Opposisie kry sy sin
Die parlement kan wél die name op die amptelike opposisie se oorspronklike kandidatelys beskore wees.
Augetto Graig
Die Popular Democratic Movement (PDM) se sekretaris-generaal, mnr. Manuel Ngaringombe, het onlangs duidelikheid verskaf oor wie sy party in die nuwe parlement sal verteenwoordig.
Dit sluit volgens hom lede in wat by die party se kieskollege genomineer is “wat outentieke verteenwoordigers van die beweging is, gelys soos verkies, geverifieer, beoordeel en goedgekeur deur die sentrale komitee, soos per ons grondwet”.
Die PDM stuur vanjaar die volgende verteenwoordigers parlement toe: mnr. McHenry Venaani, me. Jennifer van den Heever, mnr. Diederik Vries, mnr. Vipuakuje Muharukua, mnr. Nicolaas Smit, mnr. Jan van Wyk, me. Elma Dienda, me. Esmeralda !Aebes, mnr. Johannes Martin, mnr. Kazeongere Tjeundo, me. Koviao Hengari, mnr. Geoffrey Mwilima, me. Elizabeth Becker, mnr. Thimoteus Shihumbu, me. Winnis Moongo en mnr. Pieter Mostert.
Dié partylede was nommer 1 tot 16 uit die lys van 96 name op die PDM se nominasielys.
Volgens Ngaringombe het verwarring ontstaan toe die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) aangedring het op die verwydering van sekere name op die lys voor dit in die Staatskoerant gepubliseer word.
Die toepassing van die ECN se interpretasie van artikels 46 en 47 van die Grondwet het baie politici gedwing om óf uit hul regeringsposte te bedank, óf om nie toegelaat te word om aan die verkiesing deel te neem nie.
As gevolg hiervan is die top-16 name aangepas deur ses name op die lys op te skuif en só in die Staatskoerant van 6 November 2019 aan te teken.
Die PDM dring egter aan op sy oorspronklike lys, en is nou in besit van 'n brief van die ECN se hoofkiesbeampte, mnr. Theo Mujoro, gedateer 28 Januarie 2020, waarin hy instem dat “die 16 name aangedui deur u in u brief van 1 Desember 2019 sal ooreenstem met die PDM-lede vir die parlement gekies”.
Ngaringombe sê die PDM is oortuig daarvan dat die ECN se letterlike interpretasie van die Grondwet verkeerd is en nie die doel van die wetgewing dien nie.
Hy sê die wetgewing het ten doel om dubbele vergoeding te voorkom vir parlementslede wat ook as staatsamptenare werk.
Volgens hom was die doel daarvan nooit om parlementskandidate werkloos te laat as hul party nie genoeg setels behaal nie.
“Die PDM eis dat die Kieswet van 2014 in lyn met die interpretasie van artikel 46 en 47 van die Namibiese Grondwet gebring word,” sê hy.
“Ek doen 'n beroep op alle politieke rolspelers om saam te werk om skuiwergate in kieswetgewing en die hele kiesstelsel aan te spreek,” sê hy.
Volgens die sekretaris-generaal het die hele kwessie wrywing veroorsaak tussen die PDM-leierskap, partylede op die oorspronklike lys en die lede wie se name verkeerdelik in die Staatskoerant verskyn het.
“Ek doen nou 'n beroep op al die leiers van ons groot beweging om die uitkoms van ons lys te aanvaar en om diegene te ondersteun wat regmatig deur die kiesers verkies is.
“Dié wat dit nie maak nie, berei julself asseblief op die komende streek- en plaaslike owerheidsverkiesings voor omdat jul ambisie om die nasie te dien hoogs geëer en waardeer word,” sê hy.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie