Operasie Hornkranz se naam ontstel
Nama-leiers sê in 'n brief aan die president die teenmisdaadveldtog is prysenswaardig, maar die geskiedkundige verband met Hornkranz gee aanstoot.
Elvira Hattingh
Nama-leiers is ontsteld oor die gebruik van die naam “Operasie Hornkranz”, vir die Namibiese Polisie se feesseisoen-teenmisdaadveldtog in die Khomasstreek.
Hulle meen die gebruik van dié naam is selfs vernederend, en eis 'n verskoning van die regering aan die nageslagte van die Hornkranz-slagoffers, asook aan alle Namibiërs sodat die “nasie se vertroue en geloof in nasionale leiers herstel kan word”.
In 'n ope brief aan president Hage Geingob het me. Sima Luipert, adjunkvoorsitter van die Nama-volksmoord se Tegniese Komitee (NGTC), in opdrag van die Nama- Tradisionele Leiersvereniging (NTLA) gesê hoewel die inisiatief deur die president prysenswaardig is, is baie mense geskok en verbaas oor die naamkeuse.
Sy sê baie mense soek groter duidelikheid hieroor.
“Die naam misken die opofferings wat op Hornkranz gemaak is en doen afbreuk aan heldhaftige dade. Dit doen afbreuk aan die heilige waarde wat aan die opofferings van die gevalle helde en heldinne van Hornkranz geheg word,” het Luipert geskryf.
GESKIEDENIS
Geskiedkundig word Hornkranz vereenselwig met die slagting van die /Khowese Nama-stam op 13 April 1893, toe die goewerneur van koloniale Duitse Suidwes-Afrika, kapt. Curt von François, en 200 van sy manskappe kapt. Hendrik Witbooi se stam aangeval het, verduidelik Luipert in haar brief.
Luipert sê Witbooi se troepe is in hul slaap oorval en het op die vlug geslaan met die vroue en kinders wat in die hutte agtergebly het en glo deur die Duitse troepe aan die brand gesteek is. Sommige vroue is toe glo Windhoek toe gebring om as huisslawe te werk.
Luipert sê die rede vir die aanval was dat Witbooi nie 'n beskermingsverdrag met die Duitse ryk wou aangaan nie en hulle hom nie andersins militêr kon oorwin nie.
“Die doel was om die hele Witbooi-famieliestam uit te wis,” het Luipert geskryf.
“Dit is die storie van Hornkranz. Met dié agtergrond is sommige geskok daaroor dat 'n eenvoudige teenmisdaadveldtog, wat die veiligheid van stedelinge moet verseker, na 'n massamoord vernoem is,” het sy geskryf.
Luipert meen verder so 'n aksie sal minderheidsgroepe laat voel hul stryd en opofferinge tel nie, en boonop saai dit woede en bitterheid.
“Die opregte bedoeling van die president om misdaad te beveg, is prysenswaardig. Dit is egter skokkend om te sien dat die heilige opofferinge van 'n vryheidsvegter en 'n poging om die Nama-mense by Hornkranz uit te wis, vereenselwig word met misdaad wat op armoede gegrond is.”
Luipert sê dit veroorsaak verdeeldheid.
Sy sê die president moes van die Hornkranz-verband bewus wees.
POLISIE REAGEER
Intussen het die Namibiese polisie (Nampol) se genl.maj. Oscar Embubulu 'n verklaring uitgereik om te sê die polisie behou die reg voor om kodename in ooreenstemming met die doel van veldtogte te kies.
Embubulu sê die aanval deur die Duitse koloniale troepe by Hornkranz, waartydens hoofsaaklik vroue en kinders doodgemaak is, is nie “Operasie Hornkranz” genoem nie - daarom is dit “vreemd” vir enigiemand om vergelykings te probeer tref.
“Operasie Hornkranz dui op die polisie se bedoelings om hul planne noukeurig uit te voer – soos wat Witbooi op Hornkranz gedoen het.
“Volgens die geskiedenis was Hornkranz nie net nóg 'n vesting in Namibië se berge nie, dit was die sosioëkonomiese, kulturele, geloofs- en politieke basis van die Nama-gemeenskap onder leierskap van Witbooi toe hulle hul teenstand teen die Duitse regering van stapel gestuur het.”
Embubulu het bygevoeg Witbooi het die eerste van sy drie manuskripte glo by Hornkranz begin skryf.
“Ons herhaal die kodename vir operasies deur die polisie is ons voorreg en ons sal nie toelaat dat enigeen hulself die reg hierop toe-eien en die publiek mislei nie,” het hy gesê.
Sien die lesersbrief op bladsy 15.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie