Oranjerivier bereik die see

Riviervlakke in die land bly styg.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Ná die Oranjerivier se kommerwekkende lae vlakke het dié rivier aan die suidgrens van die land Maandagnamiddag skouspelagtig by Oranjemund in die Atlantiese Oseaan ingevloei.

Nadat Suid-Afrika se Vanderkloofdam einde verlede week water van 400 kubieke meter per sekonde in die Oranje­rivier ingelaat het, het die rivier se vlak só gestyg dat die Augrabies-watervalle in die Noord-Kaap Sondag in sy volle glorie was.

By Blouputs het die Oranje Sondag 1,58 m diep gemeet en Maandag 1,35 m diep nadat dit Saterdag op slegs 0,60 m gestaan het. Volgens die Namibiese hidrologiese dienste se vloedverslag was die riviervlak verlede jaar dié tyd slegs 0,52 m.

Die Zambezirivier was Maandag by Katima Mulilo 6,78 m diep teen­oor verlede jaar se 5,5 m in dieselfde tyd.

Die Kavangorivier se vlakke styg ook steeds. Maandag was dit 4,4 m diep by Nkurenkuru en 7,03 m by Rundu.

“Daar was 'n skerp styging in riviervlakke by Rundu in 'n week sedert verlede Dinsdag - vanaf 6,58 m tot 7,03 m diep. Verlede jaar dié tyd het die Kavango se vlak by Rundu maar 5,14 m diep gemeet,” lui die vloedverslag.

Watervlakke by die Cuvelai-­opvangsgebied is volgens die Namibiese hidrologiese dienste besig om te daal.

Die Kunenerivier se vloei by Ruacana bly steeds hoog en vloei tans teen 1 469,4 kubieke meter per sekonde.

Op Epupa Falls Lodge se Facebook-blad is verslag oor paaie in die gebied gedoen. Die D3700-pad tussen Ruacana en Epupa is steeds gesluit en tussen Ruacana en Swartbooisdrift is dit net per 4x4-voertuig toeganklik.

Dieselfde geld vir die pad tussen Swartbooisdrift en Epembe en Epupa en geen karavane of sleepwaens kan gesleep word nie.

Die C43-pad tussen Opuwo en Epupa kan met 4x4-voertuie en hoë 2x4-voertuie gery word. Bestuurders moet egter baie stadig ry en daar is baie slote, word gewaarsku.

“Hoewel Kunene River Lodge oorstroom is en Camp Syncro ook weens die vloed skade gely het, is Epupa Falls Lodge oop en sake gaan normaalweg voort,” skryf Epupa Falls Lodge.



DAMVLAKKE

Die damvlakke soos Maandag gemeet in vergelyking met verlede jaar se vlakke in dieselfde tydperk staan op: Von Bach 56,8% (59,7%), Swakoppoort 41,3% (52%), Omatako 8,4% (55,4%), Hardap 47,9% (69,4%), Naute 87,7%, (96,1%) en Oanob 68,9% (90,5%).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!