Op jul merke, gereed, kook!
Op jul merke, gereed, kook!

Op jul merke, gereed, kook!

Gerine Hoff
Gerine Hoff – As die name Jamie Oliver, Jenny Morris en Gordon Ramsay vir jou bekend klink, is dit waarskynlik omdat jy hulle kookprogramme kyk of een van hulle resepteboek het.

’n Uur se kyk na bekende sjefs soos Nigella Lawson wat penne alla vodka of ''n heerlike sjokolade koek blitsig aanmekaarslaan, inspireer hordes amateurkokke om hul mengbakke af te stof.

Daar is immers ''n rede hoekom terme soos "food porn" en "foodie" nou deel is van die meeste woordeboeke!

Met die nuwe seisoen van MasterChef Australia wat nou op die kleinkassie draai, is daar weer massas mense wat hul kombuistafel vir die sitkamerbank verruil om ’n paar koswenke op te tel of in die hoop om self liplekkerdisse te maak. Of dalk net om opgewonde te raak oor hoe straf die kompetisie tussen amateursjefs kan raak. . . Gelukkig was dit nie nodig vir “foodies” om te lank te wag ná Corli met die Koekedoor-kroon weggestap het (al was Wessels eintlik almal se “favourite”) vir nóg ’n kosprogram om sy buiging te maak nie.

En vir dié onder ons wat nie genoeg van kosprogramme kry nie, is daar sommer ’n paar programme op betaalkanale waar jy kan leer hoe om in ’n japtrap kos te maak – dink maar aan Siba’s Table of 5 Ingredient Fix – of beleef hoe Buddy en sy span van Cake Boss-faam ongelooflike koeke skep, om nie eens te praat van die vyf kosprogramme wat op die oomblik op Via te sien is nie, Nataniël en sy broer wat ’n storm in Frankryk los kook, of Jan Braai wat oral ’n vuurtjie wil aansteek, of Reuben Riffel wat fynproewerdisse sommer vinnig en maklik aanmekaar slaan nie.

Vinnig en maklik is natuurlik die operatiewe woorde hier. Want televisie-sjefs laat alles sommer vinnig en maklik lyk. Al weet ons eintlik dis in werklikheid glad nie só nie; dat daar stiliste is wat alles mooi laat lyk; ander mense wat die massas skottelgoed was wat die sjefs genereer en dat die kos met spesiale blink-lyk goed behandel word om so mooi op televisie te lyk.

Probeer om in jou eie kombuis sulke kos / koeke / wat ook al te maak, sal jy sien hoe vinnig jou kosmaakbakke vermeerder. Dis juis waarskynlik om die skottelgoed te vermy dat ons eerder kosprogramme kyk as om self agter die potte aan die werk te spring!

En kyk, kyk ons. Ek is nou nie juis geïnspireer om nuwe disse te probeer skep nie, maar dit is ’n heeltemal ander saak om beroemde – en minder beroemde sjefs – in aksie te sien.

Kookprogramme en kookkompetisies is nie regtig ’n nuwe ding nie. Die Amerikaanse sjef Julia Child, wat gekompliseerde Franse disse vir die man en vrou op straat meer toeganklik gemaak het, het reeds in die 1960s haar televisie-buiging gemaak. Selfs die MasterChef-reeks wat nou al in tientalle lande verfilm is, het reeds in 1990 in Engeland begin. Gegewe die reeks word al maande voor die uitsaai daarvan verfilm, bly dit vir my ’n raaisel hoe die deelnemers (en almal wat agter die skerms werk) vir so lank die uiteindelike wenner se naam ’n geheim kan hou.

Watter program ook al jou groente roer – mahlzeit!

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer