Openbare geweld by Epupa oor salarisse
Openbare geweld by Epupa oor salarisse

Openbare geweld by Epupa oor salarisse

Heelwat gevalle van misdaad is die afgelope naweek by die polisie landswyd aangemeld.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn



Altesaam 24 verdagtes is by Epupa in die Kunenestreek in hegtenis geneem toe hulle die toegangspad na die Epupa-kamp met klippe en boomtakke geblokkeer het.

Die voorval het Vrydag plaasgevind.

Volgens die polisie se misdaadverslag is die groep inwoners van die Epupa-kiesafdeling afkomstig. Hulle eis glo dat die eienaar van die kamp hul salarisse moet betaal, wat die afgelope ses maande nie gedoen is nie.

Die kamp se eienaar voer aan dat hy nie die salarisse kon betaal nie omdat hy 'n brief van die Kapika tradisionele owerheid ontvang het waarin hy aangesê is om tot verdere kennisgewing nie die salarisse in die bewaringsgebied se rekening in te betaal nie.

Volgens die polisie het die verdagtes pangas, messe en skerp stokke by hulle gehad. Hulle sal vandag in die Opuwo-landdroshof verskyn.

In die Ondore-nedersetting in die Opuwo-dorpskiesafdeling het 'n vier-jarige meisie, Kakuva Ujamenambo, op 24 Desember tussen 10:00 en 15:00 vermis geraak. Sy is later dood in die veld aangetref. 'n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van haar dood vas te stel.

In die Omatetewe-nedersetting naby Opuwo is 'n 21-jarige vrou in hegtenis geneem op 'n klag van poging tot moord. Volgens die polisie het 'n geveg uitgebreek en 'n 26-jarige Angolese burger is beseer. Hy is van die Opuwo-­staatshospitaal na die Oshakati- staatshospitaal oorgeplaas.

Die ondersoek na die voorval duur voort.

By Onesi in die Omusatistreek is die bestuurder van 'n bakkie met registrasiemerke N197582W op 'n klag van strafbare manslag aangehou nadat hy onderweg van Ongandjera na Onesi 'n fietsryer van sy fiets afgery het. Die fietsryer is op die toneel dood. Hy was die 16-jarige Paavo Iita van Onganjera. Sy naasbestaandes is in kennis gestel.

'n Angolese burger, die 19-jarige Hafeni Kambuli, is op Kersdag omstreeks 14:30 dood aangetref in die Omudhu waHauwanga-nedersetting in die Ruacana-kiesafdeling. Hy het waarskynlik selfmoord gepleeg.

Verskeie inbrake het oor die Kersnaweek in Namibië voorgekom.

Volgens die waarnemende hoof van openbare betrekkinge van die Namibiese polisie, inspekteur Tashiya Kadhila, is daar Vrydag omstreeks 10:00 by 'n stoorkamer op die plaas Kitchberg, ongeveer 35 km buite Gobabis, ingebreek. Goedere ter waarde van ongeveer N$90 000, waaronder 'n wit Nissan-bakkie, klerasie, elektriese toerusting en twee vuurwapens, is buit gemaak.

Die verdagte is aangekeer en die ondersoek gaan voort.

Op die plaas Snyder in die Leonardville-omgewing het inbrekers 'n onbekende voorwerp gebruik om by 'n motorhuis in te breek. Toerusting ter waarde van N$31 310 is gesteel, maar is reeds teruggevind. Twee Namibiese mans, albei 28 jaar oud, is in verband met die voorval in hegtenis geneem.

In nog 'n voorval in die Omaheke­streek is 'n verlate voertuig op 24 Desember by die afdraaipad na Dordabis aangetref. 'n DVD-masjien, luidsprekers en 'n TV-stel is in die voertuig gevind. Die gesamentlike waarde was N$382 200. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer