Op die spoor van Hardapdam se opvangsgebiede

Goeie reënjare in Namibië maak mense oraloor opgewonde.
Kristien Kruger
Kallie Pauw (gasskrywer)



Die onlangse wonderlike reën in groot dele van Namibië en verslae daaroor en foto's van vol riviere en dansende boere het mense (soos ek, hier onder uit die suide in die Wes-Kaap) baie laat kyk na kaarte en soek vir riviere.

Die bouwerk aan die Hardapdam naby Mariental is 58 jaar gelede, in 1963, voltooi. Dit is die tweede grootste dam in Namibië en sy kapasiteit is 320 miljoen kubieke meter.

Daar is al meermale op Facebook in Reën in Namibia genoem dat die dam se water gewoonlik uitgelaat word wanneer dit ongeveer 70% vol is, om vloedskade onder die damwal by besproeiingsboere en die dorp Mariental te voorkom. Die stand van Hardap­dam was gisteroggend op 63.4%.

In die afgelope 50 jaar het vloed­skade wel in onder meer die jare 1972, 1974, 1976, 2000 en 2006 voorgekom.

Die nuwer Neckartaldam is nou Namibië se grootste dam en sy kapasiteit is bykans drie maal groter (880 miljoen kubieke meter) as die Hardap s'n. Die Neckartal is in 2018 voltooi en dit was nog nooit vol nie; ná die wonderlike onlangse reën is dit tans 47.24% vol – verreweg sy hoogste vlak nóg.

Interessantheidshalwe (vir veral Wes-Kapenaars?): Die Theewaterskloofdam se kapasiteit is 480 miljoen kubieke meter en die ses vernaamste damme wat Kaapstad saam van water voorsien (Theewaterskloof, Voëlvlei, Bergrivier, Wemmershoek en Bo- en Onder-Steenbras) se gesamentlike kapasiteit is naastenby dieselfde as die Neckartal s'n.



Opvangsgebiede van

die Hardapdam

(sien aangehegte kaart):

Ek het toe bietjie ge-google-map en die meegaande kaartjie saamgestel.

Hopelik is daar enkele lede van Reën in Namibia wat dit wel interessant sal vind. Baie mense ken die gebied beter as ek en sal kommentaar kan lewer oor die plasing of kan wys waar die pot misgesit is (enige “pot mis sit” sal hopelik help om die dam se vlak te laat styg!).

Die riviere is almal verskillende kleure en die nommers in die geskrewe gedeelte stem ooreen met die nommers op die kaart. Die kaart en hierdie beskrywing moet dus saam gelees word.

Die Visrivier (blou) ontspring (1) kwalik 1 km noord van die D850, sowat 20 km noordwes van Maltahöhe. Die Vis vloei aanvanklik noordwaarts en swaai dan noordoos verby Nomtsas.

Dit wil vir my as leek voorkom of party van die sytakke van die Vis se opvangsgebiede bó die Hardapdam effens groter is as dié van die Vis se eie aanvanklike opvangsgebied.

By Nomtsas sluit die Usib (swart) by die Vis aan. Die Usib ontspring (2) wes van die D850, kruis daardie pad en vloei noordooswaarts totdat hy by Nomtsas deel van die Vis word.

Die Narob (bruinrooi) ontspring (3) 'n entjie bo die plaas Gamis en sluit 10 km noord van Nomtsas by die Vis aan, terwyl die Kamrivier se aansluiting nog 20 km verder noord is. Die google-kaart bevat verwarrende inligting oor die oorsprong van die Kam; die oorsprong van die Kam (rooi) word op twee plekke aangedui: (i) so 12 km noordoos (4) van Solitaire – dit vloei dan verby Guisis en Klein Aub; en (ii) ongeveer 12 km noord (5) van Bullsport – dit vloei dan verby Rietoog voor dit by die “ander” Kam aansluit.

Nog 12 km verder noordoos van die Kam-aansluiting sluit die Schlip (groen) by die Vis aan (bo die Schlip-nedersetting word die rivier die Goma-Aib genoem) – dit ontspring (6) 15 km noord van Klein Aub, vloei noordooswaarts en kruis die M47 by Kobos, van waar dit suidsuidoos vloei en aansluit by die Schlip.

Die Gamgam (geel) is 'n sytak van die Goma-Aib en ontspring (7) oos van die B1-grootpad en vloei dan weswaarts verby Tsumis om later by die Goma-Aib aan te sluit en die Schlip te word.

Ná die Schlip-aansluiting swaai die Vis ooswaarts tot by die Kaltrivier (ook wyd bekend as die Kalfrivier) (pienk) se aansluiting (naastenby 16 km oos van die Schlip).

Die Kalt/Kalf ontspring (8) ongeveer 20 km oos van die M47 en vloei dan suidsuidoos en kruis die D1259 en die D1254 (by Omomas) voordat hy verder suid by die Vis aansluit.

Ná die Kalt/Kalf se aansluiting swaai die Vis suidooswaarts tot by die Har­dapdam (ongeveer 30 km verder).

Net voor die Hardap sluit die Packriemrivier (ligblou) uit die weste aan by die Vis (die Auros sluit aan by die Packriem voor dit die Vis bereik). Die Packriem ontspring (9) net oos van die C21 bykans 30 km noordoos van Maltahöhe.

– Ons gasskrywer is mnr. Kallie Pauw, 'n vryskutsubredakteur en vertaler van Kuilsrivier by Kaapstad.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!