Oorsaak van robvrektes moontlik gevind

Toetsuitslae vanaf Onderstepoort toon geen teken van gifstowwe of siekte onder robwelpies nie – terwyl massavrektes voorheen ook tydens soortgelyke weeronreëlmatighede voorgekom het.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Wetenskaplikes is nou redelik seker 'n ernstige voedseltekort was die oorsaak van die massavrektes onder Kaapse pelsrobbe teen die sentrale kusgedeeltes van Namibië, wat die wêreld verlede jaar Oktober laat kopkrap het.

Dit volg op die toetsuitslae wat vanaf Onderstepoort in Suid-Afrika ontvang is nadat monsters van dooie robwelpies ontleed is. Geen tekens van gifstowwe of siekte is in die monsters gevind nie.

Dit bevestig vermoedens wat plaaslike wetenskaplikes tevore aan Republikein geopper het.

Mnr. Naude Dreyer van Ocean Conservation Namibia (OCN) het onlangs op hul Facebook-blad geskryf dat abnormale weerpatrone, soos 'n sterk La Niña-siklus, die bewegings van pelagiese vis teen ons kusgebiede geraak het.

“Dragtige robbe was erg ondervoed en hulle het in alle waarskynlikheid die fetusse geaborteer om self te oorleef. Data wat oor die afgelope 30 jaar bygewerk is, wys dat massavrektes voorheen ook tesame met dié weerpatroon voorgekom het,” het hy verduidelik.

Dit volg nadat 'n geskatte 10 000 dooie Kaapse pelsrobbe tydens die gebeurtenis vanaf Lüderitz tot verby Hentiesbaai opgemerk is. Ongeveer 5 000 geaborteerde robfetusse is by Pelikaanpunt alleen getel.

Toe reeds het dr. Simon Elwen, direkteur van navorsing by die Namibiese Dolfynprojek (NDP) aan Republikein gesê navorsers is redelik seker 'n gebrek aan genoeg kos is een van die faktore wat bygedra het tot die massa-aborsies en vrektes onder die robbe.

Die pelsrobbe, wat endemies aan Suider-Afrika se kuslyn is en vanaf die suidelike Angolese kus tot so ver as Algoabaai voorkom, het egter net in Namibië gevrek.

OPLEWING

Dreyer het teen die einde van Oktober verlede jaar tydens 'n lugopname opgemerk dat vrektes en aborsies onder die robbe afgeneem het en hulle was weer besig om visse te jag.

Lüderitz Marine Research het ook voorheen gesê massa-aborsies het oor die afgelope drie dekades onder robbe voorgekom in jare wanneer daar uiterste voedseltekorte was, wat verbind is met onreëlmatighede in oseanografiese toestande, soos lae suurstofvlakke in die water of 'n Benguela Niño-gebeurtenis.

BEDREIGINGS

Intussen het die OCN in hul jongste nuusbrief gesê gevalle kom al hoe meer voor waar robbe in allerhande mensgemaakte items verstrengel raak. Dit is ook 'n moontlike aanduiding van besoedeling van die oseaan.

Hulle het in 2020 alleen 600 verstrengelde robbe gehelp en gered en plaas gereeld video's van hul reddingspogings in die sosiale media.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!