Oranjemund skud vere reg vir nuwe begin

Die oopstel van die dorp se grense is die begin van 'n bewustelike proses om die naelstring met die myn te knip.
Henriette Lamprecht
Hy het sy ontstaan te danke aan diegene wat gelok is deur die skitter van blink klippies en die geklingel van rykdom in hul sakke.

Toe was Oranjemund 'n eenvoudige werkerskamp tussen niks en nêrens, nou is dié dorpie op die vooraand van 'n nuwe begin en 'n toekoms so blink soos die ­diamante waaraan hy sy bestaan en oorlewing tot nou te danke het.

Vandag, meer as agt dekades later, gooi die dorp aan die mond van 'n rivier sy arms oop vir elkeen wat sy gasvryheid en unieke skoonheid wil ervaar.

Eens was Oranjemund se binnekoms net beskore vir werknemers en hul families. Is jy nie 'n genooide gas of inwoner nie, het sy hekke toe gebly. Dít verander egter eersdaags met permitte om die dorp te besoek, wat aan die verlede gaan behoort.

Oranjemund is in 2011 as dorp verklaar, die begin van die pad wat uiteindelik die hekke vir besoekers sou oopsluit.

In 2012 is die eerste plaaslike owerheid verkies en kon die dorp ook vir die eerste keer met 'n dorpsraad spog.

Die verbinding met die res van die land word verder verstewig met 'n nuwe teerpad wat eersdaags die dorp ook met Rosh Pinah, die //Kharasstreek en ander uithoeke van die land sal verbind.



Die pad tot 2030

Met die oopstel van haar grense is met 'n bewustelike proses begin om beleggers na die dorp te lok en Oranjemund se afhanklikheid van die myn te krimp. In dié verband het die openbare sektor, die myn en plaaslike inwoners hande gevat en Oranjemund2030 (OMD2030) van stapel gestuur met die gedeelde visie om vir Oranjemund en sy mense 'n volhoubare toekoms te skep.

'n Strategiese en gestruktureerde plan was nodig om die “myndorp” in die volgende paar jaar só te vestig en te herskep dat sy toekoms steeds soos die eerste klippies in sy verlede sou blink.

In 'n neutedop is OMD2030 'n plan om die dorp van 'n eendimensionele ekonomie in privaatbesit te herstruktureer en verander na 'n volhoubare en vooruitstrewende dorp met vele fasette en gesigte.

Die plan is nou verbind met die ­grondbeginsels en filosofie van die ­Nasionale Ontwikkelingsplanne en sal as 'n internasionale gevallestudie dien oor hoe 'n myn se voetspoor herontwerp kan word om as hupstoot te dien vir 'n dorp wat floreer op die moderne beginsels van volhoubaarheid.

Totdat die ekonomie egter nie voldoende diversifiseer nie, bly Oranjemund afhanklik van Namdeb se kommersiële lewensvatbaarheid. Namdeb se lewensvatbaarheid in die medium termyn bly egter toenemend onseker. Terselfdertyd vereis Namdeb 'n positiewe, hoë funksionele leefomgewing vir sy werknemers om sy sake vlot te laat verloop.



Met mekaar verweef

Volgens OMD2030 se webtuiste bly die lewensduur van die dorp en die lewensduur van die myn vir die nabye toekoms daarom diep met mekaar verweef. In die belang van elkeen is dit daarom ook noodsaaklik om beide te bewaar en te koester.

Met die oog op selfstandigheid het Oranjemund se reis van verandering reeds begin - 'n proses waarby verskeie kompleksiteite betrokke is.

Om die visie van OMD2030 suksesvol die lig te laat sien, was 'n strategiese en gestruktureerde plan nodig met dien verstande dat dit sowat 10 tot 15 jaar duur om 'n dorp te herskep.

In dié verband is 'n bestuursraamwerk ontwikkel wat rolspelers soos Namibië se regering, die myn, sakegemeenskap en ook inwoners betrek het. Drie komplementerende komponente lei die projek.

Inwoners word ook deur middel van belangegroepe aangemoedig om deel te wees van die ontwerp en implementering van die “nuwe” dorp.



