Orca baas van dié plaas

Met die see omgekrap was die vis aan die skraps kant, maar vanaf die ontsoutingsaanleg tot by Myl 32 het hengelaars hul bes gedoen.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die Namibiese Strandhengelver­eniging (NSAA) het onlangs sy tweede interklubkompetisie vir die 2019-seisoen suid van Hentiesbaai aangebied.

Sommige van die klubs se tophengelaars het nog herstel van die uitmergelende driedaagse nasionale strandhengelkampioenskap wat die vorige week teen die einste weskus uitgespook is.

Vyftien klubs met volsterkte spanne was die Saterdagoggend ná die kapteinsvergadering gereed om tussen 08:00 en 15:00 die beste uit die wispelturige Atlantiese Oseaan se skuimende branders te haal.

Mnr. Eddie Cowley van die NSAA sê hengelaars moes hard vir elke vissie werk wat punte tel om in 2020 aan die gesogte Nasionale Strandhengelkampioenskap te kan deelneem.

“Die see was maar rof met min vis wat uitgetrek is, wat tot 'n teleurstellende kompetisie gelei het. Die hengelaars moes in die sewe ure tot hul beskikking hard werk om die swaarste moontlike vis aan die hoek te kry. Elke punt tel en die hengelaars konsentreer hoofsaaklik om oneetbare vis in te weeg.

“Die interklubbyeenkomste duur net een dag en daar is nie 'n tweede of derde dag om vir die vorige dag se swak vangste te vergoed nie. As jy niks gevang het nie, is dit natuurlik uiters teleurstellend, maar dit is waar die tophengelaars se fynere kunsies en kennis van die see hulle van die res onderskei,” sê Cowley.

Die swaarste eetbare vis van die dag was 'n kabeljou van 2.6 kilogram wat deur André Theart van die Skeleton Coast-hengel­klub uitgetrek is.

Die swaarste oneetbare vis van die kompetisie was 'n gespikkelde sloephaai (spotty) van 22.2 kg wat deur Joe Herman van die Orca-hengelklub gevang is.

“Ons kan aan die gewig en oneetbare vis sien wat gevang is hoe swak die vis geloop het en hoe moeilik die toestande was. 'n Totaal van net 61 eetbare vis met 'n massa van 49.3 kg is tussen die ongeveer 165 hengelaars gevang.

“Nie een bronshaai (bronsie) is uitgetrek nie en die 43 oneetbare vis wat ingeweeg (gemeet) is, kon die skaal net tot 342.7 kg bring. Natuurlik laat ons weer elke oneetbare vis soos haaie, roë asook pylsterte terug in die water, want bewaring van ons bronne vir die nageslag is uiters belangrik vir die hengelaars en die NSAA,” het Cowley verduidelik.



Die voorste uitslae

Klubkompetisie: 1 Orca-hengelklub, 2 Penguin-hengelklub, 3 Hentiesbaai-hengelklub.

Tophengelaars: 1 Grant Knight (Penguin), 2 Joe Herman (Orca), 3 Simen Anderson (Hentiesbaai).

Topvroue: 1 Michelle Andersen (Hentiesbaai), 2 Elaine Vorster (Hentiesbaai), 3 Megan Connoway (Mako-hengelklub).

O.21-hengelaars: 1 Karel Agenbag (Hentiesbaai).

O.16-afdeling: 1 Heiko Doll (Okahandja-hengelklub), 2 Corné Burger (Penguin), 3 Adrian Steenkamp (Benguella-hengelklub).

Belangstellendes kan www.namshoreangling.com.na besoek om meer van die vereniging se doen en late uit te vind.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer