid van hul boksloopbaan sover.

“Dong is tans die WBO se nommer 15 en houer van die WBO Asië-Pasifiese Streek se jeugtitel. Die verloorder sal soos gebruiklik sy gordel prysgee, terwyl die wenner sy aanspraak grootliks sal versterk om nader aan 'n wêreldtitelgeveg te beweeg,” sê die promotor Nestor Tobias.

Die geveg volg op die hakke van Sunshine-promosies se onlangse topklas aanbieding van Jeremiah Nakathila se dominerende uitklopsege teen Zoltan Kovacs van Hongarye (nadat beide onder die WBO se top-15 superveergewigte was) by die Windhoek Buiteklub.

Die Chinees se rekord in die beroepskryt (13 gewen, een verloor, een gelykop) lyk op die oog af redelik gevaarlik.

Die gelykopuitslag was in sy debuutgeveg in Augustus 2016. Hierna het Dong twaalf gevegte op 'n streep gewen, voordat hy vreemd genoeg in September 2018 op eie bodem met punte verloor het teen die oënskynlik middelmatige Adam Diu Abdulhamid van die Filippyne, wie se rekord destyds op 12 gewen en ses verloor gestaan het.

BLINK GELEENTHEID

“Dit gaan weer 'n skouspelagtige geleentheid wees. By elke vorige keer het die Noorde ons boksgeleenthede baie goed ondersteun,” sê Tobias.

Soos Tobias uitwys, genereer die weltergewigklas van die meeste geld met vegters soos Manny Pacquaio en Keith Thurman (beide WBA), Terence Crawford (WBO), Errol Spence Junior (IBF), Shawn Porter (WBC) en Suid-Afrika se Thulani Mbenge (IBF) as huidige houers van die betekenisvolle “wêreldtitels”, terwyl Amir Khan, Jeff Horn, Danny Garcia en Mikey Garcia ook in dié speelveld beweeg.

“Die geveg sal regstreeks op televisie in Namibië en in China gebeeldsend word. Nie sommer elke bokspromosies kan wêreldgerekende vegters bymekaar bring, of hulle oortuig om in Namibië te kom boks nie. Sunshine-promosies is die vader en moeder van alle bokssukses in die land.”

Laasgenoemde opmerking kan vertolk word teen die agtergrond dat die 41-jarige Paulus (Hitman) Moses vandeesweek sy aansluiting by Global Boxing Stars aangekondig het.

Moses, wat sy ganse loopbaan 'n Sunshine-vaandeldraer was, ontken dat hy ná sy nederlaag teen Emmanuel Tagoe in Ghana verlede jaar uitgetree het en het sy nuwe promotor Scott Patrick Farrell geprys met “Uiteindelik is 'n goeie man hier om Afrika-boks te bevorder en vorentoe te neem”.

Moses, voormalige WBA liggewig wêreldkampioen, sluit aan by 'n string oudkampioene wat Tobias vir groener weivelde verlaat, hoewel min van hulle sedertdien enige welslae in die bokswêreld kan wys.



'SUPERVOORBEREID'

Shonena sê hy is opgewonde oor die komende geleentheid.

“Daar is meer as twee maande voor die geveg. Ek voel gereed, maar ek sal in die gimnasium hard werk om die nodige afronding te doen. Ek is dankbaar teenoor my promotor, my afrigtingspan en MTC as borg vir hierdie geleentheid.

“Ek beloof my beste vertoning om my onoorwonne rekord voort te sit en ek nooi die publiek om my en al die ander boksers vir die aand te kom ondersteun.”

Youli Dong het in 'n kort verklaring gesê hy is ewe opgewonde oor sy

kanse.

“Ek kom na Namibië om te wen. Ek weet ek betree Shonena se tuisland, maar ek weet ook dat my Chinese broers en susters in getalle sal opdaag om vir my te skree. Ek is supervoorbereid en sien daarna uit om nog 'n gordel by my versameling te voeg.”

Volgens Tobias sal die vegters vir die res van die aand se program later bevestig word.

Gewone kaartjies vir die boks beloop N$100, wat ook toegang tot die Ongwediva handelskou se uitstallings sal bied.

Belangrike gaste wat naby aan die kryt sitplek wil hê, kan tafels vir tien teen N$10 000 aanskaf.

Computicket (by Shoprite- en Checkers-winkels landwyd) versprei die kaartjies, wat ook by die venue te koop sal wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!