Orkaan in u2019n blikbeker?
Orkaan in u2019n blikbeker?

Orkaan in ’n blikbeker?

Denver Kisting
Denver Kisting – Dat die afgelope week in Namibië die geskiedenis herskryf het, is ouer as al wat ’n berg is.

Dat vandag moontlik die vyfde agtereenvolgende potblou Maandag vir ’n kleurvolle meisiekind van die Suide is, is eweneens nie onwaarskynlik nie.

Omdat ek ’n man van baie min woorde is, sal ek my bes probeer om nie weer al die holrug geryde gegewens breedvoerig onder die loep te neem nie.

Sou iemand dalk êrens in ’n internetvrye nedersetting vasgevang gewees het en vandag eers weer by ons in die sogenaamde beskawing aansluit: As ’n eerste vir hierdie praglandjie aan die suidpunt van Afrika is ’n dienende minister aan ’n misdaad skuldig bevind.

Sedertdien kook die spreekwoordelike storm in ’n teekoppie oor – veral in die roekelose kuberruim, intens op WhatsApp-groepe, sonder twyfel in kroeë, in taxi’s, in nuuskantore, op straat en bes moontlik selfs in Staatshuis.

Teen alle verwagtinge in het die Swapo-swaargewig sowat 24 uur nadat regter Christie Liebenberg die slegte nuus meegedeel het, die land op twee bladsye laat weet sy bedank maar.

Staatshuis se segsman het nie op hom laat wag nie en enkele oomblikke later laat weet: prez Hage verwelkom dié stap. Daar was egter ’n bietjie van ’n byt in Auasblick se oënskynlike aanvaarding van die bedankingsbrief. Aldus die segsdok sou die minister in die pad gesteek gewees het as sy nie uit eie wil die tuig neergelê het nie.

Sosialemedia-aktiviste is dit egter nie eens dat eie wil ter sprake was nie. Trouens, daar word steeds verwoed gegis dat daar waarskynlik druk op die tannie uitgeoefen is om daai brief te (laat) tik.

Van sosiale media gepraat. Gister sien ek ’n aanhaling wat aan ’n Italiaanse skrywer toegedig word. Kragtens my verwerking daarvan lui dit min of meer so: Sosiale media gee idiote die reg om te praat terwyl hulle eens net in ’n kroeg ná ’n glas wyn gepraat het sonder om die gemeenskap seer te maak. Toe is hulle vinnig stilgemaak, maar nou het hulle dieselfde reg as ’n Nobelpryswenner. Dit is ’n inval van idiote.

Is hoe ons ons in die sosiale media gedra wie en soos ons regtig is? Indien nie, wanneer het ons so geword?

Ek hoor die ander aand dat ons waarskynlik nog altyd so was.

Facebook maak nou net seker dat ons almal amptelik weet ons ís so.

Vir ’n nasie wat na bewering meer as 90% uit Christene bestaan, is ons nogal genadeloos.

Volgens my gebrekkige verstaan van die evangelie gaan dit oor onvoorwaardelike liefde. Ek weet darem nie of ons ons selfoondata en Wi-Fi inspan om liefde van ’n onvoorwaardelike aard te verkondig nie. Van ’n blye tyding sien en voel ek maar bra min.

Ek wil egter nie graag preek of neersien nie. Daai reg kom my nie toe nie.

Terselfdertyd sal ek jok as ek sou sê van die meme waarmee Namibiërs in die hitte van elke somber oomblik vorendag kom, is gilf*kkensnaaks. Ons mag genadeloos wees, maar ons is vlymskerp. As ons ondernemingsgees ewe skerp was, sou ons maklik munt kon slaan uit van daai kreatiwiteit.

Maar is die afgelope week se orkaan in ’n blikbeker oordrewe of geregverdig?

Ek reken ons het almal oorgenoeg stof tot oordenking.

Die belangrikste is om ’n pluimpie te gee aan ons regbank en spesifiek die onafhanklikheid van ons howe. Talle van ons was van mening dit sou nooit gebeur dat ’n minister in ’n hof sou beland nie.

In ons wildste drome het baie van ons luid te kenne gegee selfs al sou ’n minister in ’n hof beland, sou die persoon newwer ewwer skuldig bevind word nie.

Ons is mos ook hoeka van mening dat oom Paulus en sy span net jag maak op klein korrupsiekokkedore.

Die storm gaan seker nog lank woed – die Suide se stof loop lê mos nie maklik nie. Maar, en dis my hoop, mag die lesse ewe lank duur. Net dán is dié storm nie verniet nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer