Operasie Hornkranz: Meer misdaad aangemeld

Oor die afgelope feestyd is meer gevalle van misdaad gerapporteer in vergelyking met laas jaar.
Augetto Graig
Augetto Graig



Die Namibiese polisie het Woensdag by die Israel Patrick Iyambo-polisiekollege in Olympia terugvoering gegee aan die visepresident, mnr. Nangolo Mbumba, en die adjunkminister van veiligheid en sekuriteit, mnr. Daniel Kashikola, oor die teenmisdaadveldtog Operasie Hornkranz wat Dinsdag ten einde geloop het.

Die weermag, tronkbewaarders en beamptes van ander wetstoepassingafdelings van die regering het onder leiding van die polisie ook aan die operasie deelgeneem.

In vergelyking met die vorige jaar is 'n toename in gerapporteerde misdaad oor die afgelope vakansietydperk aangemeld. Die adjunk-inspekteur-generaal van die polisie, genl.maj. Oscar Embubulu, het die syfers voorgelê en gesê hy glo die groter sigbaarheid van wetstoepassing het bygedra tot 'n verhoging in die aantal misdade wat aangemeld is.

Die polisieoperasie het in vergelyking met verlede jaar 'n toename in aangemelde misdaad oor die afgelope vakansietyd aangeteken. Spesifiek gedurende die tydperk vanaf 21 Desember 2018, en in vergelyking met syfers van die vorige jaar, is 48 moordsake aangemeld, teenoor 28 in die 2017/2018-vakansieperiode.

Die 28 aangemelde klagte van pogings tot moord is drie meer as die vorige jaar, maar die gevalle van strafbare manslag is 49 teenoor 38 die vorige jaar. Verkragting het ook toegeneem, met 49 sake aangemeld teenoor 38 in die vorige jaar. Daar was 84 klagte van gewapende rooftogte, teenoor 65 in die 2017/2018-Kersseisoen.

Aanranding het geweldig gestyg, met 268 gevalle teenoor 197 die vorige jaar. Bedrog het ook meer as verdubbel met 63 gevalle aangemeld in vergelyking met 30 die vorige jaar. Huisbrake was ook meer, met 102 gevalle teenoor 90 die vorige jaar, terwyl net een meer geval van veediefstal aangemeld is: 66 gevalle teenoor 65 die vorige jaar. Minder mense is in die besit van dwelms gevang, met 78 gevalle teenoor 117 in die 2017/2018-vakansieperiode.

Geregtelike doodsondersoek het ook baie toegeneem, met 61 teenoor die vorige jaar se 29, terwyl selfmoordgevalle gestyg het van 29 in 2017/2018 tot 50 in die afgelope feesseisoen.



Doen meer

Volgens Embubulu moet meer gedoen word om die ingesteldheid van die Namibiese nasie te verander, wat hy glo die oorsaak van die toename in misdaad is. “Sommige van die aangemelde misdade kon toegeneem het as gevolg van die gemeenskaplike vertroue in wetstoepassing weens ons (verbeterde) sigbaarheid,” het hy gesê.

Hornkranz het ook 'n padveiligheids­element bevat en in dié verband is 21 773 motoriste voorgekeer, 172 dronkbestuurders in hegtenis geneem, 251 gearresteer vir ander oortredinge, 10 154 gedagvaar, 508 se rybewys opgeskort, 558 gewaarsku, en skulderkenning ter waarde van meer as N$10 miljoen uitgereik.

Hornkranz het oorvleuel met die B1/B2-padveiligheidsoperasie wat sedert Augustus 2018 in werking is.

Tot nou toe is 91 200 bestuurders in dié operasie gestop, 379 in hegtenis geneem vir dronkbestuur, nog 110 vir ander misdade gearresteer, 8 999 gedagvaar, 565 gewaarsku, en skulderkennings ter waarde van meer as N$9,2 miljoen aangeteken. Gesamentlik het hierdie operasies bygedra tot 'n vermindering van padongelukke teenoor dieselfde periode in die vorige jaar - vanaf 509 tot 430, met 779 mense beseer teenoor 945, en 82 sterfgevalle in vergelyking met 122.

Die polisie het ook Operasie Basadi ingespan om geslagsgeweld oor die feestyd te bekamp. Hoofsaaklik vrouebeamptes was betrokke om oor die tydperk sewe gevalle van verkragting te ondersoek, asook 12 gevalle van aanranding en drie van huismoles.

Altesaam het hulle op 84 verskillende klagte gereageer insluitend een poging tot verkragting, 12 onderhoudklagte, een geval van die besit van 'n vuurwapen sonder lisensie, en twee gevalle van gewone gevloek en ba­kleiery. Daarbenewens is 34 lasbriewe uitgereik.

Die twee politici is ook die versameling wapens, dwelms en ander onwettige items gewys wat gekonfi­skeer is. Mbumba het die polisie geluk­gewens met die sukses van die operasie. Tydens sy toespraak by die polisiekollege het Mbumba gesê soortgelyke optredes moet deur die loop van 2019 geskied.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer