Oorsaak van brand by krematorium ondersoek
Oorsaak van brand by krematorium ondersoek

Oorsaak van brand by krematorium ondersoek

Nadat die nuwe krematorium noodgedwonge sy deure in Desember 2018 moes sluit, was daar geen verassingsdienste vir 2019 in Namibië beskikbaar nie.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith



Volgens die Duitse ­maatskappy wat die nuwe ­krematorium in Windhoek gebou het, was die brand in Desember 2018 as gevolg van swak instandhouding.

Die N$15 miljoen-krematorium moes noodgedwonge sluit net 'n paar maande na sy opening.

'n Ondersoek na die oorsake van die brand wat in 2019 deur die Duitse maatskappy Ruppmann ­uitgevoer is, het bewys die splinter­nuwe krematorium is “sonder ­gereelde ­instand­houding en skoonmaak gebruik vandat dit op 10 Maart 2018 in werking gestel is”.

Die besturende direkteur van ­Ruppmann, mnr. Henning Burk, het gesê dit het gelei tot “groot ­hoeveelhede roet wat op die filter­sakke aangepak het, wat op die dag van die brand vlam gevat het”.

Burk sê van die maatskappy se ­verassingstelsels waarvan ­sommiges se verassingsgetalle hoog is, word suksesvol bedryf. Dié stelsels is ­identies aan Windhoek s'n.

Hy sê die City of Windhoek (CoW) se kommunikasie met die Duitse maatskappy was voor die brand beperk, en geen versoeke vir herstel- of instandhoudingswerk is tot dusver aan hulle gestuur nie.

Ruppmann het 'n verslag teen einde Maart 2019 ingedien, maar volgens Burk het daar dadels van gekom.

Burk sê 'n kwotasie vir ­herstelwerk is in April 2019 aan die munisipaliteit se versekeringsmaat­skappy gestuur, soos aangevra, maar ook dít is met stilte begroet tot dié maand.

Die munisipaliteit het verlede week gesê hulle was nooit direk met ­Ruppmann in kontak oor instandhoudingswerk nie, en het deur hul versekeringsmaatskappy gewerk.

CoW het gesê hulle moes steeds aan wetlike vereistes voldoen en dat die interne ondersoek en proses om die versekeringsuitbetaling te ontvang, uitgerek was.



LANG PAD VORENTOE

Die munisipaliteit het verlede week gesê die “oorverhitting” op 19 Desember 2018 het gebeur “ná die normale verassings plaasgevind het en vyf liggame veras is. Daar was geen aanduiding dat die masjien foutief is nie. Die masjien is afgeskakel soos die standaardprosedure vereis.”

Hulle het nie gereageer op Burk se bevindinge oor die oorsaak van die oorverhitting nie.

In 'n verklaring wat die munisipaliteit op 26 Maart uitgereik het, sê hulle alhoewel hulle 'n kwotasie van Ruppmann aangevra het vir herstelwerk, “is die verskaffer nog besig om die versoek te verwerk”.

In 'n reaksie verlede week het die munisipaliteit gesê 'n “bygewerkte kwotasie” is in Maart 2020 ontvang vir herstelwerk aan die ­krematorium. Die herstelkoste word op N$1,5 miljoen beraam.

CoW het gesê nadat die versekeringsuitbetaling goedgekeur is, kon hulle net 'n kwotasie vir herstelwerk vir “begrotingsdoeleindes vir die komende finansiële jaar van 2020-'21 aanvra”.



VERTRAGINGS

Burk het gesê nadat die kwotasie in April 2019 vir herstelwerk gestuur is, waarop hulle geen reaksie ontvang het nie, is die enigste ander kwo­tasie vroeër vandeesmaand ­aangevra.

Burk sê hy het die munisipaliteit vir geduld in dié verband gevra “aangesien ons tans 'n noodtoestand ervaar weens die Covid-19-pandemie, veral omdat 'n aanbod reeds beskikbaar is”.

Nadat die nuwe krematorium se deure gesluit is, was daar geen verassingsdienste vir 2019 in Namibië beskikbaar nie. Die munisipaliteit het ­bevestig die ou ­krematorium is sedert ­Januarie vanjaar weer ­operasioneel nadat N$138 000 ­uitbetaal is vir ­herstelwerk aan dié 45 jaar oue ­krematorium.

'n Begrafnisondernemer, wat anoniem wou bly, het gesê die heropening van die ou krematorium het verassingskostes vir kliënte drasties laat afneem.

Die ondernemer het gesê weens die onbeskikbaarheid van verassings­dienste in Namibië, het ­verassings hulle ongeveer N$14 500 per liggaam uit die sak gejaag, aangesien die liggame na Suid-Afrika vervoer moes word.

Volgens hom is dié koste nou ­ongeveer N$5 000.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!