Opul wil aanhou om olieproduksie te beperk
Opul wil aanhou om olieproduksie te beperk

Opul wil aanhou om olieproduksie te beperk

Die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) en sy bondgenote wil hul ooreenkoms om olieproduksie te beperk vir nog nege maande verleng.
As deel van die plan om oliepryse te help verhoog en die ekonomieë van olieuitvoerlande te laat herleef, wil die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) voortgaan om olieproduksie te beperk.

Hoewel ministers wat dié week in Wene, Oostenryk vergader nog beplan om hul verskillende opsies te bespreek, is daar al meer eenstemmigheid om ooreen te kom om produksie tot Maart 2018 te beperk.

“Ek dink ons stem in die stadium saam oor nege maande,” sê Noureddine Boutarfa, Algerië se minister van energie.

“Maar ons kan dalk môre ’n ander voorstel maak,” sê hy.

Opul en 11 lande wat nie lid van die organisasie is nie het in 2016 ooreengekom om olieproduksie met soveel as 1,8 miljoen vate per dag te verminder.

Daar is oorspronklik beplan om van Januarie vanjaar die laer produksievlakke vir ses maande te handhaaf, maar die stadiger as verwagte afname in die oorskot brandstofvoorraad het gemaak dat Opul dié plan heroorweeg.

Rusland, Saoedi-Arabië en Irak het openlik gesê hulle steun die plan om produksie tot Maart 2018 te beperk.

“Nie almal” steun egter die nege-maande plan nie, sê Issam Almarzooq, Koeweit se minister vir olie.

’n Komitee van ses Opul- en ses nie-Opul-lande sal Woensdag vergader om die meriete om die beperkinge vir nog 12 maande, bo en behalwe die ses en nege-maande tydperke wat reeds genoem word toe te pas, te bespreek.

Die Internasionale Energie Agentskap sê indien Opul Brent-ruolie se produksie op 31,8 miljoen vate per dag tot aan die einde van die jaar handhaaf, sal dit die daling in olievoorrade versnel.

“Die ooreenkoms werk en ek weet dit sal gedurende die tweede helfte selfs beter werk,” sê Suhail Al Mazrouei, die Verenigde Arabiese Emirate se minister vir energie.

“Ons moet die mark meer tyd gee.” Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer