Opposisie die stok in NV se stemwiel
Opposisie die stok in NV se stemwiel

Opposisie die stok in NV se stemwiel

Die opposisie het vir ‘n tweede dag seker gemaak ‘n spesiale sitting van die Nasionale Vergadering wat aanstellings van nasionale belang moet doen, gaan nie ‘n stoomrollersessie wees nie.
Dani Booysen
Brigitte Weidlich





Die Nasionale Vergadering het gistermiddag ‘n spesiale sitting hervat oor die aanstelling van die hoofde van die Teenkorrupsie Kommissie (ACC) en lede van Verkiesingskommissie van Namibië (ECN).

Die sitting, wat deur die president belê is, is Dinsdag verdaag omdat opposisiepartye beswaar gemaak het dat hulle nie vooraf insae in volledige dokumentasie gehad het nie.

Gister het die Speaker, prof. Peter Katjavivi, die tweede punt op die agenda, die aanwysing van verkiesingskommissarisse, voorkeur gegee.

Dit is in sekere oorde bestempel as ‘n poging om die sitting uit te rek sodat daar minder tyd is om oor die omstrede heraanstelling van vernaam mnr. Paulus Noa as direkteur van die ACC te besin. Sy getuigskrif is onder verdenking weens die ACC se beweerde onvermoë om sogenaamde groot visse in te katrol weens politieke gedienstigheid.

Die gesprek oor die aanstelling van verkiesingskommissarisse het nie moeiteloos verbygeflits nie.

Eerste het mnr. Ignatius Shixwameni van die All People’s Party (APP) geëis dat kommissarisse nie lede van enige politieke partye mag wees nie omdat dit die onafhanklikheid van die ECN ondermyn.

Nudo se mnr. Joseph Kauandenge het aangevoer debat is eintlik onnodig omdat die staatshoof reeds besluit het wie aangestel moet word.

Volgens me. Elma Dienda van die Popular Democratic Movement (PDM) was daar nie behoorlike kennis van die kandidate se sogenaamde openbare onderhoude nie.

Die PDM se leier, mnr. McHenry Venaani, het gesê dat advertensies net een keer in April in koerante verskyn het. Die Verkiesingswet skryf volgens hom presiese spertye voor wanneer aanstellings afgehandel moet word. “Hieraan is nie voldoen nie,” het die leier van die amptelike opposisie aangevoer.

Volgens wet moet die staatshoof sy keuse maak nie langer as 17 dae ná onderhoude nie. Indien die sitting van die parlement onderbreek word, moet ‘n spesiale sitting plaasvind. Die proses moes volgens Venaani tussen 8 en 15 Junie reeds geskied het.

Die Speaker het hierop ‘n pouse afgekondig.

By sy terugkeer het hy aangekondig dat alle spertye nagekom is.

Dienda het op besonderhede aangedring, maar Katjavivi se antwoord was dat daar ‘n verslag is wat sy kan raadpleeg.

Kort voor 17:00 het mnr. Hamunyera Hambiyaka van Swapo versoek dat die sitting nie later as 17:45 moet duur nie.

Die opposisie was woedend en lede van die PDM en Landless People’s Movement (LPM) was dadelik op hul voete.

“’n Misverstand”, was die Speaker se verduideliking om gemoedere te kalmeer. Volgens Katjavivi was die voorstel net van toepassing op die huidige debat, oor die kommissarisse van die ECN.

Die opposisie was egter nie hiermee tevrede nie.

Toe die Speaker voorstel dat tot stemming oorgegaan word, was die gort opnuut gaar. Midde die chaos het Katjavivi die sitting om 17:15 onbepaald verdaag.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!