Opuwo kies weer in Julie
Opuwo kies weer in Julie

Opuwo kies weer in Julie

Verkiesings
Augetto Graig
Die herhaling van die verkiesing van die Opuwo landelike kiesafdeling se verteenwoordiger op die Kunenestreekraad sal op 2 Julie gehou word. Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) het aangekondig dat voorbereiding vir die verkiesing goed verloop.

Die kandidate wat suksesvol geregistreer is om in die verkiesing mee te ding, sluit in mnre. Heinz Hariki Maundu van die National Unity Democratic Organisation (NUDO); Western Uakaisiua Melchizedek Muharukua van die Popular Democratic Movement (PDM); Kaiho Rikambura van die Rally for Democracy and Progress (RDP), Swapo se mnr. Kazepanda Tjambiru en die Independent Patriots for Change (IPC) se mnr. Howards Kaihepere Tjituri.



STEMBEAMPTES OPGELEI

Volgens die hoofkiesbeampte, mnr. Theo Mujoro, is die stemregister reeds in April op datum gebring en geen beswaar is teen die sperdatum van 3 Mei aangeteken nie. Die finale register sal vanaf 7 Junie beskikbaar wees, sê hy. Op dieselfde dag sal die tender om die stembriewe te druk ook toegeken word, waarna die betrokke politieke partye op 11 Junie die stembriewe moet goedkeur.

Ale sensitiewe materiaal vir die verkiesing sal op 21 en 22 Junie na 'n polisiekantoor binne die kiesafdeling geneem word, en daar onder polisietoesig bly tot op die stemdag.

Die ECN beplan om 156 stembeamptes aan te stel om agt vaste stempunte en 18 mobiele stempunte te beman. Die beamptes sal vanaf 25 tot 29 Junie opgelei word, terwyl politieke partybeamptes en polisie betrokke op stemdag vanaf 22 tot 24 Junie opleiding sal ontvang.

Op 30 Junie en 1 Julie sal van 52 voertuie gebruik gemaak word wanneer die 26 spanne stembeamptes na hul betrokke stempunte vervoer word.

Volgens Mujoro is die ECN besig om kiesers in die kiesafdeling in te lig deur gebruik van NBC en die Kunene Community radiostasies, terwyl plakkate opgesit word en ECN-beamptes met inwoners oor hul stemregte praat.

Kommentaar

Republikein 2025-04-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer