• Tuisblad
  • Omgewing
  • Op Fonteine, tussen berg en klip, vind Riemvasmakers ’n tuiste

Op Fonteine, tussen berg en klip, vind Riemvasmakers ’n tuiste

Bewaring en toerisme vat hande
Tanja Bause
Tanja Bause –Die Rhyn-familie woon tussen berge en klippe op die plaas Fonteine in die Kunenestreek.

Die Rhyns is Riemvasmakers wat met bokke en beeste so tussen leeus en ander wilde diere probeer boer.

Die familie is saam met talle ander in 1973 van Kakamas in Suid-Afrika na Damaraland in Namibië hervestig. Ouma Johanna Rhyn (90) en haar familie het op Fonteine ’n holte vir hul voet gevind.

“Ek het elke aand gehuil en wou net teruggaan huis toe. Ek het na die bome en bosse van Kakamas verlang. Hier waar ons nou is, was daar net klippe en berge. Ek was baie ongelukkig, maar nou is dié wêreld my huis en ek sal nooit hier weggaan nie. Die plek het diep in my hart ingeklim,” vertel ouma Johanna.

Met hul aankoms op Fonteinewas daar net die huis van die vorige boer op die plaas. Dit was in ’n haglike toestand met die dak, vensters en deure wat uitgeruk en geplunder was. Die familie het die huis opgeknap en deur die jare heen aangebou en uitgebrei. Hulle het met ’n bok- en skaapboerdery begin en daarmee saam het die konflik tussen mens en dier gekom.

“In Kakamas het ek by mense in die kombuis gewerk of druiwe en katoen gepluk. Op Fonteine het ek bokke opgepas. Ek kan nie lees of skryf nie en ek het seker gemaak al my kinders gaan skool om te leer sodat hulle ’n sukses van hul lewens kan maak,” sê ouma Johanna.

Sy vertel met hul aankoms op Fonteine is droë bosse aan die brand gesteek om die leeus weg te hou.

“Vandag werk dit nie meer nie, want die leeus het nou bitterlik mens geword en skrik nie meer nie.”

Huidig is daar sewe huishoudings met elk sowat tien mense op Fonteine wat in die Torra-bewaringsgebied geleë is. Op die omliggende plase Vrede, Bergsig, Rietfontein en De Riet woon ook Riemvasmakers wat ’n lewe uit hul boerdery en toerisme maak.

“Ek was 17 toe ek en my familie op Fonteine aangekom het. Ons het glad nie leeus of olifante geken nie. Daar in Kakamas waar ons vandaan gekom het, het ons nie sulke rowwe diere geken nie. Maar hier was ons nou en ons moes ’n plan sien om die boerdery en die wilde diere te maak werk,”vertel die hoof van Fonteine, mnr. Jantjie Rhyn.

Hy het soos baie ander jong mans werk in ander dorpe gaan soek sodat hy geld huis toe kon stuur na sy mense op Fonteine.

“Dit was baie moeilik om so ver weg van die familie en jou mense te wees. Op die plaas en in die omgewing was daar nie vir ons werkgeleenthede nie. Om geld te hê sodat die mense op die plaas kon lewe en kon boer, moes ons dorp toe gaan om te werk,” sê hy.

Toe hy die verlange egter nie meer kon verduur nie, is hy terug Fonteine toe om te gaan boer. Volgens Rhyn het die boere in die omgewing baie verliese veral weens leeus gely.

“Ons het besluit ons moet die leeus en olifante gebruik om hier ‘n suksesvolle bestaan te kan maak. Ons het die weiding reg vir vee gehad, maar nie raad oor die wilde diere nie. Dit is toe ons die eerste keer gesprekke met die regering gehad het. Ons het vir hulle gesê ons as die gemeenskap wil die reg hê om die wilde diere te kan bestuur,” verduidelik Rhyn.

Stigterspresident Sam Nujoma het N$5 000 aan die gemeenskap geskenk en gesê hulle moet ’n plan beraam om die wilde diere te bestuur.

“Dit was die begin en ons het vergaderings met die gemeenskappe gehou. In 1995 is die Ward 11 Residents-trust gestig. Ons het vir mense gesê as ons die diere reg bestuur, kan ons toerisme in ons gebied bevorder. Ons moet vennootskappe met toerisme- maatskappye smee, ter wille van ons gemeenskappe en ons jong mense. So kan ons werksgeleenthede na die gemeenskappe bring en jong mense hoef nie weg te trek nie”

Die Ward 11 Residents-trust het ’n vennootskap met Wilderness Safaris aangegaan om Damaraland Camp te bou. In 1995 het die kamp, wat die eerste gesamentlike onderneming tussen ’n gemeenskap en ’n toerisme-onderneming was, sy deure geopen. In 1998 is die Torra-bewaringsgebied as een van die eerste vier in Namibië geregistreer. Tans is daar 82 bewaringsgebiede oral oor die land.

“Met die opening van die lodge het dinge vir die gemeenskap in die omgewing begin verander. Mense het werk gekry en is opgelei as toergidse, kelners, sjefs en selfs bestuurders. Kinders hoef nie meer weg te trek om geld te verdien nie. Aan die toerismekant het dinge die hoogte ingeskiet. Vir die boer het dit al moeiliker begin raak met die wilde diere wat nou beskerm word,” vertel Rhyn.

Die Ward 11 Residents-trust het geld opsy gesit om boere te vergoed, sou hulle vee weens leeus verloor.

“As ’n leeu ’n bees doodmaak, word die boer met N$1 500 vergoed wat nie die regte waarde van ’n bees is nie. Onlangs is die pryse vir vee aangepas en word ’n boer nou met N$3 000 vir ’n bees vergoed wat nog steeds nie genoeg is nie. Ons het die fondasie destyds neergelê, maar nou moet ons uit die boks begin dink en ander planne maak. Dalk moet ons begin dink om ’n bees met ’n bees te vervang. Die wilde diere sal altyd daar wees, ons moet net ’n oplossing vind om saam met hulle te kan leef sodat beide die boer en die toeris kry wat hul soek.”

Met die bou van Damaraland Camp het die finansiële omstandighede van die mense in die omgewing drasties verbeter. Wilderness Safaris het al die ontwikkelingskapitaal voorsien en sy kundigheid in die toerismebedryf gedeel. Die maatskappy het 10% van die inkomste as huur vir die grond aan die Torra- bewaringsgebied betaal. Ná tien jaar is die inkomste-uitbetaling tot 20% per jaar verhoog totdat die eienaarskap van die lodge ná 15 jaar geheel aan die gemeenskap behoort. Aan die einde van die 15 jaar-huurkontrak het Torra 60% aan Wilderness Safaris terugverkoop. Torra en Wilderness is nou aandele-vennote vir die volgende 10 jaar met die opsie om dit vir die volgende 15 jaar te hernu.

“Die gemeenskap het besef hulle kan nie die lodge bestuur nie en het dus besluit om 60% terug aan Wilderness Safaris te verkoop. Hulle het besef hulle het nie die ervaring ná 15 jaar in die toerismebedryf wat Wilderness het nie. Nou is Wilderness nog in beheer en die gemeenskap baat soos voorheen uit Damaraland Camp,” verduidelik mnr. Jermain Katji van Wilderness Safaris.

Die maatskappy het gesorg vir nuwe werksgeleenthede vir lede van die gemeenskap. Mense ontvang opleiding in die toerismebedryf en het die opsie om by ander Wilderness Safaris-lodges in die land of in die maatskappy te gaan werk.

Me. Lena Florry is een van die suksesverhale van dié gesamentlike onderneming. Sy het bokke opgepas toe sy as ’n junior werker ’n pos by Damaraland Camp aanvaar het. Florry het haarself tot ’n lodgebestuurder opgewerk en is nou die areabestuurder vir Damaraland Camp en die nabygeleë Doro!Nawas Camp van Wilderness Safaris.

Me. Cornelia Adams het as ’n sjef by Damaraland Camp begin en is vandag die assistent-bestuurder van die kamp.

“Die rimpeleffek is voor die hand liggend. Die sukses van die gesamentlike onderneming en die gevolglike bemagtiging het tot ’n vooruitstrewende bewaringsgebied gelei - die eerste selfversorgende bewaringsgebied in Namibië; iets wat in die land en op die vasteland herhaal kan word,” lui ’n verklaring van Wilderness Safaris.

Een van die Riemvasmakers, mnr. Geraldo Erasmus (Rhyn) wat by die Damaraland Camp werk, is die kleinkind van ouma Johanna.

“Ek het drie jaar in Windhoek by my pa gewerk, maar ek het baie na Damaraland, Fonteine en my familie verlang. Ek wou en kon nie meer langer in die stad bly nie en het terug plaas toe getrek. In 2015 het ek by Dramaraland Camp begin werk. Die lodge is om die draai van my ouma en ek kan haar nou ondersteun. Ek wil verder leer en ’n toergids word,” sê hy.

Daar is 23 mense werksaam by die lodge en die meeste kom van die omgewing.

“Dit is ’n voorreg dat ons die plek het en hier so naby ons families kan werk. Ek weet nie wat sou van my geword het as ek in die stad gebly het nie. Die jong mense kan nou hier ’n goeie toekoms vir hulself maak.”

Soos sy oom Jantjie klop daar ook ’n hart vir boerdery in sy binneste en sal hy graag eendag in sy oom se voetspore wil volg en ’n boer word.

“Ons ly baie skade deur veral die leeus, maar ons sal na ’n oplossing vir die konflik moet soek. Die bewaring van die diere en die toerisme wat daarmee gepaard gaan, is ’n groot inkomste vir baie van ons mense. Dit maak nuwe wêrelde vir ons oop en gee vir ons geleenthede wat ons nie voorheen gehad het nie.

“Die kleinkinders maak vir ouma bly en hou haar jonk, dis hoekom dit vir my ’n voorreg is dat ek so naby aan die huis ’n goeie werk kon kry en vir ouma amper elke dag kan sien.”

Tans woon daar omtrent 1 200 hoofsaaklik Riemvasmakers, Damaras en Herero’s in die 3 522 vierkante kilometer Torras- bewaringsgebied.

Sedert die registrasie van die bewaringsgebied is nuwe inkomstegeleenthede vir die gemeenskappe geskep. Die waarde van die inkomste het drasties oor die jare gestyg. In 1998 het die gemeenskap N$300 000 verdien, terwyl dit in 2008 tot oor die N$3 miljoen gestyg het. Sowat twee-derdes van die inkomste kom uit die toerismebedryf, hoofsaaklik veral in die vorm van salarisse. Trofeejag en die verkoop van vleis en lewende wild maak hoofsaaklik die res van die inkomste op.

Torra het onlangs ook begin om geld aan maatskaplike projekte in die bewaringsgebied te bestee. Dit sluit onder meer die bou van ’n gemeenskapsaal en ’n kindergarten in. Hout- en kantoortoerusting is ook aan die Bergsig-skool geskenk.



Torra-bewaringsgebied: Mylpale

1995 - Damaraland Camp van Wilderness Safaris open en word die eerste gesamentlike onderneming tussen ’n gemeenskap en ’n toerismeonderneming.

1996 - Beleidsveranderinge stel inwoners in kommunale gebiede in staat om voordeel uit wild en toerisme deur die vorming van bewaringsgebiede te trek.

1998 – Torra- bewaringsgebied word geregistreer.

1998 – Damaraland Camp wen die Silver Otter, ’n internasionale toerismetoekenning.

2000- Die Torra-bewaringsgebied word deel van die jaarlikse noordwestelike wildtelling.

2001 – Die bewaringsgebied word finansieel onafhanklik en kan sy eie bedryfsonkoste dra.

2001 – Mnr. Benny Roman, voorsitter van Torra, wen die Namibiese Professionele Jagtersvereniging se Bewaarder van die Jaar-toekenning.

2002 – Torra word die eerste bewaringgebied wat lewende wild verkoop.

2004 – Torra wen die UNDP Equator-prys by die VN-konvensie vir biologiese diversiteit in Kuala Lumpur in Maleisië.

2005 – Damaraland Camp wen die TourismforTomorrow- bewaringstoekenning van die World Travel &TourismCouncil.

2017 – Damaraland Camp is ‘n semifinalis vir die Verantwoordelike Toerisme in Afrika-toekenning in die kategorie Beste Akkommodasie met Maatskaplike Insluiting.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!