OPTOG! maak sy buiging in Namibië

Lloyd Zandberg
OPTOG! is ’n inisiatief wat in 2018 bekend gestel om kunstenaars en musikante oraloor Suid-Afrika en deur Namibië te neem om kuns en kultuur vir almal toegankliker te maak.

Die idee vir OPTOG! is deur die musiekregisseur Matthys Maree ontwikkel, wat vir talle musiekproduksies bekend is, terwyl die bekende Nataniël vir die naam verantwoordelik was en ook die “gesig” van die veldtog is.

Maandeliks vind tussen 20 en 30 produksies plaas en dit kan as ‘n voortdurende reis beskou word wat kuns en kultuur na jou tuisdorp bring.

Elke produksie is ‘n hoogtepunt – veral omdat die room van die Afrikaanse vermaakbedryf daarby betrokke is.

Van die bekende name wat al aan ‘n OPTOG!-produksie deelgeneem het, sluit in Jo Black, Laurika Rauch, Elvis Blue, Nataniël, Refentse, Sandra Prinsloo, Lizz Meiring, Margit Meyer-Rödenbeck, Stef Bos, Coenie de Villiers en Deon Meyer.

Dit is met groot opwinding dat onlangs bekend gemaak is OPTOG! gaan vir die eerste keer ‘n draai in Namibië maak. Die produksie sal eersdaags onder meer Windhoek, Tsumeb, Swakopmund en Mariental besoek.

Die eerste Namibiese OPTOG! behels Drie van die Bestes.

Dié groep bestaan uit Mathys Roets, Kevin Leo en Danie Niehaus.

Die groep is in 1997 gestig en ná verskeie suksesvolle albums, ’n bekroonde DVD-opname en optredes hier en in die buiteland, sing hierdie driemanskap Suid-Afrikaners se harte steeds aan die brand.

Ondanks elkeen se uiteenlopende musiekstyl in die vertoning – van pop tot ballades en ligte klassieke musiek – is dit veral hul a cappella- en samesang wat van hulle ’n gedugte kombinasie op die verhoog maak.

As solokunstenaars is elkeen ’n ster in eie reg: Kevin met sy kragtige tenoorstem, Mathys met die rustige, fluweelstem in die laer registers en Danie as bekroonde en veelsydige kunstenaar en liedjieskrywer.

In hierdie vertoning span hulle ook kragte met Maree, ’n bekende pianis, vir ’n ongelooflike musikale reis saam.



“Daar is reuse-opwinding aan ons kant – veral omdat dit die eerste in ’n reeks beplande toere na Namibië is.

“Dis so lekker om kuns na almal te bring, nie net na Suid-Afrikaners nie, en dit is natuurlik altyd lekker om in Namibië konsert te hou!” sê Delmari Van Zyl, OPTOG! se woordvoerder.



Buiten die beplande Drie van Die Bestes-optrede, word beoog om Jo Black ook binnekort na Namibië te bring.

“Die inligting sal binnekort bekend gemaak word, maar konserte word vir einde Julie en Augustus beplan,” sê Delmari.

Vir elke kaartjie wat vir Tsumeb, Swakopmund en Mariental se vertonings verkoop word, skenk OPTOG! N$10 aan die Namibië Boere-droogtehulpfonds.

Kompetisie

Kollig gaan twee dubbelkaartjies vir elke plaaslike vertoning weggee.

Stuur die antwoord van die onderstaande vraag voor Maandag 8 Julie om 17:00 saam met jou naam, van, e-posadres, selnommer en watter optreedatum jy verkies aan [email protected].

Die vraag is: Wie was verantwoordelik vir OPTOG!-idee?

Kaartjies sal elektronies aan wenners gestuur word.

OPTOG!-toerdatums

9 Julie, Windhoek, Windhoek-gholfklub, 19:30

11 Julie, Tsumeb, Teaterhuis, 19:30

12 Julie, Swakopmund, The Dome, 19:30

13 Julie, Mariental, Mariental Gimnasium, 19:30

Hou Kollig vir beplande toer- en optreedatums dop.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!