Op soek na die ontwykende klein, blou nommertjie
Op soek na die ontwykende klein, blou nommertjie

Op soek na die ontwykende klein, blou nommertjie

Gerine Hoff
Gerine Hoff - Mommy, boyfriend, flare.

Die skinny, jegging, bootleg of crop. Of die slim, straight of regular fit. Dan is daar nog die high-waist of die low rise.

Ja, mense, dis maar 'n paar van die verskillende snitte denim wat deesdae te koop is. Dit is letterlik in 'n legio style en skakerings van blou beskikbaar.

En tog bly die perfekte paar jeans my ontwyk.

Ek het die afgelope naweek die mall platgeloop en was maklik by 15 verskillende winkels in. My voete was pê, maar niks. Nada. Nul.

Dit kan tog nie so moeilik wees om die perfekte paar jeans in die hande te kry nie?

Ek verstaan ook nie hoekom denims deesdae so dun is nie. Was dit dan nie juis destyds redelik dik omdat mynwerkers en cowboys dit gedra het terwyl hulle gewerk het nie? Dit was dan selfs met klinknaels aanmekaargesit!

Dit is dan ook die kruks van die saak. Want ek is juis op soek na 'n paar (eintlik 'n paar pare) denims wat 'n bietjie dikker en vir kouer weer geskik is. Want sien, denims is mos die perfekte reisgenoot. Jy hoef net twee of drie pare saam met 'n paar hemde, truie en onderklere in te pak as jy met vakansie gaan. Dit is ewe gepas om daarin wêreldstede plat te loop, te gaan uiteet, te kamp of om die braaivleisvuur te sit.

Boonop kan jy dit elke dag dra en dit wys nie vinnig vuil nie. Blykbaar hoef denims nooit gewas te word nie. Jy moet dit skynbaar netjies plat vou, in 'n sakkie sit, vrieskas toe pos vir 'n paar uur en siedaar – weer soos nuut! Ek het dit nog nooit beproef nie. Is ook nie seker of denim-makers weet met watter elemente en grade van vuilheid hulle in Afrika te doen het nie.

Dit daar gelaat.

My ideale denim, die een waarna ek so narstiglik soek, moet gemaklik wees sodat ek lang ente kan sit sonder dat die bloedsomloop rondom my middel tot stilstand gedwing word. Dan moet dit los genoeg wees om thermal underwear onder aan te trek as dit nodig is, maar sonder dat ek soos 'n sleggestopte wors lyk. Dit moet ook styf genoeg sit sodat dit nie by my heupe afgly en my onderklere uitsteek nie. Dit moet oor my boots kan pas, of styf genoeg wees om by die boots in te druk.

En waar kry ons vroue wat, wel, “ronder” is 'n denim wat om jou rondings pas, maar nie só lank is dat dit lyk asof dit vir 'n model van ses voet vier gemaak is nie? Lyk my broekmakers dink as jou boude groter is, is jy langer ook.

Ek lees nou die dag dat die denim-maker Levi's 'n chatbot ontwikkel het wat blykbaar die perfekte jeans vir jou sal identifiseer. Die app, wat LikeaGlove heet, neem jou mates via Bluetooth. So, ná al die ure in die winkels, is dit dalk die oplossing. Tog dink ek nie hulle het al met my soort uitdagings te doen gehad nie.

Laat asseblief van jou hoor as jy weet waar ek daardie ontwykende blou nommertjie kan vind.

Tot dan duur die soektog voort.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer