Openbare vervoer hoes vir Covid-19
Die vervoerministerie verwerp onreëlmatige verhoging en dring aan dat die Vervoerraad benader word.
Augetto Graig
Openbare vervoeroperateurs kry swaar gedurende die inperking wat kort ná die uitbreking van Covid-19 landswyd toegepas is.
Die beperking op die getal passasiers wat op een slag saam mag ry, krimp winste en volgens mnr. Pendapala Nakathingo, sekretaris-generaal van die Namibiese Bus- en Taxivereniging (Nabta), veroorsaak dit selfs verliese vir eienaars van taxibesighede. Hy sê vele operateurs het hul bedrywighede gedurende die eerste fase van die nasionale inperking heeltemal gestaak.
Selfs met die verslapping van die maatreëls wat sedert Dinsdag met fase 2 geldig is, sê hy taxi-operateurs kry steeds geen verligting nie. Weens dié situasie het Nabta sy lede toegelaat om die prys vir openbare vervoer oor meer as 500 km met N$100 per passasier te verhoog. Hierdie praktyk is egter onwettig, volgens die ministerie.
Die minister van werke en vervoer, mnr. John Mutorwa sê: “Die ministerie het geen prysverhoging vir taxi of bustariewe goedgekeur of gemagtig nie.”
Hy sê ’n volledige verklaring hieroor sal volg.
Volgens Nabta se sekretaris-generaal, mnr. Pendapala Nakathingo, het die vereniging reeds op 30 Maart die ministerie ingelig van die ekonomiese tol wat die beperkinge ter bekamping van die coronavirus opeis. Sonder terugvoering, sê hy, het Nabta sy lede maar laat voort gaan met die verhoogde tariewe.
Die woordvoerder vir die ministerie, mnr. Julius Ngweda, hou vol dit is onwettig.
“Die regering dring daarop aan dat operateurs die Vervoerraad benader om goedkeuring te kry vir enige verhoging bo 10%, soos die betrokke regulasies vereis.
“Hulle is aangeraai om met voorstelle na vore te kom, wat die raad op ’n dringende basis kan bespreek,” sê hy.
Nakathingo sê egter die vereniging sal nie by die raad aansoek doen nie. “Ons kan nie nog by die raad gaan aansoek doen nie. Hierdie is ’n noodgeval en dit is ’n ernstige belediging dat hulle daarop aandring. Ons het reeds in Maart na die ministerie geskryf en hulle het op 31 Maart gesê die kwessie is na die groepering van ministers oor die ekonomie aangestuur.
“Dit is die regering wat nou die pad vorentoe moet aandui. Ons het gedoen wat ons kon. Dit is nie op ons skouers nie, maar op die regering se skouers omdat hulle hierdie situasie veroorsaak het,” sê hy.
Waar Nabta meestal die eienaars van taxibesighede verteenwoordig, is lede van die Namibië Vervoer- en Taxivakbond (NTTU) meestal taxidrywers.
Die NTTU-president, mnr. Werner Januarie, sê die vakbond sal nou vir ’n ekonomiese stimuluspakket vir die nywerheid vanaf die regering probeer steun werf. Hy sê vakbondlede voel ook die knyp. “Die manne ry teen ’n verlies, beide langafstand en stedelik,” sê hy.
In antwoord op Ngweda se stelling dat die onlangse verlagings in die brandstofprys vanjaar reeds aan taxibesighede verligting gee, vra hy: “Het hy ooit taxi bestuur om so ’n stelling te maak? Dit is ’n oningeligte standpunt en ongehoord,” sê hy.
“Dit gaan nie net oor brandstof nie, maar ook onderhoud, die koste van bande en olie, die lewenskoste. Baie het bloot opgehou en die voertuie staan geparkeer. Daar is nie wat daaroor gedoen kan word nie,” sê hy.
Lede wat noukeurig rekord van hul uitgawes hou, raai hy aan om die vakbond met dié inligting te benader, om dit by hul aansoek vir finansiële hulp te kan insluit.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie