Op die langpad na oornagsukses

Lloyd Zandberg
Namibië is by verre een van my gunstelingplekke, sê Corlea Botha, een van Suid-Afrika se voorste sangsensasies.

Haar destydse ervaring met ‘n vierwieler op Swakopmund se duine is een van die goed wat sy weer wil doen tydens haar huidige toer deur ons land.

“Die mense hier is net so wonderlik soos die natuurskoon,” sê sy.

“Ons kon al so bietjie toer en wonderlike dinge beleef. Ons was ook een keer op ’n privaat lodge waar daar slegs vier gastekamers is, en geen selfoonsein, behalwe in die hoofhuis nie. Daardie twee dae van rus was hemels.”

Corlea is tans weer in Namibië, waar sy vanaand op Omaruru by die Omaruru Kunstefees optree.

Kollig het met haar gesels.

“Behalwe vir die feit dat ek saam met ’n volle orkes, strykseksie en blaasinstrumente gaan optree, gaan daar beslis ’n hele paar ou bekendes op die program wees, sowel as ’n paar liedjies van my nuwe album, wat nog nie vrygestel is nie,” het sy oor die beoogde optrede gesê.

Corlea was skaars drie toe haar ouers haar sangtalent ontdek het.

“Op vyf het hulle gevoel ek is gereed om lesse te neem. I was like a fish in water!” sê sy.

Sy vertel kortliks van haar eerste optrede en sê sy kan dit duidelik onthou.

“Die verhoog was nie vreemd of intimiderend nie. Dit het gevoel soos my tweede huis. Ek het daar en dan besef ek gaan dit vir die res van my lewe doen.”

En sy was nie verkeerd nie. Sedert Corlea se eerste optrede het sy nog nooit ophou sing nie.

Ná soveel jaar in die musiekbedryf, met ’n horde shows op haar kerfstok, moet daar sekerlik ervarings wees wat haar tot vandag toe bybly. Sy het al onder meer die voorreg gehad om haar stem in Japan te laat hoor.

“Ek het die voorreg gehad om al vier keer Japan toe te toer en daar op van die ongelooflikste verhoë en by feeste te sing. Ek het op 13-jarige ouderdom ’n landswye sangkompetisie gewen, met meer as 6 000 inskrywings.

“Ek het net voor my 30ste verjaardag vir die eerste keer in New York in ’n baie bekende en gesogte jazz-klub gesing! Elke jaar se Afrikaans is Groot- en Classics is Groot-optredes lê my na aan die hart! Ek is ook hierdie jaar vir die eerste keer op ’n beoordelaarspaneel vir ’n werklikheids-sangkompetisie op Via,” vertel Corlea.

Maar, soos gewoonlik, verloop alles in die lewe nie altyd volgens plan nie. Corlea het al verskeie lesse in haar loopbaan geleer.

“Talent dra ‘n mens net tot op ‘n punt. Daar is soveel fasette aan die bedryf, en om ’n lang, suksesvolle loopbaan te hê, moet mens redelik vinnig en op jou voete leer.”

Colrea se ma, Mesadi Botha, wat ook haar bestuurder is, het haar van kleins af geleer om altyd nederig te bly.

“Niks maak een mens beter as ’n ander nie, veral nie net omdat ’n paar duisend mense dalk my naam en gesig toevallig ken nie. Professionaliteit, integriteit en respek kan jou ver bring.”

‘n Mens kan seker sê haar sukses het baie te doen met haar talent, maar Corlea sê daar is baie ander aspekte van haar loopbaan wat tot haar sukses bygedra het. Dit laat mens wonder wat vir haar die lekkerste van haar loopbaan is.

“Daar is nie een spesifieke aspek wat meer uitstaan as ’n ander nie, maar daar is verskeie goed wat ek bitter baie geniet en waardeer,” sê sy.

Sy geniet dit veral baie om te reis.

“Dit kan mens ook redelik moeg maak, maar ek geniet reise. Ek ontmoet ongelooflike mense, en van hulle het baie goeie vriende geword - juis ’n wonderlike klomp Namibiërs.”

Al klink dit soos ‘n cliché is dit vir haar elke dag ‘n eer om haar passie en jare lange droom ten volle te kan uitleef.

Kan jy enige instrument speel?

Ek kan net genoeg klavier speel om liedjies te skryf, maar sal nooit voor iemand speel nie. Ek het myself begin kitaar leer toe ek ’n tiener was, maar met die lang naels kan ek nie akkoorde druk nie!

As jy saam met enige ander kunstenaar kan optree, saam met wie sal dit wees?

Ek het al dikwels in my loopbaan die voorreg gehad om saam met van my helde te sing. Saam met Nataniël het ek jazz gesing. Saam met Coenie de Villiers het ek ’n splinternuwe lied opgeneem, wat hy getoonset het – nogal oor Namibië. Saam met Hugh Masekela het ons ’n nuwe weergawe van een van sy ou treffers gedoen. Saam met Brandon October het ek al dikwels die verhoog gedeel, en ons het al alles van 50’s tot rock saam gedoen. Saam met my vriend Jannie Moolman is dit áltyd ’n fees op die verhoog, en saam met Joseph Clark was “Phantom of the opera” iets wat ek nooit sal vergeet nie!

Vertel ons van jou nuwe enkelsnit? Wat het die lirieke geïnspireer?

Die liedjieskrywer Johan Oberholzer het hierdie lied vir my gestuur, en ek het binne die eerste paar sinne geweet ek wil dit so graag sing!

Dit is vir my ’n liefdeslied met ’n twist - daar is soveel liefdesliedjies daar buite, en dit kan so afgesaag raak. Hierdie lied herinner my aan die perfekte liefde, soos dié van God vir elkeen van ons, Sy kinders.

Hy sê dat ons dalk ongehoorsaam mag wees of Hom teleurstel, maar ons bly Sy kinders en Hy bly lief vir ons.

As elkeen van ons só ’n liefde kan vind, sal die wêreld ’n wonderlike plek wees!

Wat maak van iemand ‘n kunstenaar?

Weer eens, daar is soveel aspekte . . . Kunstenaarsintegriteit is vir my baie belangrik! Mens kan nie voorgee wat mens nie is, net om albums te verkoop nie. Uniekheid is ook hoog op my lys! En natuurlik, bowenal, talent.

Wat verpes jy?

Onregverdigheid, mense wat nie kan bestuur nie, en onbekwaamheid.

As daar iets is waarsonder jy nie kan leef nie, wat sal dit wees?

Ongelukkig my selfoon. Ek beheer self my sosiale media, asook my admin. My hele lewe is op my foon. Ek toer ook redelik baie en dis wonderlik dat mens in kontak kan bly met al jou geliefdes.

Veronderstel jy moet eendag ‘n biografie van jouself skryf, wat sal die titel wees?

It takes a long time to be an overnight success.

Die komiese weergawe sal wees Selfs ’n blinde hoender pik af en toe ’n pit raak!

Is daar iets van Corlea wat mense nooit sal raai nie?

Ek is ’n vreeslike nippertjie-mens, en my ma is altyd goed voorbereid. Die nagevolge is dat ons so elke nou en dan effe vassit oor die voorbereiding van projekte. Ek vaar wel báie goed onder druk en sy het dit so aanvaar, hoewel dit haar geensins minder gryshare gee nie!

As jy Whitney Houston, Bob Marley of Freddie Mercury kon terugbring, wie sou jy kies en hoekom?

Dis ’n onmoontlike vraag! Elkeen het so ’n reuserol gespeel, nie net in die musiekbedryf soos ons dit vandag ken nie, maar ook as ikone vir persoonlike struggles.

Ek gaan wel sê ek het ’n groot sagte plek vir Freddie Mercury.

Ek was gelukkig genoeg om Queen se oorspronklike orkeslede regstreeks in New York, saam met Adam Lambert as hoofsanger, te sien optree.

Ek het soos ’n superfan gegil, en met “Who wants to live forever” het ek natuurlik soos ’n cartoon gehuil!

Jy het al saam met Nataniël opgetree. Vertel vir ons meer van dié ervaring.

Nataniël is een van die ikone in Suid-Afrika waaroor mense wonder – hulle wonder of hy regtig so praat, regtig so snaaks is, regtig so flambojant aantrek en leef.

Die antwoord op al hierdie vrae is ja. Wat mense nié weet nie, is dat hy só nederig is, baie gesteld op maniere en waardes is, en jou heeltyd op jou tone hou. Wat ’n ongelooflike mens. Ek het al soveel by hom geleer!

Kan ons uistien na nuwe musiek?

Ja! Ek het aanvanklik met ’n tweetalige album begin, maar het intussen besluit om die Engels en Afrikaans te skei. Dit beteken binnekort word nie net een album uitgereik nie, maar twee! Ek is my aanhangers dit verskuldig ná die lang wagperiode van sewe jaar!

Wat is jou boodskap aan die mensdom?

As ons almal net mekaar ’n stukkie geluk wil gun en die son soms oor ander mense ook kan sien skyn, sal ons sien daar is oorgenoeg plek vir ieder en elk!

Kaartjies na vanaand se optrede op Omaruru is by Computicket beskikbaar. Sitplek is beperk, so moenie slaap nie, roer!

Kommentaar

Republikein 2024-11-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 21° | 33° Eenhana: 20° | 31° Oshakati: 19° | 30° Ruacana: 21° | 30° Tsumeb: 21° | 31° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 20° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 22° | 37° Aranos: 21° | 36° Lüderitz: 18° | 28° Ariamsvlei: 22° | 39° Oranjemund: 14° | 25° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 18° | 30° Lubumbashi: 16° | 29° Mbabane: 12° | 28° Maseru: 14° | 26° Antananarivo: 15° | 31° Lilongwe: 20° | 29° Maputo: 17° | 30° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 15° | 23° Durban: 16° | 24° Johannesburg: 14° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 18° | 25° Harare: 16° | 25° #REF! #REF!