Op die verhoog by Ekspo: Dalin Oliver, Taap The Guy

Yandi Du Plessis
“In 2010 was ek besig om vir 'n politieke wetenskap-eksamen in my derdejaar te studeer, toe ek besef ek is doodverveeld. Ek dink dit word verwag as jy politiek swot.

“Die volgende oomblik het ek 'n paar komiese gedagtes op papier begin neerskryf. Ek weet nie rêrig waarom nie. Ek het dit ongeveer 'n uur lank gedoen, die volgende dag wakker geword en vir my ouers en vriende gesê ek gaan 'n komediant word,” vertel Dalin Oliver.

Hy sê alhoewel sy vriende en familie aanvanklik nie gedink het hy is ernstig nie, het hulle hom ten volle in dié reis ondersteun.

"Na 'n maand en honderde e-posse aan komedie-agente, het ek my eerste gig by die Jokers Comedy Club in Athlone losgeslaan, en die res is geskiedenis!" vertel hy.

Die pad van sy loopbaan het in stadiums allerhande ompaaie geloop. Hy het byvoorbeeld vir twee maande as wiskunde- en geskiedenisonderwyser gewerk voor hy die swartbord vir 'n mikro­foon en die verhoog verruil het.

Dalin sê hy voel tuis op die verhoog. “Dit is my gelukkige plek. Ek is 'n komedie-nerd en hou daarvan om te leer oor die verskillende paaie wat mense in die lagbedryf geneem het. Die proses is alles. Om te misluk, te slaag en te glo in die eindproduk waar jy 'n kamer vol vreemdelinge kan laat skaterlag, is 'n merkwaardige reis.”

Die inperking was vir hom uitdagend, en alhoewel hy besig gebly het met aanlyn optredes, sê hy hy het die verhoog gemis. “Dit is nie dieselfde sonder die reaksie en gelag van die gehoor nie. Die reaksie is wat die vertoning so wonderlik maak.”

Hy kan nie wag om uit die huis te kom en vir 'n slag iets anders as sy pandemie-uniform (pajamas) aan te trek nie. Enige geleentheid om stand-up te doen, is 'n seën, sê Dalin. “Ek kan nie wag om weer op die verhoog te klim nie. As ek dit in een van my buurlande kan doen, is dit soveel beter. Afrika is so 'n pragtige vasteland, en as die geleentheid hom voordoen om meer daarvan te sien, gryp jy dit met albei hande én sommer voete ook aan.

“My optrede sal een lang terapiesessie wees. 'n Goeie een. Ons gaan lekker kuier en lekker lag. Nou meer as ooit tevore dink ek het ons iets nodig om oor te lag en te glimlag en daar is geen beter plek as by die Namibië Toerisme Ekspo nie!”

Die toerisme- en vermaakbedryf gaan sonder twyfel hand aan hand, sê hy. “Toerisme is basies vermaak op wiele en vermaak is 'n reis soos geen ander nie.”

Dalin het Namibië al voorheen vlugtig besoek, maar het “net 'n paar kilometer oor die grens gery. Ek kan nie wag om te sien wat julle mooi land verder bied nie! Ek kan nie wag om regte mense te sien nie!”

Hy wil net Namibiese gehore laat skaterlag, sê hy ter afsluiting.



TAAP THE GUY

Alhoewel 2020 een van die moeilikste jare vir baie mense is, meen Taap The Guy dat dit een van sy mees suksesvolle jare in die vermaakbedryf is.

Hy verduidelik dat hy nie soos ander komediante sy grappe maande vooruit skryf nie, maar slegs op die nippertjie begin skryf.

“Vir die ekspo kan jy grappe verwag oor hoe dol 2020 was, hoe die hoktyd vir my was, verhoudings, 'n paar grappe oor die regering en ander relevante goed. Ek is 'n waarnemende komediant.”

Ofskoon hy vir die afgelope drie jaar deel van die “Money or the Box”-speletjiesprogram by die Namibië Toerisme Ekspo was, sal dié jaar sy eerste solo-vertoning as komediant wees.

Hy is opgewonde om sy komedievaardighede na die toerismesektor te bring.

“Ons kan nou inhoud skep wat Namibië se besienswaardighede bevorder.”

Gedurende die jaar het hy saam met King TeeDee aan 'n komediesitkom gewerk wat op plaaslike TV-kanale, asook YouTube uitgesaai sal word. Die projek is in samewerking met die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste gedoen.

Hy is tans besig om aan Namibië se eerste aksieheld, Pangaman, te werk. Die Adventures of Pangaman sal na 'n fliek, TV-reeks en strokiesprentboek verwerk word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer