Oproer oor erfverkope op Lüderitz
Altesaam 5 002 inwoners se name is op 'n waglys vir grond op Lüderitz, waar dit gemiddeld N$120 000 kos om 'n erf te diens.
Augetto Graig
Inwoners van Lüderitz het by dié dorpsraad en die dorp se uitvoerende hoof beswaar gemaak teen die verkoop van 200 ongedienste erwe in die woonbuurte van Nautilus, uitbreiding 2, 3, 4 en 5.
Dít deur middel van 'n petisie.
Ná net drie dae wat die petisie in omloop was, het 950 gemeenskapslede dit reeds onderteken. Teen 18 September het nog 350 inwoners die besware op die internet ondersteun.
Mnr. Reginald Hercules, woordvoerder van Buchters Against Corrupt Land Sale, sê in die petisie: “Lüderitz se inwoners, wat die dorpsraad al jare lank smeek om grond vir behuising beskikbaar te maak, is woedend oor die roekelose manier waarop die dorpsraad die tenderprosedures kan manipuleer en omseil ten gunste van 'n bevoorregte minderheid en ten koste van die groter Lüderitz-gemeenskap.”
Vroeër het die dorpsraad die verkoop van dié erwe in plaaslike koerante geadverteer en gemeenskapslede kon beswaar teen die beoogde transaksies maak.
Volgens die advertensie gaan 50 erwe in Nautilus, uitbreiding 2, aan Amai-Ge Investments verkoop word teen N$291 300; 50 erwe in uitbreiding 3 aan Harambee Development Solutions teen N$338 175, 50 erwe in uitbreiding 4 aan NCCS Investment Holdings teen N$279 945, en 50 erwe in uitbreiding 5 aan Dovino Properties, in vennootskap met Eland Construction Metals, teen N$280 125.
Amai-Ge word verteenwoordig deur mnr. Dantago //Hoabeb, Harambee deur mnr. Ndishiilange Ndjoba, NCCS deur mnr. Ebben Iita, en die kontakpersoon vir Dovino en Eland is mnr. Matti Kanalelo.
Volgens die petisie wil dorpsinwoners weet wie die eienaars van die spekulerende maatskappye is, hoekom hulle voorkeur geniet, wanneer die gemeenskap van die verkoop van die grond verwittig is en hoekom inwoners, veral dié op die dorpsraad se waglys, nie die geleentheid gegun is om self die betrokke erwe te koop nie.
“Ons doen 'n beroep op die raad om hierdie erwe aan die Lüderitz-gemeenskap en inwoners op die erwe-waglys teen dieselfde pryse as aan die eiendomspekulante te bied en sodoende die huidige behuisingstekort op die dorp te verlig,” skryf Hercules in die petisie.
'nIKS AGTERBAKS'
Lüderitz se uitvoerende hoof, me. Aunie Gideon, sê egter daar is niks agterbaks aan dié ontwikkeling nie en dat die advertensie wat inwoners uitnooi om beswaar te maak, ook deel is van die wetlike proses in die verkoop van die grond.
Sy sê die koste om erwe op die dorp te diens is eenvoudig te duur vir die meeste inwoners - veral vir die 5 002 inwoners op die dorp se waglys vir grond.
“Dit kos na raming meer as N$120 000 per erf as gevolg van die dorp se topografie in vergelyking met ander dorpe,” sê sy.
“Dit sou onrealisties wees om ongedienste grond aan die gemeenskap te verskaf, net sodat hulle uiteindelik eis dat die grond deur die raad gediens moet word,” sê sy.
Volgens Gideon het die dorpsraad bloot nie die geld om die grond self te diens nie, dus het hulle openbare-private vennootskappe begin oorweeg sodat die grond gediens kan word.
'DEURSIGTIGE PROSES'
Ná die plasing van 'n advertensie op 21 Junie 2013 waarin belangstellendes in die grond uitgenooi is, het potensiële beleggers oorweldigend gereageer en 'n deursigtige proses is begin, sê sy.
“Die proses is deurgaans deur die raad goedgekeur deur middel van 'n raadsbesluit tydens 'n openbare raadsvergadering, wat duidelik gestel het die verkoop van die ongedienste grond is onderhewig aan ministeriële goedkeuring,” sê sy.
Besware teen die verkoop van die grond moet nou aan die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, me. Sophia Shaningwa, voorgelê word en sy sal besluit of die transaksies sal voortgaan, sê Gideon.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie