Op die verhoog by Ekspo: Rubber Duc en Riaan Smit

Yandi Du Plessis
RUBBER DUC

Die lede van Rubber Duc se passie vir musiek kom al ’n lang pad. “Ons almal kom uit verskillende agtergronde in terme van kultuur en die musiek waarmee ons grootgeword het. Dis egter ongelooflik hoe ons diverse agtergronde uiteindelik die klank van Rubber Duc gevorm het.”

Hulle sê hoewel die pandemie hul inkomstekapasiteit drasties benadeel het, het dit ook vir hulle ’n geleentheid geskep om hul vaardighede op te skerp in ander aspekte van musiek, liedjieskryf en produksie.

“Dit het ook nuwe lewe geblaas in ons liefde vir live optredes,” voeg hulle by. Té gereeld aanvaar mens dit as vanselfsprekend, eerder as ’n voorreg om voor ’n skare te speel, sê hulle.

Hoewel hulle Suid-Afrika reeds platgereis het, sal dit hulle eerste keer in Namibië wees. “Om nuwe dorpe, stede en lande te verken, was nog altyd ’n voordeel van ons beroep. Ons kan nie wag om Namibië te verken nie! Ons het al soveel wonderlike dinge van die land gehoor en is baie opgewonde om die uniekheid daarvan eerstehands te ervaar.” Rubber Duc het al in die verlede saam met die Namibies-gebore sanger Hugo Ludik gewerk.

Kuns en toerisme lê dié groep na aan die hart, en hulle glo die twee bedrywe verryk mekaar. “Kyk na die skoonheid in die kultuur en landskap, hoor die skoonheid in ons melodieë en lirieke. Ons reis om ons klank met die wêreld te deel. Die toerismebedryf laat toe om ons klank wêreldwyd te versprei.”

Hul aanhangers kan uitsien na ’n unieke en energieke program. As jy nog nooit Rubber Duc sien optree het nie, wag ’n verrassing op jou.

“Sodra dié uitdagende tye verby is, sal mense desperaat wees om weer te reis en te verken. Vir nou sal ons baie harder werk vir baie minder, maar daar is lig aan die einde van die tonnel en ons kan verwag om besiger as ooit tevore te wees as dit alles oorwaai.”

RIAAN SMIT

Hoewel die blues-sanger Riaan Smit sy moederland reeds op 15-jarige ouderdom vir Suid-Afrika verruil het, het hy hom in 2020 weer in Namibië bevind en hy “kon nie méér gelukkig wees” met dié skuif nie.

Hy het reeds op die ouderdom van 12 in bands begin optree en nadat hy vir ’n paar jaar tussen groepe geswerf het, het hy sy eie groep genaamd Crimson House gestig.

Aanvanklik het die pandemie sy loopbaan tot stilstand laat knars. “Ten tyde van die uitbreking het ek op die Karibiese eilande gewoon met die vooruitsig van talle konserte en ’n vol bespreekte toer in die VSA. Dit was aanvanklik skrikwekkend.

“Hoe dit ook al sy, ek moes kreatief raak met hoe ek as kunstenaar dinge doen. Ek het ander kunstenaars met hul ontwikkeling begin help. Dit het my opnuut herinner om nooit te gemaklik en selfvoldaan te raak nie,” vertel hy.

“Ek is baie opgewonde om by die ekspo op te tree, aangesien dit my regtig sal help om myself as ’n Namibiese kunstenaar te vestig. Hoewel ek hier gebore is en die land gereeld oor die jare besoek het, sien vele aanhangers my as ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar. Ek identifiseer as ’n trotse Namibiër en hoop dat ek as plaaslike kunstenaar by die ekspo my status as Namibiese sanger kan vestig.”

Riaan vertel hy het al ervaar hoe toeriste uit elke uithoek van die wêreld reis om ’n spesifieke kunstenaar in hul eie stad te hoor. “Musiek is ’n groot deel van kultuur en kan kulturele ervarings oorsteek; dit is ’n taal wat alle grense oorsteek en oral gepraat word.

“Namibiërs is ongelooflike mense met soveel om te bied – van ons kuns, ons musiek, ons kos en ons lekker atmosfeer. Vermaak en toerisme moet so nou as moontlik verbind word om die Namibiese ervaring optimaal te benut, meen hy.

Buiten die landskappe, natuurlewe en vryheid, is dit die mense wat die land spesiaal maak, sê Riaan.

“Ek hoop ons kan hieruit leer dat ons mekaar plaaslik moet ondersteun. Die toerismebedryf het wêreldwyd soveel op internasionale reise gesteun. Ek is dikwels hartseer as ek sien dat enige plek vir sy eie mense ontoeganklik word. Ek hoop dat ons ’n verskuiwing sal sien na meer plaaslike ondersteuning, en sodra toerisme volledig terugkom, moet ons nie vergeet dat die wêreld weer op enige tydstip kan sluit nie. Ons moet na mekaar omsien; só sal ons hierdie pandemie oorleef.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer