Oorlog teen renosterstropers

SRT op die aanval
Francoise Steynberg
Ons renosters is onder beleg en Red die Renosterfonds is op die aanval.
Dit is die boodskap van die voorsitter­ van die trusteeraad van die SRT, mnr. Dudu Murorua, tydens ’n tweedaagse­ beplanningsvergadering­ in die Kunenestreek­ met verskeie rolspelers­.
“Dis oorlog,” het mnr. Koos Verwey beaam. Hy is ’n onafhanklike­ konsultant­ vir die Namibiese­ vereniging­ van CBNRM Onder­steuning­s­organisasies (Nacso) se natuurlike­ hulpbronne werkgroep. Hy is ook lid van die ministerie­ van die omgewing en toerisme se operasie­ wat deur die Namibiese polisie en verskeie­ ­rolspelers in die Kunenesetreek­ ondersteun word om renosterstropery vas te vat.
“Die laaste, oorblywende, ware woestynaangepaste­ swartrenosters in die noordwestelike Kunenestreek is veral weerloos en word spesifiek geteiken­,” sê Murora.
Volgens SRT wat in 1982 gestig is, was hul mandaat om renosters­ in die Kunenestreek­ te monitor en navorsing­ te doen. Die renosterbevolking­ het met die ondersteuning­ van die ministerie­, bewaringsgebiede en plaaslike­ gemeenskappe­ oor die afgelope­ twee dekades gegroei.
“Nou het alles heeltemal verander­ met georganiseerde misdaad­sin­dikate­ wat renosters in die gebied met dodelike­ presisie teiken en beskikbare­ hulpbronne kan nie hiermee meeding om die vloedgolf te stuit nie,” lui ’n mediaverklaring van SRT.
“Om suksesvol te wees om renosters­ te beskerm, vereis onmiddellike­ aanvaarding­ van die vlak van teenwoordigheid­ in die gebied.”
Dr. Axel Hartmann, die trusteelid­ wat die langste op die trusteeraad­ van SRT dien, sê: “SRT is gestig toe die Kunene se renosterbevolking op die rand van uitsterwing was. Ons het ’n lang pad sedertdien geloop, maar georganiseerde­ stropers in ons land is nou die grootste bedreiging vir ons renosters sedert onafhanklikwording. Ná alles waarvoor ons geveg het, is dit onaanvaarbaar.”
Die SRT is nou besig om spanne in die streek te herstruktureer, te ontplooi­ en te versterk.
“Dit is nie meer genoeg om renosters te soek nie, SRT soek nou stropers.”
Murorua, ook die voorsitter van die Kunenestreekraad, erken die uitdagings­ om in dié groot gebied van meer as ’n miljoen hektaar te werk wat geen status as nasionale park het nie: “Dit is ’n afgeleë, ruwe en oop gebied. Ons kan nie mense wat in- en uitbeweeg beheer nie, maar ons ken die gebied en sy renosters. Dit is ons sterkpunt.”
Hy het ook beklemtoon dat bewaringsgebiede­, die publiek en die media, vennote is om renosters te beskerm, maar dat inligting wat negatiewe­ gevolge op ’n voortgaande­ ondersoek sal hê, nie gedeel sal word nie.
“Die geveg is nie oor my of SRT of enige ander renosterbewaringsgroep nie. Dit is groter as dit. Ons moet vir ons renosters veg,” het Murorua beklemtoon­.
“Die stropers gaan nêrens heen nie en op die lange duur moet ons hulle uitgrawe. Maak geen fout nie: In die geveg gaan ons meer as renosters­ verloor, maar ons het ’n goeie en toegewyde span spoorsnyers,” het Verwey gesê.
Namibië het verlede jaar minstens 24 renosters weens stropery verloor.
Vir meer inligting, besoek SRT se webtuiste by www.savetherhinotrust.­org.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer