Oorwinning vir ouers van surrogaatkinders

Die uitspraak baan ook die weg vir burgerskap om toegeken te word aan die Lühl-Delgado-egpaar se tweelingdogters.
Henriette Lamprecht
Jana-Mari Smith



'n Tweejarige seun van 'n Nami­biese burger en sy Meksi­kaans-gebore man wat via surrogaatskap gebore is, is as 'n Nami­biese burger deur afkoms in 'n mylpaal-vonnis verklaar.

Dié uitspraak deur hoërhofregter Thomas Masuku baan die weg vir ­burgerskap om toegeken te word aan sy tweelingsussies wat vroeër vanjaar ook via surrogaatskap gebore is.

Masuku het Woensdag gesê Yona Delgado Lühl word “hiermee as 'n Namibiese burger deur afkoms” verklaar en het die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit opdrag gegee om sy dokumente vir burgerskap binne 30 dae uit te reik. Die ministerie moet ook die ­regskoste betaal. Masuku sal volgende week die redes vir sy besluit verskaf.

“Dit is 'n groot oorwinning vir ­paartjies van dieselfde geslag en 'n groot oorwinning vir kinders wat buite Namibië vir Namibiese burgers via surrogaatskap gebore is,” het Delgado en Lühl se prokureur, me. Uno Katjipuka-Sibolile, gesê.

“Die tweeling is in dieselfde situasie, so hierdie uitspraak sou ook op hulle van toepassing wees en die ­ministerie sal ook sertifikate van burgerskap deur afkoms aan hulle moet uitreik,” het Katjipuka-Sibolile verduidelik.

Lühl het die uitspraak as 'n groot verligting, maar nie die einde van hul stryd beskryf om toegelaat te word om as familie in Namibië te woon nie.

Die egpaar het Maandag 'n appèlverhoor in die hooggeregshof bygewoon waar Delgado vir sy domisiliestatus baklei.

Gister se uitspraak was 'n welkome oorwinning in die familie se stryd van meer as twee jaar om wettige burgerskapstatus vir hul drie kinders te kry.

“Ons het nodig gehad om voort te gaan om in die wette en ons Grondwet in hierdie land te glo wat eintlik voorsiening maak vir gelykheid en niediskriminasie. Ek dink hierdie is werklik 'n stap in daardie rigting,” het hy gesê.

Delgado sê die uitspraak is 'n stap om die familie “meer tuis” te laat voel.

Yona is via surrogaatskap in Maart 2019 in Suid-Afrika gebore en sy sussies, Paula en Maya, in Maart vanjaar. Al drie was sedert hul geboorte staatloos weens die ministerie se standpunt dat die kinders, ten spyte van wettige geboorte­dokumente, nie geregtig op ­Nami­biese burger­skap was sonder dat Lühl sy vaderskap met DNS-toetse bewys nie.

Aan al drie is wettige Suid-­Afrikaanse geboortesertifikate en hofbevele uitgereik wat Lühl en Delgado as hul wettige ouers erken.

Die ministerie se weiering van twee maande om die tweeling toe te laat om huis toe te keer, het wydverspreide nasionale en internasionale aandag getrek.

“Vandag is 'n goeie dag om 'n Namibiër te wees, 'n goeie dag om 'n jong, gay Namibiër te wees en 'n goeie dag om 'n vrygebore Namibiër te wees,” het mnr. Omar van Reenen van die Namibia Equal Rights Movement ná die uitspraak gesê.

“Dit is hoe dit lyk om vrygebore te wees en dit is waarvoor die bevryders baklei het, vir 'n land wat nie langer mense vasgeketting aan die boeie van diskriminasie hou nie,” het hy gesê.

Me. Ndiilokelwa Nthengwe, 'n kampvegter vir geslagsgeregtigheid van die Positive Vibes Trust, sê die uitspraak het 'n presedent geskep.

“Dit is 'n presedent vir die toekoms van Namibië, vir die toekomstige gesinne van Namibië, vir toekomstige selfdegeslagpaartjies van Namibië en mense van diversiteit in Namibië,” het sy gesê.

Sy het gesê die uitspraak "handhaaf die waardigheid van individue uit verskillende geslagsgroepe, uit verskillende verhoudingsgroepe.”

Volgens haar is die stryd egter nog nie oor nie en Namibiërs sal voortgaan om protes teen diskriminasie en ongelykheid aan te teken en om druk uit te oefen op rolspelers om die grondwetlike regte vir almal te handhaaf. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!