Van hier tot 'normaal'

Die eerste stap vir Oranjemund om 'n “normale” dorp te word, is om die dorp se openbare dienste, infrastruktuur en eiendom van die myn aan die dorpsraad oor te dra. Gedryf deur 'n duidelike ­behoefte onder jong en ou inwoners vir 'n plek waar hulle hoort, is private eienaar­skap van eiendom deurslaggewend om 'n gevoel van aanvaarding te skep. Laas­genoemde is veral belangrik om die voortgesette verlies van waardevolle gemeen­skapslede te verhoed wat gedwing word om die dorp te verlaat wanneer hulle by die myn bedank of aftree.

Met goeie verblyfsopsies wat verhuring of eienaarskap insluit, gehalte onderrig en gesondheidsgeriewe, 'n verskeidenheid ontspanningsgeriewe en 'n sosiale, ondersteunende en trotse gemeenskap, is die hoop dat die verkope van residensiële en sake-eiendomme die private sektor op die dorp 'n hupstoot sal gee.

Verlies

Erkenning word gegee aan die onvermydelike maatskaplike en omgewingsveranderinge wat spruit uit Oranjemund se transformasieproses en die verskeidenheid emosies wat dit onder sy inwoners ontlok.

Dit wissel van vrees vir hul veiligheid asook dié van hul gemeenskap, 'n verlies aan identiteit as 'n myndorp, die rou oor die glorie van die verlede tot versigtige optimisme vir toekomstige geleent­hede. Erkenning vir dié warboel emosies en onsekerheid is vervat in die OMD2030-program, wat inwoners en die gemeen­skap juis erken en ondersteun om noodgedwonge veranderinge eerder te omhels as om dit te verwerp.



Van hier tot daar

Tot op hede het alle verantwoordelik­hede vir maatskaplike diens op die myn se skouers gerus. Tipies van 'n myndorp moet dít egter verander om die voor­siening van sosioëkonomiese dienste op die dorp te herbalanseer.

Hiervoor is innoverende en volhou­bare herverdelingsoplossings vir onderwys, ­gesondheidsorg, strategiese waterbestuur, veiligheid en sekuriteit nodig.

'n Naatlose oorgang van nie-kern ­mynaktiwiteite sal beide Oranjemund en Namibië in staat stel om hul beste toekoms na te jaag. Volgens die program is dit 'n opwindende geleentheid om 'n nuwe modeldorp op bestaande, soliede hoekstene die lig te laat sien, met die suksesvolle mobilisering van dié oorgang wat swaar op die betrokkenheid van inwoners rus.



Om te verander

Oranjemund het vir meer as 80 jaar uitsluitlik op die ontginning van diamante oorleef. Vir nou staan inwoners as 'n ­gemeenskap van bevoorregting by 'n kruispad wat moet kies om in die gange van die verlede te bly dwaal of om die pad van 'n meer gediversifiseerde en volhoubare ekonomie te kies.

Die beeld van 'n fles met 'n enkele groot klip (Namdeb) word gebruik. Geleidelik moet dié enkele klip met verskeie kleiner en medium klippies vervang word om ­toerisme, landbou en ook vervaardiging in te sluit.

Dié ondernemings word nou organies ontwikkel om onafhanklik van die myn­bedrywighede te funksioneer met die hoop en visie dat dit en ook die dorp volhoubaar sal kan voortbestaan.



Alle nuwe paaie

Simbolies van Oranjemund se “nuwe” begin en sy hekke wat nou vir almal oop sal wees, is die nuwe teerpad van 95 km wat die dorp nou met Rosh Pinah verbind. Dié pad is ontwerp om die roete van die kronkelende Oranjerivier te volg, die mynbedrywighede daarlangs te beskerm en terselfdertyd 'n blik te bied op die unieke omgewing rondom die dorp.



Om 'n brug te bou

Saam met die opening van die dorp kom 'n nuwe ekonomiese sone van sowat 300 km wat die dorp aan beide kante van die Oranje­rivier omring. Dorpe so ver as Springbok, Keetmanshoop, Rosh Pinah en Port Nolloth sal voordeel trek uit die “nuwe” Oranjemund op die gebied van toerisme, handel en onderwys. Nog voordele lê in die uitbreiding van die Ai-Ais/Richtersveld-oorgrenspark na die Sperr­gebiet Nasionale Park, 'n toerisme­netwerk wat uitgebrei kan word in gedeelde bemarkings­geleenthede wat industrialisasie en werkskepping bespoedig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!