Oranje-gevaar vir eers verby

Die Oranjerivier se watervloei by Blouputs het van Vrydag tot gister met ongeveer 500 m3/s afgeneem.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Oewerboere en lodge-eienaars aan die Oranjerivier kan vir eers ontspan. Die vloed wat die tweede oorstroming vanjaar op plekke by oewernedersettings veroorsaak het, is verby.
Die watervloei by Blouputs, die laaste metingspunt voordat die Oranjerivier die grens na Namibië oorsteek, was gisteroggend 2 890 kubieke meter water per sekonde (m3/s) en die rivier was 4,3 m diep.
Tydens dié vloedgolf se piek Vrydagoggend by Blouputs was die Suid-Afrikaanse departement van water en sanitasie se vloeilesing 3 407 m3/s en die dieptemeting 4,8 meter.
Dis ’n daling van ongeveer 500 m3/s in die vloei van die water.
Die Paaieowerheid (RA) moes Saterdagmiddag die MR 118-pad tussen Rosh Pinah en Oranjemund tot verdere kennisgewing sluit. Die Oranjerivier het op plekke tussen kilometer 26 en kilometer 32, soos gemeet vanaf Rosh Pinah, oor die teerpad gevloei.
Oranjemunders is versoek om in die tussentyd die grondpad tussen Oranjemund en Lüderitz deur die Sperrgebiet te gebruik. Dié pad sal daagliks tussen 06:00 en 15:00 vir die publiek oop wees, sê die RA.
Mnr. Jacques Cliff, bestuurder van die plaas Komsberg aan die Oranjerivier, het gister aan Republikein gesê geen vloedskade is aan wingerde aangerig nie.
“By Desert Fruit (aangrensende plaas) het die rivier tot tussen die dadelbome opgestoot, maar omdat dit stadig-vloeiende water is, het dit geen skade aangerig nie.
“By Noordoewer het Sarel Olivier- hulle se groentegronde wel oorstroom,” het Cliff vertel en later foto’s gestuur wat ook wys hoe die Oranjerivier by Aussenkehr oor die laerliggende dele van Norotshama River Resort se terrein gestroom het.
Mnr. Petrus Kapitango, bestuurder van Felix Unite se Provenance Camp op die oewer van die Oranjerivier by Noordoewer, sê hoewel die water deur twee van die bungalows gevloei het, is die rivier nou besig om te sak.
By Amanzi Trails River Adventures se kampterrein ’n ent verder is reeds geruime tyd onder water, maar die hoërliggende kroeg en ablusieblok is ongeskonde.
Mnr. Abé Olivier van Omega Farms by Noordoewer het vroeër in ’n video-onderhoud aan Republikein gewys hoe hul landerye tydens die vorige, kleiner vloedgolf aan die begin van Januarie reeds onder water was.
Die vier opgaardamme in die Oranjerivierstelsel – die Vaal-, Bloemhof-, Gariep- en Vanderkloofdam – was gisteroggend onderskeidelik 105,3%, 102,1%, 104,1% en 106,5% vol.
Cliff sê hoewel die vloedgolf die naweek nie so groot was as die een tydens die 2011-vloede nie, kan nie nou al voorspel word wat later in die seisoen gaan gebeur nie. “Dit sal afhang van hoeveel reën in die opvanggebiede van hierdie damme val.”
Hy sê NamWater stel ’n goeie voorbeeld by die Hardapdam deur dit só te bestuur dat die dam nooit meer as 70% vol is nie.
Die vorige groot vloed in die Oranjerivier was op 14 Januarie 2011 toe die watervloei by Upington op 4 802 m3/s gepiek het. Die hoogte was toe 7,7 meter.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!