Opposisie ontstig oor 'vermiste stemtoestelle'
Partye sê die stand van sake wek kommer oor korrupsie.
Catherine Sasman
Opposisiepartye sê hulle gaan formele klagtes by die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) indien oor elektroniese stemtoestelle (EVM's) wat glo sedert 2017 vermis word.
Die ECN het in 'n verklaring gesê vier beheer- en twee stemeenhede is nie terugbesorg ná dit in Mei 2017 deur Swapo se Raad van Oudstes vir sy interne verkiesing gebruik is nie.
Die ECN se hoofverkiesingsbeampte, mnr. Theo Mujoro, het in die verklaring gesê die ECN is ten volle bewus van die eenhede wat nie terugbesorg is nie en is in besit van die toestelle se reeksnommers.
Volgens hom is een van die eenhede op Otjiwarongo gevind en is dit in besit van die polisie as deel van 'n voortgesette ondersoek.
Omdat die ondersoek nog nie afgehandel is nie, gaan die ECN nie op 'n openbare platform enige verdere inligting oor die kwessie verstrek nie.
Die president van die Rally for Progress and Democracy (RDP), mnr. Mike Kavekotora, het daarop aangedring die ECN moet antwoorde oor die vermiste eenhede verskaf en moet veral verduidelik waarom dit vir meer as 'n jaar en 'n half stilgehou is.
Plaaslike media het berig ten minste drie EVM's word vermis ná die huidige minister van justisie, mnr. Sacky Shanghala, 'n onbekende aantal EVM's vir die Raad van Oudstes se raadsverkiesing uitgeteken het.
“Sou dit waar wees, beteken dit die hele verkiesingsproses is nie in goeie hande nie,” het Kavekotora gesê.
“Ons het gekla oor die betroubaarheid van die EVM's. Hoe kan die ECN nou die integriteit van die verkiesingsproses verseker?” het hy gevra.
Die president van die Popular Democratic Movement (PDM), mnr. McHenry Venaani, sê die vermiste EVM's “skep vermoedens van korrupsie” en dat die verkiesingsproses gemanipuleer kan word.
“Om die EVM's sonder 'n papierspoor te gebruik, maak 'n bespotting van ons verkiesings,” het Venaani gesê.
Die leier van die All People's Party (APP), mnr. Ignatius Shixwameni, sê die feit dat die eenhede vermis word, skep die vermoede die stemtoestelle is “doelbewus uitgeneem sodat iemand daarmee kan gaan speel” of dat 'n span tegnici gebruik kan word om die funksies van die toestelle te verander in 'n poging om die verkiesings te manipuleer.
“Die ECN moet hiervoor pa staan. Hy moet 'n geloofwaardige verduideliking gee en die nasie die waarheid vertel. Die feit dat daar hieroor stilgebly is, wek net meer agterdog. Dit wek die indruk die ECN weet waar die toestelle is. As iemand by jou huis inbreek, meld jy dit by die polisie aan. Hoe kan 'n verantwoordbare organisasie weet van die vermiste toestelle en dit nie aanmeld nie?” het Shixwameni gevra.
Hy het ook gevra Shanghala moet verduidelik wat van die EVM's geword het.
“Die polisie moet hom ondervra. Waar is die toestelle? Die ECN moet klagtes teen Shanghala lê omdat hy nie die stemtoestelle terugbesorg het nie,” het Shixwameni gesê.
“Daar is duidelik geen beheer nie en dit moet duidelik wees waarom die ECN en Swapo vasbeslote is om die EVM's te gebruik,” het mnr. Henk Mudge van die Republikeinse Party (RP) gesê.
Volgens die leier van die Landless People's Movement (LPM), mnr. Bernadus Swartbooi, moet Swapo vir die vermiste eenhede betaal, wat staatseiendom is.
Shanghala het by navraag na die ECN se verklaring as kommentaar verwys.
Dit is nie duidelik of die ECN 'n formele klag by die polisie gelê het nie, maar intelligensiebeamptes het glo 'n verslag oor die vermiste eenhede 'n paar weke gelede aan die polisiehoof, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, voorgelê.
Ndeitunga wou nie kommentaar oor die kwessie lewer nie en het alle vrae na die polisiewoordvoerder komm. Edwin Kanguatjivi verwys.
Volgens Kanguatjivi is hy nie in 'n posisie om enige antwoorde te verskaf nie, omdat hy nie 'n saaknommer het nie.
Die ECN het gesê dit is jare lange praktyk om verkiesingsmateriaal en –toerusting, ingesluit die EVM's, aan onder meer politieke partye, kerke en vakbonde vir interne verkiesings te leen.
Volgens Mujoro is dit om vertroue in die gebruik van dié stemtegnologie te verhoog en om “enige oorblywende twyfel of bedenkinge oor die betroubaarheid van die masjiene” uit die weg te ruim.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie