Op Namibië se voorstoep

Lloyd Zandberg
Die suide van Namibië roep beelde van ’n dorre, droë woestynlandskap op. Iewers draf ‘n gemsbok of ‘n eensame springbok oor ’n duin doer in die verte.

‘n Kokerboom en ‘n blomkoolwolk voltooi die landskap.

Afgesien van die feit dat dit een van die warmste dele van die land is, is die aarde hier die droogste.

Die mense wat hier woon en werk, het hare op hul tande. Hier is die aarde op sy knieë en die plaashekke is stil soos begraafplase. As dit hier reën, weet jy nie wat om te doen nie. Dit sou wees soos om roomys te eet wat jou mond brand. Jou brein kry dit nie klein nie.

Hoewel die Suide vir baie mense, veral toeriste, ‘n uitdaging is, bly dit een van ons land se troefkaarte. Jaarliks lok hierdie kwart van die land duisende toeriste en vakansiegangers.

Die pad Suide toe

Sowat 80 km buite Windhoek op die B1 lê Rehoboth. Wat eens ‘n klein plekkie was, is nou ’n volwaardige dorp met maatskappye, museums, die Rehoboth-spa, die Oanobdam en ’n natuurreservaat.

Net buite Rehoboth kan jy by een van daai plekke aftrek en jou koffiefles uitpluk.

Ná ‘n verdere 104 km suid bereik jy Kalkrand.

Hier moet jy nie jou oë knip nie, want dan mis jy alles. Hoewel dit nie as ‘n oornagdorp beskou word nie, kan fotografie-entoesiaste hier die mooiste foto’s van die treinspoor en omliggende areas neem.

Kalkrand het ‘n petrolstasie, skole, ‘n polsisiestasie, ’n kliniek en ‘n winkeltjie. Genoeg om ‘n dorp te wees.

Volgende is Mariental, wat in teorie die Suide se voorstoep is, min of meer 75 km suid op die B1.

Mariental is nie te ver van die stadsgedruis af nie, maar ver genoeg.

Op enige reis bly Wimpy ‘n treffer. En die Wimpy op Mariental stel nie teleur nie. Die dorp het genoeg blyplek, winkels en skole.

In die omliggende areas is heelwat om te beleef.

Op die Hardapdam kan jy met bote en ski’s baljaar. Dis die grootste waterreservoir in Namibië en die ideale plek vir fotograwe om die voëllewe rondom die dam af te neem.

Hierdie deel van die suide bied ‘n verskeidenheid staproetes, visvang- en natuurtoere.

Mariental is die perfekte ontbytstop.

Net buite Mariental draai jy regs op die C19 Maltahöhe toe.

Kilometers niks strek so ver die oog kan sien.

Hier en daar spring ‘n bobbejaan of ’n dassie langs die pad uit, maar dis nie grappies nie.

Meestal staan dié deel van die Suide heel agter in die ry as reën uitgedeel word.

Dit beteken so min as 10 mm reën kan die sjampanjebottelproppe in die lug laat skiet.

Die C19 is vol beeldskone landskappe. En dit verander voortdurend. Tydens Kollig se besoek hang wolke swaar en morbied oor die veld.

Nou en dan val ‘n druppel op die voorruit, maar nie meer as vyf nie.

‘n Paar kilometer verder kraak die wolke in die hemele. Dit klink soos kwaai kinders wat hul kamerdeure toegooi. En skielik sak die reën uit. Die landskap trek ‘n ander baadjie aan. Die Suide suig die water met oorgawe op.

Klein, maar genoeg

Die wolke hang nog swaar oor Maltahöhe. Terwyl Kollig brandstof ingooi, klap die deure in die lug.

Daar is nie veel om in Maltahöhe te doen nie. Dit bly wel ‘n gewilde oornagstop vir toeriste en mense wat die wêreldberoemde Sossusvlei en omliggende areas wil besoek.

Besoekers kan hier varsprodukte koop. As jy nie kontant by jou het nie, is daar darem kitsbanke, maar dorpe in dié omgewing se kitsbanke het nie altyd kontant nie.

En die meeste parke en toeriste-aantreklikhede neem net kontant.

Die Maltahöhe Hotel is die oudste hotel in die land wat steeds bedryf word.

Die hotel het in 1909 sy deure oopgemaak en is vandag nog ‘n gewilde blaaskans vir besoekers voor die wilde, woeste pad Sossusvlei toe.

Aan die oorspronklike kroeg en buitekant van die gebou is nie gepeuter nie.

Die kamers is intussen opgeknap, maar baie van die oorspronklike meubelstukke staan steeds daar.

Volgende op die agenda is die grondpaaie na Neuras.

Kollig volg die C14 vir min of meer 20 km en draai dan links op die D850.

Die D850 dra nie geweldig baie verkeer nie, omdat die meeste mense Sossusvlei langs die C14 tot by Bullspoort, via die Namib Naukluft Park, besoek.

Die D850 se toestand is só dat jy dit kan aandurf, maar verkieslik nie met ‘n klein karretjie nie. In die reënseisoen verspoel die pad en vorm groot poele wat net ’n 4 x 4 kan aandruf.

Die afstand tussen Maltahöhe en Neuras, via die D850, is sowat 120 km, maar weens die toestand van die pad neem dit byna drie ure om jou bestemming te bereik.

Die alternatiewe roete is om op die C14 aan te hou tot by Bullpoort en dan regs te draai en al langs die voet van die Namib Naukluft-berge voort te tokkel.

Die plek van verlate water

Neuras is ‘n breinbreker - die perfekte oorslaapplek vir diegene wat Sossusvlei wil besoek, maar nie by ‘n groot toeristepunt wil vertoef nie.

Neuras is nie ‘n kommersiële toeriste-aantreklikheid nie, maar ’n wynplaas wat verblyf en meer bied.

Dié plaas is al ‘n geruime tyd deel van die N/a'an ku sê-stigting.

Met die eerste oogopslag sien jy Palmbome en dit maak nie sin nie. Verder anderkant die opstal staan wingerde. Maar hoe? Dis dan die Suide? Dit moet kurkdroog wees!

Op die plaas is vyf fonteine waarvan twee effens verder van die opstal af is. Hulle lewer ongeveer 80 000 l water ’n dag. Die water word hoofsaaklik vir die wingerde en die plaasopstal gebruik.

Neuras het ook ‘n gryswatersisteem wat gebruik word om die tuin, getiteld Queens Commonweatlh Canopy, nat te lei.

Dis vreemd om so baie water hier sien.

Neuras was meer as ‘n honderd jaar gelede al ‘n belangrike bron van water vir die Duitste Schutztruppe. Hulle het ook voer vir hul perde hier geplant.

Wynmaak in die woestyn

Dis nie ’n grap nie. Met baie hoë temperature - in die somer styg die kwik tot amper 46 grade - is dit bitter moeilik. Wynmaak is ‘n proses wat deur temperature beïnvloed word. Om al die besproeiingspypies, bemesting en goed soos botteleringstoerusting van Suid-Afrika af in te voer, is ook ’n daaglikse uitdaging.

Charl Theron was aanvanklik by die wynmaakproses betrokke, maar deesdae minder. Hy monitor steeds die wynmonsters om seker te maak dis van goeie gehalte, en hy lê nog gereeld besoek af op die plaas.

Tans maak Neuras vier soorte wyne, twee soorte brandewyn, donker rum en port.

Op die plaas word die wyn - ongeveer 3 000 bottels per jaar - gebottel, gekurk en verpak.

Afgesien van die wyn bied Neuras gaste middagete. Daar is ook agt kamers vir twee mense elk, skemerkelkietoere en ’n wyntoer.

Op die perseel is jagluiperds wat oor die jare op plase gevind is - almal diere wat uit mens-dier-konflik-omgewings gehaal is en hierheen gebring is as toeriste-aantreklikheid.

Die opbrengs hieruit word weer in die bewaring van ander diere teruggeploeg.

Neuras het ook ‘n vrywilligerprogram waar meer van die omgewing, sy mense en tradisies geleer kan word.

Die plaas strewe daarna om uiteindelik selfversorgend te wees. Alles wat hier gebruik word, word ook hier gemaak. Hul elektrisiteit word met behulp van sonkrag en sonpanele opgewek.

Kollig se reis na die Suide eindig met 'n donderstorm, skemerkelkies en braaivleis.

Klim in jou kar en kom.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!