Oormatige bosuitdunning het nadele
Oormatige bosuitdunning het nadele

Oormatige bosuitdunning het nadele

Die Okonjima-natuurreservaat streef daarna om ’n gesonde en gebalanseerde ekosisteem van bosveld en gras te handhaaf, aangesien oormatige bosuitdunning meer nadelig is as wat mense dink.
Navorser deel sy bevindings

Die Okonjima-natuurreservaat het begin om bosuitdunning vir bewaring- en toerismedoeleindes toe te pas en het die proses vir maksimum resultate en minimum omgewingsimpak vervolmaak.

Die reservaat suid van Otjiwarongo huisves die AfriCat-stigting, wie se navorsing ook op skaars en bedreigde spesies fokus.

“Ek het soms op die harde manier geleer; dis baie hartseer om die gevolge te sien van die verkeerde maniere om bosuitdunning te beoefen,” sê Wayne Hanssen, mede-eienaar van Okonjima en stigter van AfriCat.

Hanssen sê as ’n toerisme- en bewaringsinstelling het dit vir hulle talle voordele ingehou om hul proses te vervolmaak.

“As jy ’n wildplaas het, is die grootste bewaringsvoordeel van bosuitdunning dat jy nie soveel wild op jou plaas hoef aan te hou nie. As jy nie uitgedun het nie, het jy soveel meer van elke spesie nodig, wat tot oorbeweiding lei. Jy het sowat 10 hektaar per dier nodig; enigiets meer as dit en die wild sal jou grasse in die droogtejare vernietig.

“Bosuitdunning laat jou dus toe om heelwat minder diere op jou plaas te hê en steeds ’n kwaliteit wildrit te kan aanbied.”

KOMBINEER STRATEGIEË VIR GEDIVERSIFISEERDE EKOSISTEME

By AfriCat word ’n kombinasie van metodes vir optimale resultate gebruik. “Ek het gesien daar is nie net een metode wat alleen werk nie. Dis ’n kombinasie van metodes en aanpassings,” sê Hanssen.

“As jy in ’n gebied woon met meer as 400 mm se [jaarlikse] reënval, is ’n grasvlakte wat heeltemal oop is ’n vloedvlakte. ’n Vloedvlakte wat natuurlik voorkom, het ’n ander grondsamestelling as gevolg van die gereelde oorstromings; boomwortels sukkel om hierdie grond binne te dring en net sekere grasse kom in hierdie gebied voor.

“In ons omgewing lewe ons met bosveld, en jy wil bietjie bosveld op jou wildplaas hê, want dit hou waarde in vir jou wild.”

Volgens hom is dit van kardinale belang om ’n kombinasie van bosse en gras te hê.

“Daar is voordeel aan verbonde om bietjie bosveld te hê, en nie net grasvlaktes nie. Ekosisteme floreer in ’n ruimte vir gemengde gebruik. Bosveld word skuiling vir diere in die koue, en ons het gevind dat diere op bosse oorleef totdat die reën kom en die gras groei. In droogtetye het selfs van ons suiwer weiders oorgeskakel na bosse.”

Met dié begrip van die waarde van ’n gediversifiseerde ekosisteem, beveel Hanssen die metode aan wat hulle by Okonjima-natuurreservaat volg – die gekombineerde gebruik van ’n stootskraper en ’n bosroller.

“Met ’n roller ry jy selektief bo-oor die bos, rol dit plat en los dit dan net daar. Wanneer jy platrol, beskerm jy die grond en gee die gras kans om te ontkiem waar geen diere daarby kan uitkom nie. Dit voorkom ook gronderosie deur skadu vir die grond te verskaf, en lei reënwater in die grond in. Skadu, water en beskerming.”

DIE WETENSKAP AGTER SY METODE

Hanssen, ’n ywerige navorser, verduidelik sy metodes se bykomende voordele vir die ekosisteem.

“Wat indringerbosse betref, is Acacia mellifera (swartdoring of swarthaak) en Dichrostachys cinerea (sekelbos) die twee grootste probleemspesies, maar ek was verstom om uit te vind die akasiaboom is eintlik ’n peulplant. Dit het dus die vermoë om stikstof uit die lug te haal en kan deur bakterieë in die grond stikstof terugsit in die grond.”

Hy sê wanneer ’n akasia platgedruk word, sal jy ’n opwelling van hergroei in die plantegroei rondom die gerolde bos aantref, aangesien die wortels stikstof in die grond vrystel. Dieselfde groei in grasspesies rondom die area wat jy gerol het, behoort ook voor te kom.

Stikstof, fosfor en kalium is die drie belangrikste voedingstowwe vir plante. Dít, gekombineer met die beskermende dekking deur die gerolde bosse in die veld te los, bied ’n veilige ruimte vir die uiteenlopende hergroei van grasse.

“Vir enige plaas wil jy so 80 tot 100 Acacia mellifera per hektaar hê. Dus, afhangend van die digtheid van jou bosveld, wil jy al die bome los, maar ongeveer 60% van jou mellifera-spesies uithaal. Mellifera het ’n vlak wortelstelsel wat baie water uit die grond onttrek; maar moenie alles uithaal nie, want jy sal die grond vernietig.”

Hanssen is heftig gekant teen die gebruik van gifstowwe, weens die langtermyn negatiewe effekte daarvan. Hy verduidelik gif kan selfs tot tien jaar later die ondergrondse wortelstelsel van jou bome deurdring en hulle kan vrek. Selfs wanneer gif net op een deel van jou plaas gebruik word, kan reënwater na plekke dra waar dit nie moet wees nie.

“Die reën neem die gifstowwe na die wortelstelsels van jou groot kameeldorings en hulle gaan jare later dood. Hul wortelstelsels is so wydverspreid. Dit was baie hartseer vir ons om hierdie bome te verloor, so ek is hewig gekant teen onkruiddoder vir bosuitdunning.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer