Op soek na u2018wesensu2019 in Karoo
Op soek na u2018wesensu2019 in Karoo

Op soek na ‘wesens’ in Karoo

Yandi Du Plessis
Wesens is ’n nuwe Afrikaanse wetenskapsfiksierolprent wat afspeel op ’n afgeleë Karooplaas in die laat 1960’s.

Vier agente van die “Suid-Afrikaanse Republikeinse Intelligensiediens” maak hul opwagting op die plaas om ’n “vreemde voorwerp” wat daar geland het te ondersoek, als onder streng geheimhouding.

Derick Muller, van die Kaapse produksiemaatskappy The Suits Communications, is die skrywer en regisseur van Wesens en het dit saam met Karin Muller, sy vrou, vervaardig.

Die rolprent open op 23 Oktober in Ster-Kinekor se teaters in Suid-Afrika, ’n hele paar onafhanklike teaters soos die Labia in Kaapstad en The Bioscope in Johannesburg en maak ook ’n draai hier in Namibië.

Die storie se oorsprong is ’n oudhedewinkel in Ceres waar Derick ’n 16 mm-kamera op ’n wegbreeknaweek ontdek het.

“Ou kameras is ’n passie van my, en in hierdie boks van die kamera het ek ook op ’n paar filmrolle afgekom wat uit die sestigerjare dateer. Die feit dat daar enigiets op hierdie filmrolle kan wees, het my dadelik geïnspireer.”

Karin beaam dit: “Dink net, wat van as daar iets op hierdie filmrolle was wat mense nie wou hê ander mense moes sien nie?”

Derick se verbeelding het die loop geneem en so is Wesens gebore. Die Mullers wil liefs niks verder oor die verhaallyn verklap nie, en die lokprent is net so geheimsinnig.

“Ons wil hê die gehoor moet aan die raai en wonder bly tot aan die einde. In die laaste oomblikke word als duidelik.”

Die rolprent is op die plaas Gannavlei, sowat ’n uur van Montagu in die Klein-Karoo verfilm.

“Daar is regtig niks op die plaas nie. Dit is baie primitief. Geen selfoonontvangs, geen elektrisiteit nie. Niks nie. Dit het als bygedra tot die gevoel van afsondering en ’n tipe verlatenheid wat ons wou skep. En ons kon almal net fokus op die rolprent, met geen afleidings nie.”

Die akteurs wat die rolle van die agente vertolk, is Morné Visser (Dis ek, Anna), Pietie Beyers (Binnelanders), Conradie van Heerden en Rayno von Schlicht. Albert Maritz is as die boer te sien. Ander rolle word deur Randy Januarie en Pierre Nelson vertolk.

Die “ou, historiese gevoel” van die rolprent is in naproduksie geskep.

“Ons moes ’n 16 mm-raam opsit asook grein en krapmerke. Óók die outydse lense waarmee dit verfilm sou word, is nie so helder soos dié van moderne kameras nie, so ons moes die beeld baie verwerk en vervaag sodat dit eg lyk. Ons was ’n geruime tyd met naproduksie besig,” sê Derick.

Die Mullers wou die rolprent, hul debuut, onafhanklik vervaardig.

“Ons wou 100 persent seggenskap hê omdat ons so passievol oor die storie is. Ek het die afgelope dekade al ’n advertensiemaatskappy, so dit het aspekte van die produksie en naproduksie makliker en goedkoper gemaak.”

Hul maatskappy ontwikkel advertensiemateriaal vir NB uitgewers, Netwerk24, News 24 en het ook die glanspublikasie Ambassadeur Joernaal die lig laat sien.

Hulle onderhandel ook met oorsese verspreiders oor Wesens, wat ook Engelse subtitels het.

“Ons is passievol oor Afrikaans en wou met Wesens iets anders en uniek in Afrikaans skep en wil dit graag vir die buitewêreld wys.”

Besoek www.wesens.co.za. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!