Orka-walvisse in Lüderitz

Tanja Bause
Tanja Bause - Die kusdorp Lüderitz is Dinsdag deur twee orka- of moordwalvisse begroet.

Volgens die Facbook-blad “Lüderitz Marine Research” is die twee walvisse aanvanklik in die baai by Shark-eiland raakgesien.

Hulle het van daaraf verby die Nest Hotel en oesterplase in die baai ingeswem.

Later het die twee weer aan die westelike oewer uit die baai geswem en is sowat vier ure daarná vir die laaste keer by Kartoffelbucht gesien.

Dit lyk of hulle in Griffith-baai ’n haai geëet het en sodoende seemeeue gelok het.

“Wat baie interessant is, is dat beide visse ’n ingevalle dorsale vin het. Terwyl ingevalle vinne normaal by orka-walvisse in gevangenskap is, is dit skaars by vrylewende walvisse. Om dan boonop twee wat saam is met ingevalle vinne te ontdek, is baie ongewoon.”

Dié twee kalante is vermoedelik Port en Starboard, só genoem omdat die een se vin na links en die ander na regs ingeval het.

Hulle word glo gereeld aan die Suid-Afrikaanse kus gesien.

Die paar is reeds in 2009 in Lüderitz opgemerk.

Volgens Lüderitz Marine Research vind gemiddeld slegs een waarneming van dié walvisse per jaar in die Lüderitz-omgewing plaas.

“Wat Dinsdag se waarneming so spesiaal gemaak het, is dat hulle met die hele baai op en terug geswem het,” sê dié Facebook-blad.

“Hulle is so ver oos as by Port Elizabeth in Suid-Afrika gesien en was ook al in Lüderitz. Hulle word met die vreet van haaie en die gevolglike verdwyning van haaie in sommige gebiede in Suid-Afrika verbind. Hulle was onlangs die fokus van ten minste twee dokumentêre programme op Discovery en NatGeo. Ons weet nie hoekom hul vinne gebuig is nie, maar dit word gewoonlik aan een of ander besering toegeskryf,” het die Namibian Dolphin Project (NDP) op hul Facebook-blad geskryf.

“Die NDP- en die Sea Search-span is besig om 'n konsortium van navorsers en bewaringskundiges saam te stel om die bewegings van hierdie diere langs die kus en in die omgewing te bestudeer. Tree asseblief in verbinding met ons as jy foto’s of rekords van enige orka-walvisse in suidelike Afrika in die afgelope 10 jaar het.”

’n NDP-span het in Maart orka-walvisse in Walvisbaai gesien.

“Hulle was nie dieselfde individue wat Dinsdag in Lüderitz gesien is nie,” het NDP gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!