Oorlogsveteraan wil plaasgrond weggee
Volgens 'n barmhartige samaritaan het stigterspresident Sam Nujoma haar geïnspireer om duisende hektaar grond aan behoeftiges te skenk.
Catherine Sasman
'n Geregistreerde oorlogsveteraan wil 10 000 hektaar van haar plaas in die Hardapstreek weggee.
Me. Victoria Kauluma, dogter van die Ondonga-koning, Immanuel Kauluma Elifas, het in Maart 'n gedeelte van Plaas Lahnstein No. 193 op 'n veiling gekoop en daarheen getrek.
Die stuk grond, van 20 364 hektaar, is volgens haar te groot vir haar en haar twee kinders, wat tans beide in Kanada woon. “Ek wil nie alleen op die plaas bly nie. Ek wil 'n gedeelte aan die mense van die Hardapstreek gee,” het Kauluma haar ruim aanbod verduidelik.
Haar plan is om die 44 kampe op die plaas in minstens vyf hektaar-stukke te verdeel en vir mense te gee wat op klein skaal wil boer. Dit sal 2 000 voornemende boere begunstig. “Ek wil dit nie verkoop of verhuur nie. Ek wil dit gee vir mense wat dit verdien. Die grond was 'n geskenk van die Here en ek wil dit met ander deel.”
Kauluma, 'n stoere Swapo-ondersteuner, sê sy wil die grond skenk aan enige iemand, ongeag velkleur, oortuigings of partyverband.
“Ek wil dit vir die arm en behoeftige mense van die Hardapstreek gee, want dié mense ly; niemand sorg vir hulle nie. Dit sal soveel beter wees as mense die geleentheid het om te werk en hul eie tuine te skep. Daardeur kan hulle hul eie kos produseer pleks van die ewige afhanklikheid van Suid-Afrika. Ons het die bevoegdheid om selfonderhoudend te raak.”
Volgens Kauluma voorsien die Hardap-raadslede nie in die behoeftes van die mense nie, al het hulle talle geleenthede om dit te doen.
Sy meen baie Swapo-politici in die streek dink net aan hulself en dien nie die kiesers nie.
Sy sê voorts werkloosheid in die streek is 'n reuseprobleem en min word gedoen om die mense te hervestig nie.
“Daar is geen bemagtigingsprojekte vir die jeug, vroue en SME (klein- en mediumsakeondernemings) nie. Raadslede gee die projekte vir hul families en vriende.
“Waarom word die Hardap-mense nie hervestig sodat hulle kan floreer nie?”
BELANGSTELLENDES
Kauluma sê sy het haar besluit lank oordink en is geïnspireer deur die stigterspresident, dr. Sam Nujoma, wat 'n skool en kliniek op sy plaas aan omliggende gemeenskappe geskenk het.
“Ek het geleer van hom wat nie net vir mense van Swapo staan nie; hy het vir almal in die land geveg. Swapo kyk na almal, dit is jou moeder en vader, en die sleutel tot alle inwoners.”
Kauluma sê belangstellendes wat grond wil bekom, kan registreer by die 062-gebou in Bahnhofstraat op Rehoboth, of haar direk kontak by 081 467 6195 en 081 473 1569.
“Enigeen kan registreer, mits jy van die Hardapstreek is. Mense kan lewende hawe aanhou op die grond, maar dit is nie net vir weiding bedoel nie. Ek wil hê mense moet tuine aanlê om hulself te voed.”
Sy het sterk benadruk geen sjebeens of verkope sal op die grond geduld word nie.
Kauluma sal begunstigdes help om die grond op hul naam by die Registrateur van Aktes te registreer sodra sy kwytskelding van die ministerie van grondhervorming ontvang het.
Sy het ander wat tot dusver voordeel getrek het uit grondverkrygings, uitgedaag om haar voorbeeld te volg.
“Moenie selfsugtig wees nie. Gee klein stukke grond vir die toekomstige geslagte van Namibië.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie