Oorsaak van kusbrand nog u2019n raaisel
Oorsaak van kusbrand nog u2019n raaisel

Oorsaak van kusbrand nog ’n raaisel

Tydens die Twaloloka-brand moes brandweermanne op die toneel die brand én bystanders onder beheer bring.
Kristien Kruger
Leandrea Louw op Walvisbaai – Walvisbaai se brandweerdienste moes Saterdagaand onder moeilike omstandighede ’n brand in die Twaloloka- informele nedersetting op Walvisbaai beveg.

Die brand het honderde mense sonder enige heenkome gelaat. ’n Jong seun is in die brand dood en sowat 150 huise is verwoes.

Volgens die brandweerhoof, mnr. Dennis Basson, het bystanders die brandbestryders, polisiereserviste en werkers van die munisipaliteit met klippe bestook terwyl hulle besig was om die brand te bestry.

Basson het gesê die brandbestryders is ongedeerd, behalwe vir ’n paar krapmerke en bloukolle.

“Een van die brandbestryders is op sy neus geslaan en met ’n panga gedreig. ’n Paar van die brandslange is ook gesny.”

Een van die brandbestyders het gesê hulle is deur dreigende bystanders gewapen met okapi-messe en pangas omsingel.

Die munisipale watertrok is glo ook met klippe bestook. Die drywer het agter die trok se sitplek weggekruip en is later met verskeie beserings hospitaal toe geneem. Volgens Basson is hy reeds ontslaan.

“Sonder die gewapende magte en polisie wat ons beskerm het, sou die situasie aansienlik erger gewees het,” het Basson gesê.

Brandweer se strategie belemmer

Volgens Basson is daar verlede jaar drie brandkrane in Twaloloka geïnstalleer, maar hulle kon nie Saterdagnag toegang daartoe verkry nie. Dit was glo omdat daar te veel mense op die toneel teenwoordig was.

Volgens Basson het die brandweer omstreeks 19:32 die noodoproep ontvang. Die eerste groep brandbestryders het reeds om 19:40 na Twaloloka vertrek. Hulle het egter gesukkel om met die twee brandweerwaens en watertenk naby die toneel te kom, omdat bystanders se motors die pad versper het.

“Ons kon nie ons brandbestrydingstrategie effektief implementeer nie, aangesien ons nie die brandweerwaens en toerusting behoorlik kon ontplooi nie. Die bystanders het ons gekeer om ons amptelike pligte uit te voer,” het Basson gesê.

Oorsaak

Volgens Basson gaan dit onmoontlik wees om die oorsaak van die brand vas te stel.

“Dit is moeilik om vas te stel aangesien daar met die toneel gepeuter is. Die toneel is versteur omdat te veel mense op die toneel was.”

Brandbestryders het Sondag die Twaloloka-gemeenskap genader om die oorsprong van die brand te probeer vasstel. Volgens Basson word daar vermoed dat 'n kers die brand begin het, maar dit is nog nie beslissend nie.

Basson ontken bewerings dat die brandweerwaens sonder water by die stasie gestaan het.

“Dit is die wet. Alle brandweerwaens moet te alle tye vol water wees. Die enigste geval waar 'n wa sonder water is, is as dit herstel word of wanneer dit afgeskryf is. Wanneer ons uitgeroep word, moet ’n wa reeds vol wees, want dit vat 10 tot 15 minute om een vol te maak en dit is kritieke minute tydens 'n noodgeval. Dit het en sal ook nooit gebeur nie.” - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!