Oorwinning teen 'n oormag: Die vergete vrywilligers se offer
''n Reiservaring deur Pedro Vorster
Hul bloed klad die grond van die Suid-Afrikaanse veld.
Hul enigste skuiling in die oop veld was agter lae miershope. Die vernederde vyand was genadeloos.
“Ek het ’n harde slag aan my arm gevoel en gou daarna het ’n tweede koeël my onder die hart getref, deur my lewer getrek en aan my regterkant uitgekom.”
Terwyl hy hulpeloos lê, het ’n Skot van die Black Watch-regiment eerste sy makker, die gewonde Lindstorm, genader en deurboor met sy bajonet.
“Hy was so vier meter weg, toe lig hy sy geweer en mik op my. Net voor hy die sneller kon trek, gryp ’n Britse offisier sy arm en beveel: ‘Moet nie die gewondes doodmaak nie.’ Hy laat sak toe sy geweer en loop stil weg.”
Só onthou een Skandinawiese vrywilliger wat onder leiding van hul Kaptein Flygare aan die Magersfontein-veldslag deelgeneem het.
Hy was een van 52 Deense, Finse, Sweedse en Noorweegse immigrante wat, alhoewel vrygestel van militêre diensplig, saam met die Boere geveg het op 11 Desember 1899. Die vrywillige deelname van hierdie buitelanders is ’n aanduiding van die anti-Engelse sentiment wat in die Skandinawiese lande geheers het ten tye van die Anglo-Boereoorlog (1898-1902).
Sommige beweer die Skandinawiese afdeling is met Boere-verspieders voor die linies uit die nag van 10 Desember om as brandwagte op te tree. In die donker en reën word hulle afgesny van die Boeremagte. Later die oggend, tydens die geveg, word hulle omsingel deur die Engelse en meedoënloos afgemaai. Ses ontsnap terug na die Boerelinies, maar 23 sneuwel en 23 gewondes word gevangene geneem.
Voor die geveg stry die Boeregeneraals, De la Rey en Cronjé, oor strategie. Gelukkig kies President Steyn De la Rey se kant. Die uitslag van die konflik bewys hom reg.
Die Engelse korrel met 31 kanonne verkeerd. Luitenant-Generaal Lord Methuen van die Britse magte se eerste fout was om die koppe by Magersfontein hoog bo te bombardeer. Die Boere het loopgrawe gegrawe, maar anders as gewoonlik, laer aan die voet van die heuwels gelê en wag.
Die Britse soldate marsjeer deur boswêreld in geslote formasie deur die nag. Die terrein, noord van Kimberley, is besaai met doringbosse, vuisgrootte klippe en graspolle. Om bedags ongehinderd deur hierdie veld te loop, is byna onmoontlik. Die soldate se toerusting moes hul posisie weggegee het terwyl hul geloop en klingel het soos koeie met klokke.
Die resultaat is katastrofies: Engelse verliese 976. Van die Boere soldate sneuwel 250.
Die sukses van ’n veldslag word bitter gemeet aan lewensverlies. Later erken Methuen hy is verantwoordelik vir die Britte se nederlaag. ’n Mens wonder hoe hy vrede gemaak het met sy halsstarrige bevele toe hy sy vasgepende troepe in die vallei van die dood ingestuur het.
Vandag wei wildsbokke in kampe binne die gebied. Die toegangshek word beman deur ’n viendelike vrou.
By die hoof parkeerarea is daar ’n eet- en blyplek asook ’n klein, netjiese museum. Maar die tweespoor-grondpad na die Skandinawiese gedenknaald op ’n koppie, is ’n motor ontoeganklike bospaadjie.
Die skaalmodel van die gevegsterrein by die uitkykpunt op die hoofkoppie bied ’n goeie verwysingsraamwerk waarmee die troepe se bewegings tydens die geveg gevolg kan word.
Die Keltiese gedenkkruis op die hoogste punt van Magersfontein-koppie koggel. Dit is die hoë grond waarna die arme Black Watch, Highlands Brigade en ander Engelse afdelings na op pad was. Hulle het dit nooit bereik nie en dit het hulle duur gekos.
’n Lewensgrootte voorstelling van twee Boerekrygers in die loopgrawe in een donker museumkamer stel aktief met klank, toesprake, ou foto’s en spesiale effekte die geharwar van die stryd voor. Moet nie fliek-effekte verwag nie, maar skote klap, bomme bars en dra die vrees, onsekerheid en haglike toestande van die geveg oor.
Een stukkie dialoog is onbedoeld tragies-komies.
Volwasse Boere-kryger: “Dit lyk nie goed nie, Boet.”
Gewonde Penkop: “Dit voel ook nie goed nie, Oom.”
Dit klink nie goed nie, maar dié uitslag, al het dit lewens gekos, was ’n soete Boere-oorwinning.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie