Opposisie sluit verbond
Opposisie sluit verbond

Opposisie sluit verbond

Sukses in Windhoek kan volgens die leier van die amptelike opposisie die weg vir 'n nasionale koalisie voor 2024 se verkiesings berei.
Jemima Beukes
Jemima Beukes en Katharina Moser – Werktuie vir konflikbestuur is deel van die koalisie-ooreenkoms wat vier politieke partye met setels in Windhoek se stadsraad uiteindelik gister onderteken het.

Verskille het dusver gereeld opgeduik en gesamentlike optrede weens verdeeldheid ondermyn.

Die verbond is onderteken deur die Popular Democratic Movement (PDM), die Independent Patriots for Change (IPC), Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR) en Nudo.

Koalisielede moet nog vergader om eensgesindheid te bereik oor 'n oorkoepelende grondbeleid. Die partye self se benaderings tot die grondkwessie verskil en Windhoek word juis opnuut deur opstote oor onwettige plakkery geteister.

Die Landless People's Movement (LPM) is nie 'n lid van die koalisie nie.

Burgemeester Job Amupanda van die AR het gesê raadslede het ver­skille ná agt moeilike maande opsygeskuif en wil dinge nou laat werk. Lewenskragtige debat is volgens hom steeds nodig, maar nou kan verskille in terme van die ooreenkoms bestuur word.

Die stadsbestuur moet volgens Amupanda gestabiliseer word om die dringende ingrypings uit te voer wat nodig is.

Dr. Panduleni Itula, leier van die IPC, het gesê die ooreenkoms vereis dat koalisiegenote voor sittings van die stadsraad koukusvergaderings moet bywoon.

Raadslede sal sodoende moet optree en stem soos vooraf ooreengekom is.

Volgens Itula moet raadslede wettig optree en inwoners se belange dien eerder as hul eie. Die IPC het Maandag sy raadslede herroep oor die wyse waarop 'n erf aan een van hulle toegeken is. Sy het egter geweier om haar setel op te gee terwyl haar kollega vrywillig bedank het.

Die ooreenkoms bevat volgens Itula riglyne vir optrede; strafmaatreëls is na sy mening minder belangrik. “Ons moet egter onthou dat die mense nooit politici was nie en ons moet seker maak dat ons 'n wortel en stok het om hul in die regte rigting te lei,” het die president van die IPC gesê.

Die PDM se president, mnr. McHenry Venaani, het gesê sy party het groot vertroue in hul vennote en dat die opposisie Windhoek saam beter kan ontwikkel.

“Ons is ook bewus dat daar negatiewe magte is wat die proses van dienslewering wil laat ontspoor,” het hy egter bygevoeg. “Ons kan nie sukses behaal in 'n chaotiese opset nie.”

Die stadsraad was volgens Venaani die afgelope maande op “auto pilot”.

Die ooreenkoms kan volgens Venaani as model dien vir soortgelyke samewerking in ander plaaslike owerhede, asook op nasionale vlak. As die opposisie Windhoek kan regruk, sal 'n koalisie vir die volgende nasionale verkiesings in 2024 in sy mening dalk ondersteuning geniet.



WONDERWERKE

Volgens Itula kan opposisiepartye nie wonderwerke verrig nie omdat plaaslike owerhede aan die genade van die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling oorgelaat is. Volgens hom is daar geen rede vir die ministerie om verandering te bevorder nie.

“Hoekom sal hulle wil hê dat ons sukses behaal?” het hy gevra.

“Die burgemeester het probeer om hierdie skip deur die storms en orkane te seil, maar is van links na regs geskud.

Itula het onderneem dat lede van die koalisie alles in hul vermoë sal doen om te verseker dat Amupanda aan die spits van die kollektiewe regering van Windhoek bly.

Nudo se mnr. Joseph Kauandenge het ook 'n hou na die regering ingekry. Volgens hom het die minister onnodig met die goedkeuring van die stad se begroting gesloer.

Die PDM het Swapo gister in 'n nuusvrystelling deur sy sekretaris-generaal, mnr. Manuel Ngaringombe, opnuut van die sabotasie van plaaslike owerhede beskuldig waarin “progressiewe magte” nou meerderhede het of saam die septer swaai.

Grondgrypery – van agter die skerms deur Swapo aangevuur – die obstruksie van vooruitgang en valse propaganda is volgens die PDM deel van die strategie.

Nampa berig me. Hilma Nikanor het as Swapo se woordvoerder die aantygings ontken. “Hulle het beloftes aan kiesers gemaak en moet daarom die beloftes uitvoer en ophou vinger wys,” het sy gesê.

Swapo het volgens Nikanor geen belang daarby om ander politici en ontwikkeling te ondermyn nie.

FOTO
Dr. Panduleni Itula van die IPC, die PDM-leier McHenry Venaani, mnr. Joseph Kauandenge van Nudo en Windhoek se burgemeester, dr. Job Amupanda, tydens gister se ondertekening van 'n koalisie-ooreenkoms tussen opposisiepartye met setels in die stadsraad.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer