Op (vermeende) booswigte se spoor. . .
Republikein het die afgelope Vrydag tussen 20:00 en middernag 'n polisieoperasie meegemaak.
Denver Kisting
Ek het my nie twee keer laat nooi nie toe konst. Fabian Amukwelele, 'n woordvoerder van die stadspolisie, se uitnodiging my Vrydagoggend bereik om die laaste operasie tussen hulle en Kosmos 94.1 vir 2018 mee te maak.
Behalwe dat ek 'n skaamtelose adrenalienslaaf is, is dit járe sedert ek 'n holistiese blik – verteenwoordigend van die ganse demografie – op die hoofstad se naglewe ervaar het.
Ons word kortliks touwys gemaak oor die moets en moenies voor 'n oom van Camp David ons met 'n kragtige gebed op die pad sit.
Ek kan kwalik asemhaal só styf sit die koeëlvaste baadjie, maar teen so 20:30 sit ek ingeboender in 'n ongemerkte Quantum van die stadspolisie – reg vir onbekende aksie.
Ons is 'n konvooi van vier voertuie op dié sending.
Luidens Amukwelele se uitnodiging sou die fokus daardie aand wees om drinkende motorbestuurders aan die pen te laat ry.
Die luim, wel, ten minste in ons voertuig, is lig. Amper feestelik. Beslis vrolik.
Ek deel kougom en Halls-mente uit – dis moontlik waar ons krag en hulp vandaan sal moet kom, dink ek.
Van die stadspolisie se hoofkantoor af vind ons ons weg na die stadskern, rigting Onafhanklikheidsrylaan.
Daar kom die eerste tyding – drama by Ausspannplatz. Ons versnel.
Tekenend van waar Namibië tans is, is die eerste voorval een van beweerde geslagsgegronde geweld.
Ons tref die paartjie buite een van die smerige plekke in daardie geweste aan.
Hulle is besig om met die hand én met die tand te stoei.
In uiters gekruide taal probeer albei terselfdertyd aan ons verduidelik wat tot die skermutseling aanleiding gegee het.
Die weergawes weerspreek mekaar. Waaroor niemand – nie eens hulle – kopkrap nie, is dat goedkoop drank mildelik gevloei het.
Ons hoor hulle het 'n tweejarige tweeling in pleegsorg.
Hul besoeke aan dié spruite is beperk, omdat, beweer die vroulike metgesel, die man glo in 'n stadium gaan amok maak het daar.
BEWEERDE GESLAGSGEWELD
Sy probeer verwoed vir ons merke aan haar lyf wys, meestal op uiters privaat plekke, waar die man haar glo sou gebyt, gekrap en geslaan het.
Hy ontken driftig elke liewe aantyging.
Hy voer aan sý dryf die geweld.
Ook, sê hy, sy kry nooit einde aan drink nie en respekteer na bewering ook nie die grense van 'n monogame verhouding nie.
Ons probeer 'n nugter gesprek met albei voer. Dit slaag nie.
Ek kry eweneens geen antwoorde oor hoekom hulle by mekaar bly nie.
Ek is moedeloos en opgesukkel en dié is ons eerste afspraak met die Vrydagaandnaglewe van Windhoek.
Uiteindelik oortuig ons die vrou om ons na die Windhoek-polisiekantoor te vergesel – nie om enige strafregtelike klag aanhangig te maak nie, maar net om 'n veilige lêplekkie, weg van haar wederhelf, vir die nag te hê.
Dit het lank geneem om haar te oorreed, want een van haar grootste bronne van kommer was of sy darem gerook sal kry by die polisiestasie.
“Nou, ek het dan nie eens 'n gwaai nie. Sal hulle vir my een gee as ek wil rook?”
Later die aand moet ons 'n jong man uit 'n diep slaap wakker maak.
Hy woon in 'n rivierloop naby Rocky Crest.
Die owerhede wil hê hy moet verduidelik waar sy matras, beddegoed, rusbank, kookgerei en tydskrifte vandaan kom, veral omdat daardie area glo onder inbrake deurloop.
Dit neem 'n rukkie voor hy ontwaak.
Hy verduidelik die meeste van sy baie gehawende meubels het hóm raakgeloop – daar in daardie einste rivierloop.
Volgens hom is hy van die verre Suide, enkellopend, en die ekonomiese depressie het gesorg vir sy tuiste hier onder die sterrehemel.
Amukwele lees vir hom die leviete voor en waarsku hy moet elders wees wanneer die polisie weer daar inloer.
'ZULA' OM TE OORLEEF
My hart word 'n verdere knou toegedien by 'n nederige huis in Katutura.
'n Bejaarde paartjie in slaapklere het ons hierheen ontbied weens hul seun, wat daar was om hulle aan te rand.
Met ons aankoms het hy reeds die pad gevat.
Die tannie gaan haal vir ons die beskermingsbevel, wat hy nie gehoorsaam nie.
Sy sê drank en dwelms maak hom mal. Ek dink aan Ellen Pakkies.
Die polisie wens hulle 'n geseënde Kersfees en 'n goeie nagrus toe. Ons vertrek.
In die gees van die feesseisoen, of dalk sommer net, tref ons baie mense aan wat in die openbaar alkoholiese verversings geniet.
Baie van hulle verkies om eerder buite die kroeg as binne hul ding te doen en hul dors te les.
Die meeste van hulle is verby astrant as hulle daaraan herinner word dié praktyk bots met die wet.
Enkeles beweer onkunde en vra sleeptong askies.
Een oom maak leë bottels in Doradopark bymekaar. Dít is sy bron van inkomste. Bou is glo sy nering, maar dié bedryf se hoop het lankal beskaam.
“Ek zula to survive, want dit n**i,” sê hy.
Sjoe.
Ek het opnuut respek vir die polisie en hul ondankbare werk.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie