Op u2019n drafstap
Op u2019n drafstap

Op ’n drafstap

Karin Eloff
’n Ruk gelede het die Parkrun-gogga my gebyt.

Die legendariese langasem en Comrades-atleet Bruce Fordyce het dié gedrawwery hier op Walvisbaai aan die gang kom sit.

Ek moet uit die staanspoor erken dat ek al van kleins af nie eintlik ’n vinnige ou is nie. Ek het aanvanklik die gehardlopery skepties op ’n afstand bekyk en gedink aan ’n Bybelversie iewers in Spreuke wat sê dis glo “net goddeloses wat hardloop al jaag niemand hulle nie”.

Maar toe besluit ek om net één keer saam te draf sodat ek ’n gevoel vir die storie kan kry. Met dié gedagte registreer ek aanlyn, ontvang toe ook my barcode en tree vir my eerste 5 km-wedlopie aan.

Dit was nogal a walk in the park, soos die Ingelsman dit sou stel. As ek nou terugdink, besef ek dit was die opwinding en adrenalien wat my met dapper en stapper deurgedra het tot oor die eindstreep.

Ná nog ’n paar wedlopies gee Namibië se eie marathonkampioen en huidige Walvisbaai-Parkrun-rekordhouer, Erich Goeieman, vir my ’n paar drafskoene wat hy nie meer gebruik nie.

“Jy kan dit maar kry. Gebruik dit tog net,” spoor hy my aan.

Dit was die beste raad ooit, en dít nogal van ’n man wat al diep spore oor baie kilometers kaf gedraf het.

Ek is erg bevoorreg om in Erich se skoene te kan draf – wel teen my eie tempo.

Maar dit was ’n groot dag toe ek met sy skoene aan my voete die 5 km in minder as 30 minute voltooi het.

Daar en dan besef ek dat ek eintlik my eie en grootste teenstander is, want “jy kan as jy wil, man!”.

Ek skaf toe my eie paar tekkies aan en laai ’n gesondsheids-app op my foon af om my Saterdae op my drafstappies te vergesel.

Die selfoondame se stem moedig my aan en gee ook met elke drafstap terugvoering oor my pas.

Dis toe wat die kopskuif kom en ek belowe myself dat ek elke wedloop teen myself sal draf en geensins gaan stap wanneer ek kan hardloop nie.

Ek skop gewoonlik teen ’n strawwe pas af, maar namate ek vorder, raak dinge maar moelik.

Dan voel dit of my hart hier in my ore klop.

My hygende asem jaag my aan. Die sweet loop by my voorkop af. En dis dan wat die selfoonstemmetjie my inlig dat ek sopas helfte van die roete voltooi het en dat ek volgens haar goed op dreef is.

As sy maar net weet.

My voete sleep en die tekkies se sole skuur teen die teer, maar ek beur strompelend voort.

Ek is nie meer bekommerd oor wie verby my draf nie. Ek doen dit vir myself en op my eie manier.

Die lagune-briesie waai die sweetdrupples op my gesig droog. Pure lafenis. Ek sluk die speeksel af wat in my mond opdam.

Dit blus die dors en vurige hel wat woed van my droë keel tot by my brandende longe. My nek en die holtes van my arms is sopnat.

Maar ek is amper daar. Die eindpunt wink al. Die klappende vlerke van ’n klomp verbyvlieënde flaminke moedig my verder aan.

Hygend pyl ek op die eindstreep na nóg ’n oorwinning af.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!