‘Oorsese markte het nog baie fut’

Wall Street se handelaars het paniekerig begin raak toe die korttermyn-effekte-opbrengste die opbrengste op langtermyneffekte verbygesteek het.
Herman Scholtz – Selfs ná die langste bulmark in die geskiedenis van die Amerikaanse aandelebeurse glo sommige beleggingskenners daar is nog heelwat fut in oorsese markte.

Amerika se markte was ’n groot aandrywer van die opbrengste van buitelandse beleggings, maar Wall Street se handelaars het paniekerig begin raak toe die korttermyn-effekte-opbrengste op 22 Mei die opbrengste op die langtermyneffekte verbygesteek het.

Mike Schüssler, ekonoom van Economists.co.za, het aan beleggers by Rapport en Brenthurst Wealth se seminare oor buitelandse beleggings in Pretoria, Stellenbosch en Kaapstad verduidelik dat dié tendens dikwels in die verlede ’n resessie voorspel het.

Die afgelope week was die drie-maande-effekte steeds 21 basispunte bo die tien-jaar-effekte se opbrengs.

Glyn Owen, beleggingsdirekteur van Momentum Global Investment Management in Londen, het egter by dieselfde seminare gesê hulle bly optimisties oor vooruitsigte vir buitelandse beleggings. “Ek is al 40 jaar in dié bedryf, en die een ding wat elke keer gesê word, is: ‘Dié keer gaan dit anders wees.’

“Maar dié keer is dit regtig anders,” het hy geskerts.

Hy het aan die hand van voorbeelde verduidelik waarom die huidige wêreldekonomie in ’n werklik unieke situasie is:

· Die amptelike rentekoerse van die wêreld is al ’n dekade lank op uitermatig lae vlakke. Die Bank van Engeland se rentekoers is byvoorbeeld al geruime tyd die laagste wat dit sedert die jaar 1700 was.

· Opbrengste op “toevlugsoord”-bates soos staatseffekte is op geskiedkundige lae vlakke. Trouens, die effekte van Japan en Duitsland bied negatiewe opbrengste. “Daar is nou $10 triljoen se effekte met negatiewe opbrengste in sirkulasie.”

· Die wêreld het “ongekende” likiditeitsinspuitings van regerings van China, Amerika, Engeland, Switserland en die Europese Unie gesien sonder enige noemenswaardige aanduiders dat dié ekonomieë oorverhit.

“Dit is werklik dié keer anders,” het hy herhaal. “Ons verwag stadige, maar meer volhoubare groei.”

Hy sê die onlangse daling in groeivooruitsigte is eerder ’n sagte plek in die ekonomie en nie ’n dreigende resessie nie.

Hy en Schüssler sê albei die gevare en onsekerhede is wel op die horison, soos die handelsoorlog tussen Amerika en China en geopolitieke faktore.

Owen sê: “Ons gevolgtrekking is om deur te druk met jou (buitelandse) beleggings. Die groeisiklus het nog stamina.

“Maar verseker dat jou beleggings werklik gediversifiseer is en dat jy meer veerkragtigheid in jou portefeulje inbou.”

Gevra oor die buitelandse perspektief oor Suid-Afrika as ’n beleggingsbestemming, het Owen gesê: “Ons bly hoopvol, maar ons gaan nie nou belê nie.”

Wat van Suid-Afrika?

Schüssler het heel aan die einde van sy voorleggings gesê daar is enkele ligpunte vir Suid-Afrika, soos dat selfs ’n klein toename in sakevertroue ’n reuse-impak op die ekonomie kan hê.

“Die regering moet dringend sekerheid gee oor sleutelkwessies en pro-sake word. Die staat se salarisrekening moet besnoei word en staatsbeheerde ondernemings moet toegelaat word om te misluk, behalwe Eskom.

“Verminder die rompslomp soos visums en vervolg mense wat die ekonomie skade berokken, soos diegene wat vragmotors aan die brand steek.”

In die algemeen het hy egter nie goeie nuus vir Suid-Afrikaanse beleggers nie, sê Schüssler.

Alles dui daarop dat die regering se skuld afgegradeer gaan word. Suid-Afrikaanse ondernemings belê meer in die buiteland as plaaslik, en die regering kan nie ophou spandeer nie.

Geen objektiewe data dui tans op die soort ekonomiese groei wat Suid-Afrika nodig het om uit die huidige afwaartse spiraal te kom nie, sê hy.

Magnus Heystek, stigter van Brenthurst Wealth, het op ’n vraag uit die gehoor gesê die hoeveelheid bates wat ’n individu in die buiteland moet belê, hang af van elke individu se omstandighede.

Daar is wel sin in plaaslike beleggings in relatiewe hoë-opbrengsbates soos die geldmark en effekte vir baie Suid-Afrikaners – alles afhangende van wat die individu se voorsienbare toekomsplanne is en waar hulle in die toekoms hul geld gaan bestee.

“Sommiges behoort 100% in die buiteland te belê terwyl dit vir ander aansienlik laer is.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!